Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Nuus van regoor die wêreld

Nuus van regoor die wêreld

Die polisie het gehelp om die blokke af te laai

In Koetaisi, die tweede grootste stad in die Republiek van Georgië, is byeenkomste 13 jaar in ’n bouvallige, ou sjampanjefabriek gehou. Plastiekseile is bo die sitplekke gehang om te keer dat reënwater op die gehoor val. Nou het die broers ’n geskikte, nuwe opelugkoninkryksaal wat vir kring- en streekbyeenkomste vergroot kan word. Toe 50 vrywilligers gedurende die bouwerk sementblokke van ’n vragmotor afgelaai het, het polisiemanne daar aangekom om te sien wat aan die gang is. Die polisiemanne was beïndruk met die vreugde en vlytigheid van die werkers en het hulle daarvoor geprys, en toe het hulle gehelp om die blokke af te laai. Hulle het vir die broers gesê om hulle te roep as enigiemand hulle pla. Die polisiemanne het belowe om die eerste byeenkoms by te woon wat in die nuwe Byeenkomssaal gehou word.

Hy het sy fiets verkoop

Malachi, ’n ouer man wat in Burundi woon, het ’n bestaan gemaak as ’n boer en deur vragte op sy fiets te vervoer. Om te help met die bou van hulle Koninkryksaal, het Malachi besluit om elke dag by die bouterrein te gaan werk. Om dit te doen, het hy geld nodig gehad om gedurende die twee maande van die bouwerk vir sy gesin te sorg. Hy het dus sy fiets verkoop, van die geld vir sy vrou gegee om in sy gesin se behoeftes te voorsien en die res daarvan in die bydraebussie gegooi om te help met die boukoste. As gevolg van sy pogings het hy goeie opleiding by die Koninkryksaalbouknegte ontvang. Nadat die Koninkryksaal voltooi is, kon Malachi bouwerk kry omdat mense gesien het wat ’n goeie bouer hy is. Intussen kon Malachi weer vir hom ’n fiets koop!

Hulle is beweeg om te help

Die bou van Koninkryksale in afgeleë dele van Malawi bied unieke uitdagings. Gedurende die afgelope diensjaar is ’n saal gebou in ’n gebied waar die paaie baie sleg is. Broers van die takkantoor het vierwielaangedrewe voertuie gebruik om boumateriaal na die bouterrein te vervoer. Die plaaslike broers het gesê dat mense in die gemeenskap baie in die projek belanggestel het. Baie mense in die gebied wat nie Getuies is nie, het aangebied om te help en het tot laat in die aand gewerk om sand, breekklip, sakke sement en ysterdakplate af te laai. Trouens, soms was daar meer mense wat nie Getuies is nie as Getuies! Die plaaslike inwoners was so beïndruk dat Jehovah se Getuies waardige plekke van aanbidding in afgeleë gebiede soos hulle s’n bou dat hulle beweeg is om te help.

Die kinders het toffie verkoop

’n Spesialepionier-egpaar in Côte d’Ivoire studeer die Bybel in die plaaslike taal, Bete, met ’n egpaar wat tien kinders het. Die eerste byeenkoms in Bete sou in Mei 2013 in die dorp Daloa gehou word, en die hele gesin wou dit bywoon. Maar die heen- en terugreis was 800 CFA (R16,00) per persoon, en die pa kon nie die reisgeld vir sy groot gesin bekostig nie. Hy was vasbeslote om dit by te woon, en daarom het hy met ’n plan vorendag gekom. Hy het vir sy oudste dogter 300 CFA (R6,00) gegee en voorgestel dat sy toffie verkoop. Sy het dit gedoen en het genoeg wins gemaak om haar reisgeld te betaal. Die pa het dieselfde met die ander kinders gedoen—hy het vir elkeen 300 CFA gegee om ’n klein toffiebesigheid te begin, totdat hulle almal genoeg geld gehad het om hulle reisgeld te betaal. Uiteindelik het hulle, tesame met ander, die byeenkoms bygewoon. Hoe verheug was hulle tog om na die program in hulle moedertaal te luister!