Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan teen Satan stry—en oorwin!

Jy kan teen Satan stry—en oorwin!

“Weerstaan [Satan], vas in die geloof.” —1 PETRUS 5:9.

1. (a) Waarom is dit veral nou belangrik om teen Satan te stry? (b) Hoe weet ons dat ons die stryd teen Satan kan wen?

SATAN voer ’n stryd teen die gesalfdes wat nog op die aarde is en teen die “ander skape” (Johannes 10:16). In die kort tydjie wat die Duiwel oorhet, wil hy die geloof vernietig van soveel van Jehovah se knegte as moontlik. (Lees Openbaring 12:9, 12.) Maar ons kan die stryd teen Satan wen. Die Bybel sê: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—Jakobus 4:7.

2, 3. (a) Waarom wil Satan hê dat mense moet glo dat hy nie bestaan nie? (b) Hoe weet jy dat Satan werklik bestaan?

2 Die blote idee dat Satan bestaan, is vir baie mense lagwekkend. Hulle dink dat Satan en die demone karakters is wat slegs in boeke, gruwelrolprente en videospeletjies voorkom. Sulke mense meen dat intelligente mense nie sal glo dat bose geeste bestaan nie. Maak dit vir Satan saak as mense glo dat hy en sy demone nie werklik bestaan nie? Nee. Dit is makliker vir Satan om mense te bedrieg wat twyfel of hy bestaan (2 Korintiërs 4:4). Satan bevorder in werklikheid sulke idees sodat hy mense kan mislei.

3 As Jehovah se knegte word ons nie mislei nie. Ons weet dat die Duiwel werklik bestaan. Hoe weet ons dit? Die Bybel sê vir ons dat Satan deur ’n slang met Eva gepraat het (Genesis 3:1-5). Satan het ook met Jehovah gepraat toe hy Job se beweegredes bevraagteken het (Job 1:9-12). Hy het Jesus probeer versoek (Matteus 4:1-10). En nadat Jesus in 1914 Koning geword het, het Satan “oorlog [begin] voer” teen die oorblywende gesalfdes op die aarde (Openbaring 12:17). Hierdie oorlog sal voortduur so lank as wat die Duiwel die geloof van die gesalfdes en die ander skape probeer vernietig. Om hierdie stryd te wen, moet ons vasstaan teen Satan en ons geloof sterk hou. Hierdie artikel bespreek drie maniere waarop ons dit kan doen.

VERWERP TROTS

4. Waarom is Satan die vernaamste voorbeeld van trots?

4 Satan is uiters trots. Hierdie bose engel het dit gewaag om God se reg om te regeer, te bevraagteken, en hy het ander sover probeer kry om hom pleks van Jehovah te aanbid. Daarom is hy die vernaamste voorbeeld van trots en verwaandheid. Een manier waarop ons dus teen Satan kan stry, is om trots te verwerp en om nederig te wees. (Lees 1 Petrus 5:5.) Maar wat is trots? Is dit altyd sleg?

5, 6. (a) Is trots altyd sleg? Verduidelik. (b) Watter soort trots is gevaarlik, en watter Bybelvoorbeelde lig dit toe?

5 Volgens een woordeboek is trots ’n gevoel van selfvertroue en selfrespek. Dit is ook “’n gevoel van tevredenheid omdat jy, of mense na aan jou, iets goeds gedoen het of iets goeds besit”. Dit is nie verkeerd om so te voel nie. Die apostel Paulus het vir die broers in Tessalonika gesê: “Ons [beroem] ons op julle onder die gemeentes van God weens julle volharding en geloof in al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verdra” (2 Tessalonisense 1:4). Om trots te wees op die werk van ander en om selfrespek te hê, kan dus voordelig wees. Ons hoef ons nie te skaam vir ons familie, kultuur of vir die plek waar ons grootgeword het nie.—Handelinge 21:39.

