Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit is ons plek van aanbidding

Dit is ons plek van aanbidding

“Die ywer vir u huis sal my verteer.”—JOHANNES 2:17.

LIEDERE: 127, 118

1, 2. (a) Waar het Jehovah se knegte hom in die verlede aanbid? (b) Hoe het Jesus oor Jehovah se tempel in Jerusalem gevoel? (c) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

GOD se knegte, in die verlede en die hede, het nog altyd plekke van aanbidding gehad. Byvoorbeeld, toe Abel offerandes aan Jehovah gebring het, het hy moontlik ’n altaar gebou (Genesis 4:3, 4). Noag, Abraham, Isak, Jakob en Moses het almal altare gebou (Genesis 8:20; 12:7; 26:25; 35:1; Eksodus 17:15). Jehovah het vir die Israeliete gesê om ’n tabernakel te bou (Eksodus 25:8). Hy het hulle later beveel om ’n tempel te bou (1 Konings 8:27, 29). Nadat God se volk uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, het hulle gereeld in sinagoges bymekaargekom (Markus 6:2; Johannes 18:20; Handelinge 15:21). En die vroeë Christene het in huise vergader (Handelinge 12:12; 1 Korintiërs 16:19). Vandag vergader Jehovah se volk regoor die wêreld in tienduisende Koninkryksale, waar hulle Jehovah aanbid en van hom leer.

2 Jesus het diep respek vir Jehovah se tempel in Jerusalem gehad. Jesus se liefde vir die tempel het sy dissipels herinner aan die woorde van die psalmis: “Ywer vir u huis het my verteer” (Psalm 69:9; Johannes 2:17). ’n Koninkryksaal is nie “die huis van Jehovah” in dieselfde sin as wat die tempel in Jerusalem Jehovah se huis was nie (2 Kronieke 5:13; 33:4). Nietemin moet ons diep respek hê vir ons plekke van aanbidding. In hierdie artikel sal ons Bybelbeginsels bespreek wat van toepassing is op ons gedrag by ons Koninkryksale, sowel as op die finansiering en instandhouding van ons sale. *—Sien voetnoot.

ONS TOON RESPEK VIR ONS VERGADERINGE

3-5. Wat is ’n Koninkryksaal, en hoe moet ons ons vergaderinge beskou?

3 ’n Koninkryksaal is die vernaamste plek waar mense bymekaar kan kom om Jehovah te aanbid. Vergaderinge is ’n gawe van God, en dit help ons om ons verhouding met hom te versterk. By ons vergaderinge gee sy organisasie ons die aanmoediging en leiding wat ons nodig het. Dit is ’n eer om deur Jehovah en sy Seun genooi te word om elke week aan “die tafel van Jehovah” te eet (1 Korintiërs 10:21). Ons moet nooit vergeet hoe spesiaal hierdie uitnodiging is nie.

4 Jehovah sê duidelik vir ons dat hy wil hê dat ons by die vergaderinge moet wees om hom te aanbid en om mekaar aan te moedig. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) Uit respek vir Jehovah sal ons nie van die vergaderinge af wegbly sonder goeie rede nie. Ons toon dat ons ons vergaderinge waardeer as ons daarvoor voorberei en uitsien om daaraan deel te neem.—Psalm 22:22.

5 Ons gedrag by die vergaderinge en die wyse waarop ons na ons Koninkryksaal omsien, is ’n aanduiding van hoeveel respek ons vir Jehovah het. Aangesien Jehovah se naam gewoonlik op die naambord van die Koninkryksaal verskyn, wil ons hê dat ons gedrag hom moet verheerlik.—Vergelyk 1 Konings 8:17.

6. Wat het mense al gesê van ons Koninkryksale en van diegene wat die vergaderinge bywoon? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Mense kan sien of ons respek vir ons Koninkryksaal toon. Byvoorbeeld, ’n man in Turkye het gesê: “Ek was beïndruk toe ek sien hoe skoon die Koninkryksaal is en hoe ordelik alles verloop. Die mense was netjies aangetrek, het gelukkig gelyk en het my vriendelik gegroet. Dit het my baie beïndruk.” Die man het die vergaderinge gereeld begin bywoon en is kort daarna gedoop. In ’n stad in Indonesië het die broers hulle bure, die burgemeester en ander amptenare genooi om na hulle nuwe Koninkryksaal te kom kyk. Die burgemeester was beïndruk toe hy sien hoe goed die saal gebou en ontwerp is en hoe pragtig die tuin is. Hy het gesê: “Die netheid van hierdie saal is ’n weerspieëling van julle sterk geloof.”

