Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Verslag oor regsaangeleenthede

Verslag oor regsaangeleenthede

Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Dink aan dié in gevangenisboeie asof julle saam met hulle geboei is” (Heb. 13:3). As Jehovah se knegte hou ons ons getroue broers en susters voortdurend in gedagte en bid ons aangaande “almal wat ’n hoë posisie beklee, sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”.1 Tim. 2:1, 2, vtn. in NW; Ef. 6:18.

Hier volg ’n paar van die regsgeskille waarvoor Jehovah se Getuies oor die afgelope jaar te staan gekom het:

Ons broers in Rusland gaan ‘sonder ophou voort om te leer en die goeie nuus bekend te maak’ ten spyte van ’n volgehoue kampanje deur die Russies-Ortodokse Kerk en party regeringsamptenare om ons bedrywighede stop te sit (Hand. 5:42). Die Russiese owerheid hou aan om ’n vae wet in verband met ekstremisme, wat oorspronklik bedoel was om terrorisme teë te werk, verkeerdelik toe te pas—op ons publikasies en ons broers as individue. Volgens Russiese howe bevat ongeveer 70 van ons publikasies dus “ekstremistiese” stellings, en regeringsamptenare het hierdie publikasies gevoeg by ’n nasionale lys van verbode ekstremistiese lektuur. Op grond van hierdie sogenaamde gevaar doen party plaaslike owerhede klopjagte op Koninkryksale en die huise van ons broers om die publikasies te vind. Baie Getuies word deur die polisie aangehou, en hulle foto’s en vingerafdrukke word geneem omdat hulle aan die bediening deelneem. En die polisie probeer dikwels ons broers intimideer terwyl hulle by die polisiestasie aangehou word.

Vanaf Mei 2013 het 16 broers en susters in die stad Taganrog voor die hof verskyn omdat hulle Christelike vergaderinge organiseer, bywoon en daaraan deelneem en die predikingswerk doen. Dit is die eerste keer sedert die val van die Sowjetunie dat kriminele aanklagte teen Getuies ingebring is omdat hulle hulle geloof beoefen. Owerhede op ander plekke in Rusland probeer die howe oorreed om ons lektuur as “ekstremisties” te verklaar en probeer ons broers aankla as misdadigers wat skuldig is aan godsdienshaat.

Die toestande wat ons broers en susters in Eritrea moet verduur, het nie verbeter nie. In Julie 2013 was daar 52 in die gevangenis, insluitende agt broers wat ouer as 70 is sowel as ses susters. Drie broers, Paulos Eyassu, Isaac Mogos en Negede Teklemariam, is al sedert 24 September 1994 in die gevangenis vir hulle neutrale standpunt ten opsigte van militêre diens.

Meer as die helfte van die gevangenes is in die Meiter-gevangeniskamp, wat in die woestyngebied noord van die hoofstad, Asmara, geleë is. Van Oktober 2011 tot Augustus 2012 het die owerheid 25 van ons broers gestraf deur hulle in ’n sinkgebou op te sluit wat gedeeltelik onder die grond is. In die somer laat die wagte die gevangenes gedurende die dag uit, aangesien die gebou bloedig warm raak. Maar die broers kry nie genoeg kos en water nie, en hulle gesondheid ly baie daaronder. Dit is tragies dat Yohannes Haile, ’n 68-jarige broer, in Augustus 2012 weens hierdie mishandeling gesterf het, soos die geval was met broer Misghina Gebretinsae in 2011.