6 Maar daar is ’n soort trots wat verhoudings, veral ons vriendskap met Jehovah, kan vernietig. Hierdie soort trots kan veroorsaak dat ons kwaad word wanneer ons raad ontvang. Dit kan selfs veroorsaak dat ons raad verwerp eerder as om dit nederig te aanvaar (Psalm 141:5). Hierdie soort trots word beskryf as ’n te hoë dunk van onsself of as “’n hoogmoedige gesindheid wat mense openbaar omdat hulle, dikwels sonder goeie rede, dink dat hulle beter as ander is”. Jehovah haat verwaande trots (Esegiël 33:28; Amos 6:8). Maar Satan hou daarvan wanneer mense sy verwaandheid navolg en oor hulleself spog. Stel jou voor hoe bly Satan was toe Nimrod, Farao en Absalom ongepaste trots geopenbaar het deur hulle grootpratery! (Genesis 10:8, 9; Eksodus 5:1, 2; 2 Samuel 15:4-6). Trots het ook veroorsaak dat Kain sy verhouding met God verloor het. Jehovah self het Kain vermaan, maar Kain was te trots om te luister. Hy was hardkoppig, het God se waarskuwing geïgnoreer en het willens en wetens teen Jehovah gesondig.—Genesis 4:6-8.

7, 8. (a) Wat is rassisme, en hoe hou dit verband met trots? (b) Verduidelik hoe trots die vrede van ’n gemeente kan versteur.

7 Vandag steek trots op talle skadelike maniere sy kop uit. Trots hou soms verband met rassisme. Volgens een woordeboek is rassisme vooroordeel teen mense van ander rasse. Dit is ook “die beskouing dat mense van verskillende rasse verskillende eienskappe en vermoëns het en dat party rasse van nature beter is as ander”. Rassisme was al die oorsaak van gevegte, oorloë en selfs massamoord.

Trots kan die vrede van ’n gemeente versteur

8 Sulke dinge hoort natuurlik nie in die Christengemeente nie. Maar meningsverskille tussen broers en susters kan as gevolg van trots ontstaan en kan handuit ruk. Dit het met party vroeë Christene gebeur, en daarom het Jakobus hierdie gedagteprikkelende vraag gevra: “Uit watter bron kom daar oorloë en uit watter bron kom daar bakleiery onder julle?” (Jakobus 4:1). As ons haatgevoelens teenoor ander koester en dink dat ons beter as hulle is, kan ons iets sê of doen wat hulle werklik seermaak (Spreuke 12:18). Dit is duidelik dat trots die vrede van ’n gemeente kan versteur.

9. Hoe help die Bybel ons om teen rassisme en ander soorte ongepaste trots te stry? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 As ons geneig is om te dink dat ons beter as ander is, moet ons onthou dat Jehovah “elkeen wat trots van hart is”, haat (Spreuke 16:5). Ons moet ook ons hart ondersoek en ons afvra: ‘Voel ek dat ek beter is as mense van ’n ander ras, nasionaliteit of kultuur?’ Indien wel, vergeet ons dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak . . . het” (Handelinge 17:26). In sekere sin behoort ons dus almal aan dieselfde ras omdat almal van Adam afstam. Dit is baie dwaas om te glo dat God party rasse beter as ander rasse gemaak het. As ons so dink, laat ons toe dat Satan ons Christelike liefde en eenheid vernietig (Johannes 13:35). Om teen Satan te stry en te wen, moet ons alle ongepaste trots vermy.—Spreuke 16:18.    

VERMY MATERIALISME EN LIEFDE VIR DIE WÊRELD

10, 11. (a) Waarom kan dit maklik wees om die wêreld lief te hê? (b) Wat het Demas se liefde vir die wêreld tot gevolg gehad?

