Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Dit is wat u goedgevind het’

‘Dit is wat u goedgevind het’

“U [het] hierdie dinge sorgvuldig vir die wyse en intellektuele mense verberg . . . en dit aan klein kindertjies geopenbaar.”—LUKAS 10:21.

1. Waarom het Jesus “[oorgeloop] van vreugde in die heilige gees”? (Sien prent aan begin van artikel.)

STEL jou voor dat jy gesien het hoe Jesus “oorloop van vreugde in die heilige gees”. Dalk het hy breed geglimlag en kon jy die opgewondenheid in sy oë sien. Maar waarom het hy oorgeloop van vreugde? Hy het ’n rukkie tevore 70 van sy dissipels uitgestuur om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Hy was gretig om uit te vind hoe sy dissipels hulle toewysing sou uitvoer, aangesien daar talle magtige vyande van die goeie nuus was. Hierdie vyande het die skrifgeleerdes en Fariseërs ingesluit, wat hooggeleerd en slim was. Hulle wou hê dat mense Jesus bloot moet beskou as ’n timmerman, en sy dissipels as “ongeleerde en gewone mense” (Handelinge 4:13; Markus 6:3). Maar toe die dissipels van hulle toewysing af terugkeer, het hulle oorgeloop van vreugde. Hulle het gepreek ten spyte van teenstand, selfs van die demone! Wat het hulle gehelp om vreugdevol en moedig te bly?—Lees Lukas 10:1, 17-21.

God se volk het hulle onderrigting verbeter deur dit eenvoudiger en duideliker te maak

2. (a) Hoe was Jesus se dissipels soos kinders? (b) Wat het Jesus se dissipels gehelp om diep Bybelwaarhede te verstaan?

2 Jesus het vir Jehovah gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het. Ja, o Vader, want u het dit goedgevind om só te handel” (Matteus 11:25, 26). Waarom het Jesus sy dissipels klein kindertjies genoem? Omdat hulle, soos kinders, gretig was om te leer en nie soos die hooggeleerde skrifgeleerdes en Fariseërs was wat gedink het dat hulle wys is nie. Hulle het geleer om nederig te wees, nie trots nie (Matteus 18:1-4). Omdat hulle nederig was, het Jehovah hulle deur middel van sy heilige gees gehelp om diep Bybelwaarhede te verstaan. Maar die trotse Joodse godsdiensleiers is deur Satan en hulle eie trots verblind.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Geen wonder dat Jesus so vreugdevol was nie! Hy was bly om te sien hoe Jehovah diep Bybelwaarhede aan nederige mense geopenbaar het, of hulle nou geleerd was of nie. God het dit goedgevind om mense op hierdie wyse te onderrig, en God het nie verander nie. Hoe toon hy dat hy dit nog steeds goedvind om mense so te onderrig? In hierdie artikel sal ons uitvind hoe Jehovah diep Bybelwaarhede vandag aan nederige mense openbaar.

DIEP WAARHEDE WORD AAN ALMAL VERDUIDELIK

4. Hoe het baie baat gevind by die vereenvoudigde uitgawe van Die Wagtoring?

4 In onlangse jare het God se organisasie die belangrikheid daarvan beklemtoon om op ’n eenvoudiger en duideliker manier te onderrig. Kom ons bespreek drie voorbeelde. Eerstens is daar die vereenvoudigde uitgawe van Die Wagtoring in party tale. * (Sien voetnoot.) Dit is ’n gawe wat baie mense al gehelp het, insluitende diegene wat sukkel om ’n taal te lees of te verstaan. Ouers vind dat hulle kinders Die Wagtoring beter verstaan danksy die vereenvoudigde uitgawe. Baie het briewe van waardering geskryf. ’n Suster het gesê dat sy voorheen bang was om by die Wagtoring-studie te antwoord. Maar dit is nie meer die geval nie! Nadat sy die vereenvoudigde uitgawe begin gebruik het, het sy geskryf: “Nou antwoord ek meer as een keer, en ek is nie meer bang nie! Ek dank Jehovah en julle.”

