Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Opwindende vooruitsigte

Opwindende vooruitsigte

’n Goeie reputasie

Jehovah se Getuies is nou al ongeveer sewe dekades lank in die Dominikaanse Republiek. Gedurende hierdie tyd het hulle ’n baie goeie reputasie opgebou. Mense kom vra die verkondigers dikwels vir lektuur in die bediening en sê dinge soos: “Ek hou van hierdie godsdiens” of “Julle lewe regtig volgens die Bybel”.

Kyk byvoorbeeld na wat gebeur het toe ’n Koninkryksaal op ’n stuk grond gebou is wat deur ’n broer geskenk is. Toe die broer die perseel gaan registreer, het hy uitgevind dat iemand anders dit wederregtelik geregistreer het, en daardie persoon het die broer daarvan beskuldig dat hy die eiendom van hom probeer wegneem. Die saak is voor die hof gebring. Dit was ’n moeilike saak omdat die persoon dokumente gehad het wat beweer het dat die eiendom op sy naam is.

Op een stadium het die regter die broer se prokureur gevra wie hy verteenwoordig. Toe die prokureur verduidelik dat hy optree namens ’n vereniging wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, het die regter gesê: “As dit die geval is, is daar geen rede om te twyfel dat hierdie bewerings waar is nie. Ek ken Jehovah se Getuies, en ek weet goed dat hulle eerlik is. Hulle sou nooit iemand probeer bedrieg en neem wat nie aan hulle behoort nie.”

Toe die bewyse aan die hof voorgelê is, was dit duidelik dat die gedagvaarde vervalste dokumente gebruik het, en daarom het die regter ten gunste van die Getuies beslis. “Dit is nie ’n uitsonderlike geval nie”, het die Getuie-prokureur gesê. “Wanneer Jehovah se Getuies in ’n hof in die land genoem word, toon die reaksie altyd dat mense diep respek vir ons het.”

Goeie potensiaal vir groei

Ons weet nog nie hoeveel regverdiggesinde mense in die toekoms Bybelwaarhede sal leer en aanbidders van die ware God sal word nie. Maar intussen word daar baie moeite gedoen om hierdie mense te bereik. Byvoorbeeld, in 2013 het Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek meer as 11 miljoen uur aan die predikingswerk bestee, en hulle het 71 922 Bybelstudies gehou. Dit was ook baie aanmoedigend om te sien dat 9 776 aan die een of ander vorm van die pionierdiens deelgeneem het. In Augustus van dieselfde jaar het 35 331 verkondigers aan die predikingswerk deelgeneem. Wat meer is, daar is goeie potensiaal vir toekomstige groei, want 127 716 het die Gedenkmaal bygewoon.

Die predikings- en dissipelmaakwerk in die Dominikaanse Republiek het ver gevorder sedert daardie Sondag in April 1945 toe Lennart en Virginia Johnson daar aangekom het en die goeie nuus van die Koninkryk begin verkondig het. Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek stel hulle ryk geestelike erfenis hoog op prys. Hulle waardeer die moedige opofferings van vorige geslagte van ware aanbidders. Maar hulle waardeer die voorreg wat hulle nou het om “deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig”, selfs meer (Hand. 28:23). Hulle sien uit na die tyd wanneer almal op hierdie eiland saam met hulle medeaanbidders regoor die wêreld sal sing: “Jehovah het koning geword! Laat die aarde bly wees. Laat die baie eilande hulle verbly.”—Ps. 97:1.