Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat as ek nie van skool hou nie?

Wat as ek nie van skool hou nie?

 Onderwysers wat streng is. Groepsdruk. Stresvolle eksamens en tonne huiswerk. Dit is verstaanbaar as jy sê dat jy nie van skool hou nie. a ’n Tiener met die naam Rachel b sê:

 “Ek sal liewer by enige ander plek wil wees as by die skool. Ek sal eerder op die strand of saam met my vriende wil wees of selfs my ouers help om te kook of skoon te maak!”

 As jy net soos Rachel voel, kan jou skooljare soos ’n tronkstraf voel en dat jy eers vrygelaat word wanneer jy met skool klaarmaak. Is daar ’n beter manier om die tyd wat jy by die skool spandeer, te sien?

 Het jy geweet? Wanneer jy leer om ’n beter beskouing van skool te hê, neem jy beheer van die situasie. En jy hou op om skool as iets te sien wat jy moet verduur. In ’n sekere sin is skool iets goeds wat jou sal help om die vaardighede wat jy as ’n volwassene nodig sal hê, te ontwikkel en te verbeter.

 Om ’n beter beskouing van skool te hê, probeer om op die volgende te fokus:

 Jou opvoeding. Hoe meer jy leer, hoe beter sal jy in staat wees om probleme in die toekoms by die werk en ander gebiede van die lewe op te los. Jy hoef dan ook nie altyd op ander staat te maak nie. Vra jou af: ‘Watter praktiese dinge kan ek by die skool leer wat my kan help, selfs al is daar dinge waarvan ek nie hou nie?’

 Bybelwaarheid: “Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë.” – Spreuke 3:21.

 Vir meer inligting, sien die artikel “Wat as my punte swak is op skool?

 Jou gewoontes. Die goeie gewoontes wat jy op skool leer, kan jou help om jou tyd goed te gebruik, om selfdissipline te hê en om ’n harde werker te wees – eienskappe wat jy as ’n volwassene nodig sal kry. Vra jou af: ‘Op watter maniere sal die roetine wat ek by die skool leer, my help om selfgedissiplineerd en ’n harde werker te wees? Hoe kan ek hierop verbeter?’

 Bybelwaarheid: “Elke soort harde werk hou voordele in.” – Spreuke 14:23.

 Vir meer inligting, sien die artikel “Hoe kan ek my tyd goed gebruik?

 Jou verhouding met ander. Om tyd saam met jou klasmaats by die skool te spandeer, kan jou help om meer empatie en respek vir ander te hê. ’n Jong man met die naam Joshua sê: “Om te leer hoe om met mense te kommunikeer, is net so belangrik soos om geskiedenis en wetenskap te leer. Dit is ’n vaardigheid wat jy regdeur jou lewe sal gebruik.” Vra jou af: ‘Watter lesse het ek by die skool geleer oor hoe om met ander oor die weg te kom – selfs dié wie se agtergrond van myne verskil of wat nie glo soos ek glo nie?’

 Bybelwaarheid: “Probeer hard om in vrede met alle mense te lewe.” – Hebreërs 12:14.

 Vir meer inligting, sien die artikel “Hoe kan ek beter daarin word om met ander te praat?

 Jou toekoms. Skool kan jou help om uit te vind waarin jy goed is en om dan doelwitte te stel. ’n Jong vrou met die naam Brooke sê: “Soos ek, kan jy dalk opleiding op ’n spesifieke gebied kry wat jou kan help om ’n werk te kry wanneer jy skool verlaat.” Vra jou af: ‘Hoe sal ek vir myself sorg nadat ek met skool klaargemaak het? Hoe kan ek seker maak dat dit wat ek leer, nodig is vir daardie tipe werk?’

 Bybelwaarheid: “Dink goed na oor die pad wat jy wil volg.” – Spreuke 4:26, vtn.

a Baie van die beginsels wat in hierdie artikel bespreek is, kan ook jongmense help wat tuisonderrigting doen.

b Party name is verander.