5. Wat is van die voordele van die hersiene uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif?

5 Tweedens is daar die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat in Engels vrygestel is by die jaarvergadering op 5 Oktober 2013. * (Sien voetnoot.) Baie verse het nou minder woorde, maar die betekenis het nie verander nie en dit is makliker om te verstaan. Byvoorbeeld, Job 10:1 het nou 19 woorde in plaas van 27 en Spreuke 8:6 het 13 woorde in plaas van 20. Albei verse is verstaanbaarder in die nuwe uitgawe. ’n Gesalfde broer wat Jehovah al jare lank getrou dien, het gesê: “Ek het die boek Job in die nuwe uitgawe gelees, en dit voel asof ek dit vir die eerste keer verstaan!” Baie het iets soortgelyks gesê.

6. Hoe voel jy oor ons duideliker begrip van Matteus 24:45-47?

6 Derdens kan ons dink aan onlangse verfynings in ons begrip van sekere tekste. Byvoorbeeld, ’n duideliker begrip van “die getroue en verstandige slaaf” is in Die Wagtoring van 15 Julie 2013 gepubliseer (Matteus 24:45-47). Hierdie artikel het verduidelik dat die getroue slaaf die Bestuursliggaam is. En die “huisknegte” verwys na die gesalfdes en die “ander skape”, wat almal deur die getroue slaaf van voedsel voorsien word (Johannes 10:16). Ons geniet dit om hierdie waarhede te leer en om dit aan ander te leer! Op watter ander maniere het Jehovah getoon dat hy dit goedvind om mense op ’n eenvoudige en duidelike manier te onderrig?

’N EENVOUDIGER VERDUIDELIKING VAN BYBELVERSLAE

7, 8. Noem ’n paar voorbeelde van Bybelverslae wat iets groters in die toekoms voorgestel het.

7 As jy Jehovah al jare lank dien, het jy waarskynlik gesien dat ons lektuur party Bybelverslae nou op ’n ander manier verduidelik. In die verlede is daar dikwels gesê dat party verslae iets groters in die toekoms voorstel. Die verslag self is die tipe genoem. Wat deur die tipe voorgestel is, is die antitipe genoem. Is daar goeie redes om Bybelverslae op hierdie manier te verduidelik? Ja. Jesus het byvoorbeeld verwys na “die teken van die profeet Jona”. (Lees Matteus 12:39, 40.) Jesus het verduidelik dat die tyd wat Jona in die maag van die vis was, die tyd voorgestel het wat Jesus in die graf sou wees.

Dit versterk ons geloof wanneer ons ’n studie maak van Bybelverslae en wat dit voorstel

8 Daar is ook ander Bybelverslae wat iets groters in die toekoms voorgestel het. Die apostel Paulus het ’n hele paar hiervan beskryf. Byvoorbeeld, Abraham se verhouding met Hagar en Sara het Jehovah se verhouding met die nasie Israel en die hemelse deel van God se organisasie voorgestel (Galasiërs 4:22-26). Die tabernakel, die tempel, die Versoendag, die hoëpriester en ander elemente van die Wet was eweneens “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” (Hebreërs 9:23-25; 10:1). Dit versterk ons geloof wanneer ons ’n studie maak van hierdie Bybelverslae en wat dit voorstel. Maar beteken dit dat elke persoon, gebeurtenis en voorwerp wat in die Bybel beskryf word, iemand of iets voorstel?