10 Satan is “die heerser van hierdie wêreld”, en hy is in beheer daarvan (Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Baie van die dinge wat deur hierdie wêreld bevorder word, is teenstrydig met die Bybel se standaarde. Nie alles in die wêreld is natuurlik sleg nie. Maar ons kan seker wees dat Satan sy wêreld sal gebruik om ons begeertes te probeer uitbuit en ons te laat sondig. Of hy sal ons sover probeer kry om die wêreld lief te hê en ons aanbidding van Jehovah te verwaarloos.—Lees 1 Johannes 2:15, 16.

11 Party vroeë Christene het die wêreld liefgehad. Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Demas het my verlaat omdat hy die teenswoordige stelsel van dinge liefgehad het” (2 Timoteus 4:10). Die Bybel sê nie presies watter aspek van die wêreld Demas liefgehad het nie, maar dit het veroorsaak dat hy Paulus verlaat. Demas het moontlik liewer geword vir materiële dinge as vir sy diens aan Jehovah. Hoe dit ook al sy, Demas het die geleentheid verloor om opwindende voorregte in God se diens te geniet. Was dit die moeite werd? Nee. Demas kon Paulus se helper gebly het. Die wêreld kon nie vir hom iets beters bied as wat Jehovah kon nie!—Spreuke 10:22.

Ons moet nooit toelaat dat geld belangriker word as ons vriendskap met Jehovah nie

12. Hoe kan Satan “die bedrieglike krag van rykdom” gebruik om ons begeertes uit te buit?

12 Dieselfde kan vandag met ons gebeur. Dit is net natuurlik dat ons as Christene vir onsself en vir ons gesin wil sorg (1 Timoteus 5:8). En ons weet dat Jehovah wil hê dat ons die lewe moet geniet, want hy het vir Adam en Eva ’n pragtige paradys gegee om in te lewe (Genesis 2:9). Maar Satan kan “die bedrieglike krag van rykdom” gebruik om ons begeertes uit te buit (Matteus 13:22). Baie mense dink dat geld of materiële dinge hulle gelukkig of suksesvol sal maak. As ons so dink, kan ons ons kosbaarste besitting, ons vriendskap met Jehovah, verloor. Jesus het gewaarsku: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). As ons Rykdom as slawe dien, oftewel net materiële dinge najaag, het ons opgehou om Jehovah te dien. Dit is presies wat Satan wil hê ons moet doen. Mag ons nooit toelaat dat geld of die dinge wat dit kan koop, belangriker word as ons vriendskap met Jehovah nie. Om teen Satan te stry en te oorwin, moet ons die regte gesindheid teenoor materiële dinge hê.—Lees 1 Timoteus 6:6-10.

WEERSTAAN SEKSUELE ONSEDELIKHEID

13. Hoe het hierdie wêreld ’n verkeerde beskouing van seks en die huwelik bevorder?

13 Nog ’n strik wat Satan gebruik, is seksuele onsedelikheid. Baie mense dink dat getrouheid aan ’n huweliksmaat, sowel as die huweliksreëling, outyds is en hulle vryheid beperk. Een aktrise het byvoorbeeld gesê dat dit onmoontlik is om aan een persoon getrou te bly. Sy het bygevoeg: “Ek ken niemand wat getrou is of wat getrou wil wees nie.” ’n Akteur het gesê: “Ek is nie seker of dit regtig in ons natuur is om lewenslank saam met een persoon te wees nie.” Satan is sekerlik baie bly wanneer beroemde mense God se gawe van die huwelik kritiseer. Die Duiwel ondersteun nie die huweliksreëling nie, en hy wil nie hê dat huwelike suksesvol moet wees nie. Om teen Satan te stry en te oorwin, moet ons dus God se beskouing van die huwelik hê.

14, 15. Wat kan jy doen as seksuele onsedelikheid vir jou ’n versoeking is?

