Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOU AAN WAAK!

Vlugtelingkrisis – Miljoene vlug uit Oekraïne

Vlugtelingkrisis – Miljoene vlug uit Oekraïne

 Op 24 Februarie 2022 het Rusland Oekraïne binnegeval. Dit het ’n baie ernstige situasie veroorsaak waar miljoene mense se lewens in gevaar is, en baie het uit die land gevlug. a

 “Daar was bomme en ontploffings. Dit is moeilik om in woorde te beskryf hoe bang ek was. Toe ons gehoor het dat daar treine was wat mense help om te vlug, het ons besluit om te gaan. Ons moes alles agterlaat omdat elke persoon net een klein rugsak kon saamvat. Ons kon net dokumente, medisyne, water en ietsie om te eet inpak. Ons het alles agtergelaat en na die treinstasie toe gegaan terwyl die bomme rondom ons geval het.” – Nataliia van Charkif, Oekraïne.

 “Tot op die laaste oomblik het ons nie gedink dat daar regtig ’n oorlog sou wees nie. Ek het ontploffings in party dele van die stad gehoor, en vensters het geskud. Ek het besluit om te vlug en het net dinge saamgevat wat ek regtig nodig gehad het. Ek het my huis om agtuur die oggend verlaat en ’n trein na Lviv gevat en toe ’n bus na Pole.” – Nadija van Charkif, Oekraïne.

In hierdie artikel

 Wat is die werklike oorsake van hierdie vlugtelingkrisis?

 Die vlugtelingkrisis het begin omdat Rusland se weermag Oekraïne binnegeval het. Maar die Bybel wys dat daar ander groter oorsake is vir al hierdie probleme:

  •   Menseregerings regoor die wêreld het dit nie reggekry om vir mense te gee wat hulle nodig het nie. Regerings gebruik dikwels hulle gesag om mense te beheer en te mishandel. – Prediker 4:1; 8:9.

  •   Satan die Duiwel, “die heerser van die wêreld”, het so ’n slegte invloed op mense dat die Bybel sê: “Die hele wêreld is in die mag van die Duiwel.” – Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19.

  •   Behalwe vir die probleme wat die mens al honderde jare lank ondervind, lewe ons nou in ’n tyd waaroor die Bybel voorspel het: “In die laaste dae [sal daar] swaar tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Gedurende hierdie tydperk sal daar ook oorloë, natuurrampe, voedseltekorte en vreeslike siektes wees – dinge wat veroorsaak dat mense vlug. – Lukas 21:10, 11.

 Waar kan vlugtelinge hoop kry?

 Die Bybel wys dat ons Skepper, Jehovah, b ’n God is wat lief is vir en meegevoel het met vlugtelinge en mense wat hulle huise moet verlaat (Deuteronomium 10:18). Hy belowe dat hy die probleme van vlugtelinge gaan oplos deur middel van sy hemelse regering, wat God se Koninkryk genoem word. Dit sal alle menseregerings vervang (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Jehovah sal sy Koninkryk gebruik om Satan die Duiwel te verwyder (Romeine 16:20). Daardie Koninkryk sal ’n wêreldwye regering wees, en dit sal ontslae raak van lande se grense wat verdeeldheid veroorsaak. Alle mense sal deel wees van ’n wêreldwye verenigde familie. Niemand sal ooit weer hoef te vlug nie, want die Bybel belowe: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en niemand sal hulle bang maak nie, want Jehovah van die leërmagte het dit gesê.” – Miga 4:4.

 Net God se Koninkryk kan ’n permanente oplossing gee vir die vlugtelingkrisis wat ons vandag ondervind. Jehovah sal sy Koninkryk gebruik om ’n einde te maak aan die probleme wat mense dwing om vlugtelinge te word. Kyk na ’n paar voorbeelde:

  •   Oorloë. “[Jehovah] maak . . . ’n einde aan oorloë” (Psalm 46:9). Om uit te vind hoe God ’n einde aan konflik gaan maak, lees die artikel “Vrede op aarde—Hoe sal dit tot stand kom?

  •   Onderdrukking en geweld. “Van onderdrukking en van geweld sal [Jehovah] hulle red” (Psalm 72:14). Om te verstaan hoe mense ’n negatiewe gesindheid wat hulle al lank het, kan verander, lees die reeks artikels “Hoe om die siklus van haat te breek”.

  •   Armoede. “[Jehovah] sal die arme red wat om hulp roep” (Psalm 72:12). Om te sien hoe God die hoofoorsake van armoede gaan oplos, lees die artikel “Is ’n regverdige ekonomiese stelsel moontlik?

  •   Voedseltekorte. “Daar sal volop graan op die aarde wees” (Psalm 72:16). Om uit te vind hoe God gaan seker maak dat niemand honger ly nie, lees die artikel “’n Wêreld sonder voedseltekorte?

 Kan die Bybel vlugtelinge in ons tyd help?

 Ja. Die Bybel gee nie net vir vlugtelinge ’n betroubare hoop vir die toekoms nie, maar dit kan hulle ook help met die uitdagings wat hulle nou het.

 Bybelwaarheid: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.

 Betekenis: Dink aan gevaarlike situasies wat dalk kan gebeur en wat jy sal doen om jouself te beskerm. Wees versigtig vir misdadigers wat vlugtelinge probeer uitbuit as gevolg van hulle nuwe omstandighede. Hulle weet dat die vlugtelinge onseker voel en onervare is.

 Bybelwaarheid: “As ons . . . kos en klere het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” – 1 Timoteus 6:8.

 Betekenis: Moenie net op materiële dinge fokus nie. Wanneer jy tevrede is met die basiese dinge, sal jy gelukkiger wees.

 Bybelwaarheid: “Alles wat julle dan wil hê dat mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” – Matteus 7:12.

 Betekenis: Wees geduldig en liefdevol. As jy hierdie eienskappe het, sal dit makliker wees vir die mense in jou nuwe gebied om jou te respekteer en te aanvaar.

 Bybelwaarheid: “Moenie slegte dinge aan mense doen wanneer hulle slegte dinge aan julle doen nie.” – Romeine 12:17.

 Betekenis: Moenie so kwaad word dat jy wraak neem wanneer mense jou mishandel nie. Dit sal dinge net erger maak.

 Bybelwaarheid: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13.

 Betekenis: Maak God ’n belangrike deel van jou lewe en bid tot hom. Hy kan jou die krag gee wat jy nodig het om jou probleme te hanteer.

 Bybelwaarheid: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar vra God in elke situasie om julle te help deur tot hom te bid, hom te smeek en hom te dank. Dan sal die vrede van God, wat alle denke oortref, julle harte en julle verstande beskerm.” – Filippense 4:6, 7.

 Betekenis: Vra God om vir jou innerlike vrede te gee, maak nie saak wat jou situasie is nie. Lees die artikel “Filippense 4:6, 7 – ‘Moet oor niks bekommerd wees nie’”.

a Die dag nadat Rusland Oekraïne binnegeval het, het die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR) gesê dat hierdie situasie die ergste soort noodgeval is. Binne net 12 dae het meer as tweemiljoen vlugtelinge uit Oekraïne na buurlande gevlug, en nog eenmiljoen mense moes hulle huise verlaat en na ander dele van die land vlug.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?