9. Hoe is die Bybelverslag van Nabot in die verlede verduidelik?

9 In die verlede het ons lektuur dikwels verduidelik dat elke persoon, gebeurtenis of voorwerp in sekere verslae iemand of iets voorstel. Byvoorbeeld, die goddelose koningin Isebel het Nabot laat teregstel sodat haar man, Agab, Nabot se wingerd kon kry (1 Konings 21:1-16). In 1932 het The Watchtower verduidelik dat Agab en Isebel Satan en sy organisasie voorstel, dat Nabot Jesus voorstel en dat Nabot se dood Jesus se teregstelling voorstel. Maar in 1961 het die boek “Laat u naam geheilig word” gesê dat Nabot die gesalfdes voorstel en dat Isebel die Christendom voorstel. Dit het ook gesê dat Isebel se vervolging van Nabot die vervolging van die gesalfdes gedurende die laaste dae voorstel. Hierdie verduidelikings het die geloof van God se volk jare lank versterk. Waarom word verslae dan nou op ’n ander manier verduidelik?

10. (a) In watter opsig is die getroue slaaf versigtiger wanneer hulle sekere Bybelverslae verduidelik? (b) Waarop vestig ons lektuur vandag die aandag?

10 Deur die jare heen het Jehovah “die getroue en verstandige slaaf” gehelp om verstandiger, of versigtiger, te word. In watter opsig? Die getroue slaaf sê nou slegs dat ’n Bybelverslag iets groters voorstel as daar ’n duidelike skriftuurlike rede is om dit te doen. Party ouer verduidelikings van tipes en antitipes was moeilik om te verstaan, te onthou en toe te pas. Nog belangriker, toe te veel klem geplaas is op die groter betekenis wat Bybelverslae moontlik het, het die sedelike of praktiese lesse verlore gegaan. Vandag vestig ons lektuur dus eerder die aandag op eenvoudige, praktiese lesse oor geloof, volharding, godvrugtige toegewydheid en ander waardevolle eienskappe wat ons uit Bybelverslae kan leer. *—Sien voetnoot.

Nabot se voorbeeld leer ons ’n kragtige les (Sien paragraaf 11)

11. (a) Hoe verstaan ons die verslag van Nabot nou, en hoe help sy voorbeeld ons? (b) Waarom het ons lektuur in onlangse jare selde melding gemaak van tipes en antitipes? (Sien “Vrae van lesers” in hierdie nommer.)

11 Ons begrip van die verslag oor Nabot is nou duideliker en eenvoudiger. Nabot het nie gesterf omdat hy Jesus of die gesalfdes voorgestel het nie. Hy het eerder gesterf omdat hy vasbeslote was om getrou aan God te bly. Hy het gehoorsaam gebly aan Jehovah se Wet ten spyte van wrede vervolging deur ’n magtige heerser (Numeri 36:7; 1 Konings 21:3). Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir al God se knegte wat vandag dalk soortgelyke vervolging verduur! (Lees 2 Timoteus 3:12.) Alle Christene kan hierdie les verstaan, onthou en toepas en sodoende hulle geloof versterk.

12. (a) Watter gevolgtrekking moet ons nie oor Bybelverslae maak nie? (b) Waarom kan ons selfs diep dinge duidelik verstaan? (Sien voetnoot.)

12 Moet ons tot die gevolgtrekking kom dat Bybelverslae net praktiese lesse bevat en geen ander betekenis het nie? Nee. Maar pleks van party Bybelverslae as tipes en antitipes te verduidelik, vestig ons publikasies die aandag nou eerder op hoe een Bybelverslag verband hou met ’n ander. Byvoorbeeld, Nabot se onkreukbaarheid ten spyte van vervolging en die dood herinner ons wel aan die onkreukbaarheid van Christus en die gesalfdes. Maar dit herinner ons ook aan die onkreukbaarheid van baie van die “ander skape”. Ons kan duidelik sien dat Jehovah ons op ’n eenvoudige manier onderrig. *—Sien voetnoot.