Ons gedrag kan ’n gebrek aan respek vir God toon (Sien paragraaf 7, 8)

7, 8. Hoe toon ons respek vir Jehovah wanneer ons by die Koninkryksaal is?

7 Dit is Jehovah wat ons na die vergaderinge toe nooi, en ons gedrag en voorkoms by die vergaderinge is vir hom belangrik. Daarom vermy ons uiterstes. Aan die een kant is ons nie te streng en formeel nie, en aan die ander kant is ons nie te ontspanne en informeel nie. Jehovah wil hê dat ons en die mense wat ons nooi, gemaklik moet voel by die Koninkryksaal. Maar ons wil nooit ’n gebrek aan respek vir die vergaderinge toon nie. Daarom dra ons nie klere wat slordig of te informeel is nie, en ons sal ook nie gedurende die vergaderinge praat, eet, drink of teksboodskappe stuur nie. En ouers moet hulle kinders leer om nie in die Koninkryksaal te hardloop of te speel nie.—Prediker 3:1.

8 Toe Jesus gesien het dat mense in God se tempel handel dryf, het hy kwaad geword en hulle uitgedryf (Johannes 2:13-17). In ons Koninkryksale leer ons van Jehovah en aanbid ons hom. Dit sal dus nie gepas wees om ons sakebelange daar te bevorder nie.—Vergelyk Nehemia 13:7, 8.

ONS HELP OM KONINKRYKSALE TE BOU

9, 10. (a) Hoe word nuwe Koninkryksale gebou en gefinansier, en met watter gevolg? (b) Hoe help Jehovah se organisasie gemeentes wat dit nie kan bekostig om hulle eie Koninkryksaal te bou nie?

9 Regoor die wêreld werk Jehovah se volk hard om Koninkryksale te bou. Sale word deur onbetaalde vrywilligers ontwerp, gebou en opgeknap. Gevolglik het ons oor die afgelope 15 jaar wêreldwyd meer as 28 000 pragtige Koninkryksale gebou—sowat vyf Koninkryksale elke dag.

10 Jehovah se organisasie stuur vrywilligers en gebruik bydraes om Koninkryksale te help bou waar dit ook al nodig is. Ons pas die Bybelbeginsel toe dat diegene wat ’n oorvloed het, diegene kan help wat ’n tekort het. (Lees 2 Korintiërs 8:13-15.) Wat was die gevolg? Baie Koninkryksale is gebou vir gemeentes wat dit nie self kon bekostig nie.

11. Wat sê party broers oor hulle nuwe Koninkryksaal, en hoe laat dit jou voel?

11 Broers van ’n gemeente in Costa Rica het geskryf: “Wanneer ons voor die Koninkryksaal staan, voel dit vir ons soos ’n droom! Ons kan dit nie glo nie. Ons pragtige saal was binne net agt dae kant en klaar! Dit sou onmoontlik gewees het sonder Jehovah se seën, die reëlings wat sy organisasie getref het en die ondersteuning van ons dierbare broers. Hierdie plek van aanbidding is beslis ’n kosbare gawe, ’n juweel wat Jehovah ons gegee het. Ons hart loop oor van vreugde.” Dit is wonderlik om te hoor hoe ons broers en susters Jehovah dank vir wat hy vir hulle gedoen het. En ons is baie bly dat broers regoor die wêreld hulle eie Koninkryksaal kan hê. Dit is duidelik dat Jehovah die Koninkryksaalbouwerk seën, want sodra ’n saal voltooi is, begin baie meer mense die vergaderinge bywoon om van Jehovah te leer.—Psalm 127:1.

12. Hoe kan jy die Koninkryksaalbouwerk ondersteun?

12 Hoe kan jy die Koninkryksaalbouwerk ondersteun? Miskien kan jy aanbied om met die bouwerk te help. En ons almal kan bydraes gee om die bouwerk geldelik te ondersteun. Wanneer ons alles in ons vermoë doen om hierdie werk te ondersteun, ondervind ons die vreugde om te gee, en wat meer is, ons verheerlik Jehovah. Ons volg die voorbeeld van God se volk in Bybeltye wat gretig was om by te dra vir die bou van hulle plek van aanbidding.—Eksodus 25:2; 2 Korintiërs 9:7.

ONS HOU ONS KONINKRYKSAAL SKOON

13, 14. Watter Bybelbeginsels toon dat ons ons Koninkryksaal skoon en netjies moet hou?

13 Jehovah is ’n rein en heilige God. Hy is ’n God van orde. Daarom moet ons ons Koninkryksaal skoon en netjies hou. (Lees 1 Korintiërs 14:33, 40.) En as ons soos Jehovah rein en heilig wil wees, moet ons nie net ons aanbidding, ons denke en ons dade rein hou nie, maar ook ons liggaam skoon hou.—Openbaring 19:8.

