Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Hulle is lief vir hulle broers

Hulle is lief vir hulle broers

’n Nuwe skool help om in ’n toenemende behoefte te voorsien

Jehovah het die harde werk van sy knegte in die Dominikaanse Republiek geseën. In 1994 was daar gemiddeld 16 354 Koninkryksverkondigers in 259 gemeentes. Weens hierdie opwindende vermeerdering was daar ’n toenemende behoefte aan bekwame ouer manne en bedieningsknegte. In dieselfde jaar het die Bestuursliggaam goedkeuring gegee om die Bedieningsopleidingskool, wat nou deur die Skool vir Koninkrykspredikers vervang is, in die Dominikaanse Republiek te hou.

Teen Oktober 2011 was daar sowat 600 gegradueerdes uit die 25 klasse wat in die land gehou is. Tans dien nog meer as die helfte van hulle in die een of ander vorm van voltydse diens, 71 as spesiale pioniers en 5 as kringopsieners. Die eerste tien klasse van die skool is by die takkantoor gehou, maar vanaf die elfde klas word die skool by ’n fasiliteit in Villa González gehou.

“Jehovah se Getuies sien om na hulle broers”

Op 22 September 1998 het die orkaan Georges die Dominikaanse Republiek getref, met winde van 190 kilometer per uur wat ontsaglike skade aangerig het. Duisende is haweloos gelaat, en meer as 300 het gesterf. ’n Noodlenigingskomitee het met die hulp van ’n Streekboukomitee ’n noodlenigingsentrum by ’n Koninkryksaal in La Romana ingerig. Ongeveer 300 vrywilligers het met die noodlenigingswerk gehelp, insluitende Getuies van 16 ander lande.

Altesaam 23 Koninkryksale en meer as 800 huise van ons broers en susters moes herstel of herbou word. Byvoorbeeld, Carmen, ’n bejaarde gewone pionier, was verpletterd toe die orkaan die huis waarin sy 38 jaar gewoon het, vernietig het. Maar sy was oorstelp van vreugde toe ’n span van 15 broers daar aangekom het om die fondasie van haar nuwe huis te lê. “Jehovah vergeet nooit van ons nie”, sê Carmen, “en hy sien om na ons. Kyk na hierdie pragtige huis wat die broers vir my bou. My bure het gesê: ‘Jehovah se Getuies sien om na hulle broers; hulle is werklik lief vir mekaar.’” Regoor die land is soortgelyke kommentare gehoor terwyl noodlenigingswerkers hulle getraumatiseerde broers en susters gehelp het.

Hoewel die orkaan Georges ’n groot ramp was, het die liefdevolle pogings van Jehovah se volk fisiese verligting en geestelike vertroosting gebied aan ons broers wat slagoffers van hierdie storm was. Nog belangriker, die selfopofferende inspanning van die vrywilligers het Jehovah, die bron van ware vertroosting, verheerlik.

Al hoe meer Koninkryksale word gebou

Weens die instroming van nuwe dissipels was daar ’n groter behoefte aan meer Koninkryksale. Die broers in die Dominikaanse Republiek het dus in November 2000 Koninkryksale onder die program vir lande met beperkte middele begin bou. Gevolglik kan ’n gemeente ’n gerieflike en aantreklike Koninkryksaal in omtrent agt weke oprig. Teen September 2011 het twee bougroepe sowat 145 Koninkryksale gebou of herstel.

Hierdie geboue sowel as die bouvrywilligers het ’n kragtige getuienis gelewer. Byvoorbeeld, in ’n klein dorp in die noordweste van die land het die broers ’n moontlike perseel vir ’n nuwe Koninkryksaal gevind. ’n Spesiale pionier het die eienaar gevra of hulle die stuk grond kan koop. “Moenie julle tyd mors nie”, het die man geantwoord. “Ek sal nie hierdie grond aan julle verkoop nie, veral nie as julle ’n kerk daarop gaan bou nie.”

Kort ná hierdie gesprek het die eienaar sy bejaarde broer wat een van Jehovah se Getuies is, in Puerto Plata gaan besoek. Daar het hy uitgevind dat ’n Getuiegesin sy sieklike broer in hulle huis ingeneem het om hom te versorg. Die gesin het hom na die dokter, na die vergaderinge en uit in velddiens geneem. Die man het sy broer gevra hoeveel hy vir al die versorging betaal. Hy het gesê: “Ek betaal niks nie. Hulle is my broers.”

“Dit is die mees verenigde en goedhartigste groep mense wat ek nog ooit gesien het”

Die uitsonderlike goedhartigheid van die Getuies het die eienaar se hart so geraak dat hy die spesiale pionier wat vroeër met hom in verbinding getree het, gebel het en vir hom gesê het dat hy van gedagte verander het en bereid is om die grond te verkoop. Die broers het die grond gekoop en die saal begin bou. Die eienaar se vrou het voorheen ’n baie negatiewe beskouing van Jehovah se Getuies gehad. Maar toe sy sien hoe die broers op die bouterrein saamwerk, het sy gesê: “Dit is die mees verenigde en goedhartigste groep mense wat ek nog ooit gesien het.”