’N EENVOUDIGER VERDUIDELIKING VAN JESUS SE ILLUSTRASIES

13. Watter voorbeelde toon dat ons party van Jesus se illustrasies nou op ’n eenvoudiger, duideliker manier verduidelik?

13 Jesus Christus was die grootste Leermeester wat nog ooit gelewe het. Hy het daarvan gehou om illustrasies, of voorbeelde, te gebruik om te onderrig (Matteus 13:34). Illustrasies is doeltreffend omdat dit moeilike gedagtes verduidelik op ’n eenvoudige manier wat ons kan laat dink en ons hart kan raak. Oor die jare het ons lektuur Jesus se illustrasies op ’n al hoe duideliker en eenvoudiger manier verduidelik. Byvoorbeeld, Die Wagtoring van 15 Julie 2008 help ons om Jesus se illustrasies van die suurdeeg, die mosterdsaadjie en die sleepnet beter te verstaan. Nou verstaan ons dat hierdie illustrasies verwys na God se Koninkryk en na die feit dat dit baie mense gehelp het om hierdie goddelose wêreld te verwerp en dissipels van Christus te word.

Illustrasies is doeltreffend omdat dit moeilike gedagtes verduidelik op ’n eenvoudige manier wat ons kan laat dink en ons hart kan raak

14. (a) Hoe het ons die gelykenis van die barmhartige Samaritaan voorheen verduidelik? (b) Hoe verstaan ons Jesus se gelykenis nou?

14 Hoe kan ons die ingewikkelder verhale, of gelykenisse, verstaan wat Jesus vertel het? Party van hierdie verhale is simbolies of profeties. Ander bevat ’n praktiese les. Maar hoe kan ons weet watter verhale simbolies is en watter nie? Oor die jare het die antwoord duideliker geword. Dink byvoorbeeld aan die manier waarop ons Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan voorheen verduidelik het (Lukas 10:30-37). In 1924 het The Watch Tower gesê dat die Samaritaan Jesus voorstel en dat die pad wat van Jerusalem na Jerigo afgaan, die verslegtende toestand van die mens sedert die opstand in Eden voorstel. Dit het ook gesê dat die diewe op die pad groot maatskappye en gierige sakemanne voorstel en dat die priester en die Leviet die Christendom voorstel. Maar vandag gebruik ons lektuur hierdie illustrasie om alle Christene daaraan te herinner om nie bevooroordeeld te wees nie. Ons moet aan almal hulp voorsien, veral geestelike hulp deur hulle die waarheid omtrent God te leer. Dit verskaf ons vreugde om te sien hoe Jehovah die waarheid duidelik maak.

15. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

15 In ons volgende artikel sal ons Jesus se gelykenis van die tien maagde bespreek (Matteus 25:1-13). Hoe wou Jesus hê moet sy volgelinge hierdie kragtige illustrasie in die laaste dae verstaan? Stel elke persoon, voorwerp of gebeurtenis in die illustrasie iets of iemand groter in die toekoms voor? Of wou hy hê dat ons praktiese lesse moet leer wat ons gedurende die laaste dae sou help? Kom ons kyk.

^ par. 4 Die vereenvoudigde uitgawe word sedert Julie 2011 in Engels uitgegee. Sedertdien is die vereenvoudigde uitgawe ook in ’n paar ander tale beskikbaar gestel.

^ par. 5 Die hersiene uitgawe sal ook in ander tale uitgegee word.

^ par. 10 Byvoorbeeld, die boek Volg hulle geloof na bespreek die lewe van 14 verskillende Bybelkarakters. Die boek vestig die aandag op praktiese lesse, nie op tipes of antitipes nie.

^ par. 12 God se Woord bevat ook dinge wat “moeilik is om te verstaan”, soos party dele van Paulus se geskrifte. Maar al die Bybelskrywers is deur heilige gees geïnspireer. God se gees help ware Christene van vandag om die Bybel, insluitende “selfs die diep dinge van God”, te verstaan.—2 Petrus 3:16, 17; 1 Korintiërs 2:10.