Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Toewydings van takkantore

Toewydings van takkantore

Op 20 Oktober 2012 was Jehovah se Getuies in Korea verheug toe hulle opgeknapte en nuutgeboude takkantoorfasiliteite aan Jehovah toegewy is. Die gebeurtenis was veral betekenisvol omdat die broers op 100 jaar van getroue diens kon terugkyk. Wat meer is, in 2012 het die aantal verkondigers vir die eerste keer die 100 000-merk oorskry. Ongeveer 1 200 plaaslike vrywilligers en 239 internasionale knegte en vrywilligers uit nege lande het ’n nuwe woongebou, ’n drukkery, oudio-/video-ateljees en ’n motorwerkswinkel gebou. En die meeste van die bestaande geboue is heeltemal opgeknap.

Anthony Morris, ’n lid van die Bestuursliggaam, het ’n aanmoedigende toewydingstoespraak gehou vir die 3 037 broers en susters wat teenwoordig was. Die volgende dag is ’n spesiale vergadering in ’n groot vertoonsaal gehou, en meer as 1 300 gemeentes in Korea is oor die Internet met die program verbind. Altesaam 115 782 Getuies van Jehovah en belangstellendes het die wonderlike geestelike program geniet.

Die 9de Maart 2013 sal lank onthou word as ’n mylpaal in die geskiedenis van Jehovah se aanbidders in Liberië. Besoekers uit 11 lande het bymekaargekom vir die toewyding van die takkantoor wat kort tevore opgeknap en vergroot is. Almal was verheug om te luister na die toewydingstoespraak deur Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam. Nadat ’n burgeroorlog van meer as ’n dekade die beplanning en bouwerk vertraag het, is die takkantoor vergroot, en nou sluit dit ’n aangrensende eiendom in wat voorheen deur rebelle as ’n wegkruipplek en vlugtelingkamp gebruik is. Die 51 lede van die Bethelgesin is bly oor die woongebou met 35 kamers, die opgeknapte kantoorgebou, die nuwe versendingspakhuis, die nuwe instandhoudingsgebou en die nuwe kombuis en eetsaal.

In die Republiek van Georgië is daar talle hartlike, geestelikgesinde mense. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie was daar ’n tydperk van buitengewone teokratiese groei gevolg deur ’n tydperk van hewige vervolging. Die teenstand het grootliks afgeneem, en op Saterdag 6 April 2013 is ’n groot mylpaal in die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Georgië bereik, toe David Splane van die Bestuursliggaam die toewydingstoespraak gehou het vir ’n opgeknapte en vergrote takkantoorkompleks, ’n Byeenkomssaal en ’n nuwe Bybelskoolfasiliteit waar die Skool vir Koninkryksevangeliedienaars sowel as die Skool vir Reisende Opsieners en hulle Vrouens gehou sal word. Altesaam 338 gaste uit 24 lande het by die meer as 800 Getuies van Georgië vir die toewydingsprogram aangesluit.

Georgië

Die volgende dag het 15 200 deur middel van oudio- of videoverbinding by gemeentelike vergaderplekke regoor Georgië na broer Splane se spesiale toespraak geluister. Hierdie internasionale geleentheid was vir baie mense hartroerend. ’n Jong broer het gesê: “Nou weet ek hoe die nuwe wêreld gaan wees.”

Op 29 Junie 2013 is ’n nuwe drieverdieping-kantoorgebou by die Bethelfasiliteite in Jangon, Mianmar, toegewy. Guy Pierce van die Bestuursliggaam het die toewydingstoespraak gehou voor ’n gehoor van 1 013, wat gaste uit 11 ander lande ingesluit het. Die groep broers en susters van Mianmar wat aangestel is om hierdie gaste by die Jangon-Internasionale Lughawe te verwelkom, is deur ’n man genader wat van ’n land kom waar die werk van Jehovah se Getuies verbied is. Hy het na die “Welkom Jehovah se Getuies”-tekens wat hulle vasgehou het, gewys en gevra: “Verwelkom julle getuies vir die een of ander hofsaak?” “Nee, ons verwelkom ons vriende”, het hulle geantwoord. “Wie is hierdie Jehovah dan?” het die man gevra. Die broers en susters het hom natuurlik ’n goeie getuienis gegee. Die dag ná die toewydingsprogram is ’n spesiale vergadering gehou by die Mianmar Konferensiesentrum, waar broer Pierce ’n toespraak gehou het met die tema: “Dien Jehovah met ’n verstandige hart.” Ses ander plekke regoor Mianmar is per telefoon verbind wat dit vir altesaam 2 963 moontlik gemaak het om na die tydige inligting te luister. Een van die busbestuurders wat ’n groep van die plaaslike broers en susters na die spesiale vergadering in Jangon vervoer het, het gesê: “Ek het opgemerk dat julle heeltemal anders is as ander godsdienste. Julle is goedgemanierd, netjies geklee en baie vriendelik. Ek vervoer al jare lank busgroepe, maar ek het nog nooit sulke ordentlike mense ontmoet nie!”

Mianmar: Plaaslike verkondigers verwelkom besoekers by die toewydingsprogram van die takkantoor

Jehovah se lojale knegte in Moldowa het op Woensdag 3 Julie 2013 goeie rede gehad om hulle te verbly toe Stephen Lett van die Bestuursliggaam die toewydingstoespraak gehou het vir die takkantoorfasiliteite wat kort tevore vergroot is. Die deel wat bygevoeg is, sluit ’n drieverdiepinggebou met ’n lektuurdepot en tien kamers in, sowel as ’n tweeverdieping-Koninkryksaal wat deur sewe gemeentes gebruik word. Die 33 lede van die Bethelgesin in Moldowa was bly om besoekers van Duitsland, Ierland, Nederland, Roemenië, Rusland, die Oekraïne en die Verenigde State te verwelkom. ’n Aantal broers en susters wat Jehovah getrou gedien het terwyl die werk verbied was, was ook teenwoordig, en party van hulle het destyds gehelp om afskrifte van lektuur te maak en dit te versprei. Baie van hulle was saam met hulle ouers na Siberië verban gedurende die verskillende veldtogte teen Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie. Op die Sondag het broer Lett ’n besielende toespraak gehou wat in Roemeens en Russies getolk is vir ’n gehoor van 14 705—die grootste samekoms van Jehovah se Getuies wat nog ooit in Moldowa gehou is.

Hou aan bid en moenie moed opgee nie

Jesus het die belangrikheid daarvan beklemtoon om te “bid en nie moed op te gee nie” (Luk. 18:1). Wanneer jy bid, versterk jy jou hoop. “Bid [dus] onophoudelik”, ja, “hou vol met gebed” (1 Tess. 5:17; Rom. 12:12). “Mag die God van vrede, . . . [jou dan] met alle goeie dinge toerus om sy wil te doen en deur middel van Jesus Christus in [jou] verrig wat in sy oë welbehaaglik is.”Heb. 13:20, 21.