14 As ons ons Koninkryksaal skoon en netjies hou, sal ons nie skaam wees om mense na ons vergaderinge te nooi nie. En mense sal sien dat ons dade werklik strook met ons boodskap oor ’n skoon nuwe wêreld. Hulle sal sien dat ons ’n heilige en rein God aanbid wat hierdie aarde in ’n pragtige paradys sal omskep.—Jesaja 6:1-3; Openbaring 11:18.

15, 16. (a) Waarom is dit nie altyd maklik om die Koninkryksaal skoon te hou nie, maar waarom moet ons dit doen? (b) Watter reëlings is daar om julle Koninkryksaal skoon te maak, en watter voorreg het elkeen van ons?

15 Mense het verskillende standaarde wanneer dit kom by skoonmaak. Waarom? Miskien weens die manier waarop hulle grootgemaak is. Party woon in ’n stowwerige plek of in ’n plek waar die paaie vuil en modderig is. Ander het nie genoeg water of skoonmaakmiddels nie. Maar ongeag waar ons woon en hoe die mense in ons gebied oor skoonmaak voel, ons moet ons Koninkryksaal skoon en netjies hou. Dit is die plek waar ons Jehovah aanbid.—Deuteronomium 23:14.

16 As ons wil hê dat ons Koninkryksaal so skoon as moontlik moet wees, moet ons goed georganiseerd wees. Die ouer manne stel ’n skoonmaakrooster vir die gemeente op en sorg dat daar altyd genoeg skoonmaakmiddels en -toerusting beskikbaar is. Die ouer manne organiseer ook die werk om seker te maak dat dit gedoen word. Party dinge moet ná elke vergadering skoongemaak word, maar ander dinge nie so dikwels nie. Ons almal het die voorreg om te help om ons Koninkryksaal skoon te maak.

ONS SIEN OM NA ONS KONINKRYKSAAL

17, 18. (a) Wat leer ons uit hoe Jehovah se eertydse volk na die tempel omgesien het? (b) Waarom moet ons na ons Koninkryksaal omsien?

17 Ons hou ons Koninkryksaal ook in ’n goeie toestand deur die nodige herstelwerk te doen. Jehovah se eertydse knegte het dit ook gedoen. Byvoorbeeld, gedurende die heerskappy van koning Joas van Juda het die volk geld vir die tempel bygedra. Die koning het die priesters beveel om hierdie geld te gebruik om die nodige herstelwerk aan die tempel te doen (2 Konings 12:4, 5). Meer as 200 jaar later het koning Josia ook tempelbydraes gebruik om vir herstelwerk te betaal.—Lees 2 Kronieke 34:9-11.

18 Party Takkomitees het opgemerk dat mense in hulle land nie geneig is om geboue of toerusting in stand te hou nie. Miskien is daar nie baie mense in hierdie lande wat weet hoe om instandhoudingswerk te doen nie. Of hulle het dalk nie genoeg geld om vir herstelwerk te betaal nie. Maar as ons nie die nodige herstelwerk aan ons Koninkryksaal doen nie, sal dit verwaarloos begin lyk, en mense sal dit opmerk. Dit sal nie ’n goeie indruk skep nie. Maar as ons ons bes doen om na ons Koninkryksaal om te sien, verheerlik ons Jehovah en mors ons nie die geld wat ons broers bygedra het nie.

Ons moet ons Koninkryksaal skoon en in ’n goeie toestand hou (Sien paragraaf 16, 18)

19. Wat sal jy doen om jou respek te toon vir die plek waar jy Jehovah aanbid?

19 ’n Koninkryksaal is ’n gebou wat aan Jehovah toegewy is. Dit behoort nie aan enige persoon of gemeente nie. Soos ons in hierdie artikel bespreek het, sal Bybelbeginsels ons help om die regte gesindheid te hê teenoor ons plek van aanbidding. Uit respek vir Jehovah toon ons respek vir ons vergaderinge sowel as vir ons Koninkryksaal. Dit verskaf ons vreugde om geld by te dra om Koninkryksale te bou, en ons werk hard om na ons Koninkryksaal om te sien en dit skoon te hou. Soos Jesus, toon ons ywer en respek vir die plek waar ons Jehovah aanbid.—Johannes 2:17.

^ par. 2 Hierdie artikel verwys na Koninkryksale. Maar wat ons hier bespreek, is ook van toepassing op Byeenkomssale en ander plekke wat gebruik word om Jehovah te aanbid.