14 Hetsy ons getroud of ongetroud is, ons moet hard stry teen alle vorme van seksuele onsedelikheid. Is dit maklik? Glad nie! Byvoorbeeld, as jy ’n jongmens is, hoor jy dalk hoe jou skoolmaats spog dat hulle seks het met wie hulle ook al wil. Hulle spog miskien ook oor sexting—die stuur van seksueel eksplisiete boodskappe en foto’s met ’n selfoon. Interessant genoeg, in party lande word sexting in dieselfde lig beskou as die verspreiding van kinderpornografie. Die Bybel sê: “Hy wat hoerery [oftewel, “seksuele onsedelikheid”] beoefen, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korintiërs 6:18). Seksueel oordraagbare siektes het al baie lyding en sterftes tot gevolg gehad. En die meeste jongmense wat voorhuwelikse seks gehad het, sê dat hulle spyt is daaroor. Die vermaaklikheidswêreld wil hê dat ons moet glo dat daar geen slegte gevolge sal wees as ons God se wette verbreek nie. As ons sulke leuens glo, kan ons deur “die bedrieglike krag van die sonde” mislei word.—Hebreërs 3:13.

15 Wat kan jy doen as seksuele onsedelikheid vir jou ’n versoeking is? Erken dat jy ’n swakheid het (Romeine 7:22, 23). Bid tot God om jou krag te gee (Filippense 4:6, 7, 13). Vermy situasies wat tot onsedelikheid kan lei (Spreuke 22:3). En as jy voor ’n versoeking te staan kom, moet jy dit onmiddellik verwerp.—Genesis 39:12.

16. Wat het Jesus gesê toe Satan hom probeer versoek het, en wat kan ons hieruit leer?

16 Jesus het vir ons ’n uitstekende voorbeeld gestel. Hy is nie deur Satan se beloftes bedrieg nie. Hy het nie eens vir ’n oomblik daaroor nagedink nie. Hy het eerder onmiddellik vir Satan gesê: “Daar staan geskrywe.” (Lees Matteus 4:4-10.) Jesus het God se Woord geken, en daarom kon hy dadelik tekste aanhaal toe Satan hom probeer versoek het. As ons teen Satan wil stry en wil oorwin, moet ons nie toelaat dat hy ons in die versoeking bring om ons aan seksuele onsedelikheid skuldig te maak nie.—1 Korintiërs 6:9, 10.

WEN DIE STRYD DEUR TE VOLHARD

17, 18. (a) Watter ander strikke gebruik Satan, en waarom verwag ons dit? (b) Wat sal met Satan gebeur, en hoe spoor dit jou aan om te volhard?

17 Trots, materialisme en seksuele onsedelikheid is net drie van Satan se strikke. Daar is nog baie meer. Byvoorbeeld, party Christene se gesinslede of skoolmaats staan hulle teë of spot hulle. Ander woon in lande waar die regering hulle probeer keer om te preek. Ons verwag sulke probleme. Jesus self het ons gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees; maar wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 10:22.

Satan sal vernietig word (Sien paragraaf 18)

18 Hoe kan ons teen Satan stry en oorwin? Jesus het gesê: “Deur julle volharding sal julle julle siel verwerf” (Lukas 21:19). Niks wat enige mens doen, kan ons permanent benadeel nie. Niemand kan ons vriendskap met God van ons wegneem tensy ons toelaat dat dit gebeur nie (Romeine 8:38, 39). Selfs al sterf party van Jehovah se getroue knegte, beteken dit nie dat Satan gewen het nie. Jehovah sal hulle opwek (Johannes 5:28, 29). Maar daar is geen toekoms vir Satan nie. Ná die vernietiging van hierdie goddelose wêreld sal hy vir 1 000 jaar in die afgrond gegooi word (Openbaring 20:1-3). Aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy sal Satan “uit sy gevangenis losgelaat word”, en hy sal die volmaakte mensdom vir die laaste keer probeer mislei. Daarna sal hy vernietig word (Openbaring 20:7-10). Die Duiwel het geen toekoms nie, maar jy het wel! Hou aan om teen Satan te stry en om jou geloof sterk te hou. Jy kan teen Satan stry en oorwin!