Spring na inhoud

Is die Koninkryk van God in jou hart?

Is die Koninkryk van God in jou hart?

Die Bybel se antwoord

 Nee, God se Koninkryk is nie bloot ’n toestand in die hart van Christene nie. a Die Bybel toon waar dit werklik geleë is deur dit “die koninkryk van die hemele” te noem (Matteus 4:17). Kyk hoe die Bybel toon dat dit ’n werklike regering is wat vanuit die hemel regeer.

 Die Bybel leer nie dat die Koninkryk van die hemel in jou hart is in die sin dat dit deur ’n persoon se hart regeer nie. Maar dit toon wel dat die “woord van die koninkryk” of die “goeie nuus van die koninkryk” ’n uitwerking op ons hart kan en moet hê.—Matteus 13:19; 24:14.

Wat beteken dit dat ‘die koninkryk van God binne-in julle is’?

 Party mense is verward oor waar die Koninkryk is weens die bewoording van Lukas 17:21 in party Bybelvertalings. Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling sê byvoorbeeld: “Die koninkryk van God is binne-in julle.” Om hierdie vers reg te verstaan, moet ons na die konteks kyk.

God se Koninkryk was nie in die hart van Jesus se onversetlike en moorddadige teenstanders nie

 Jesus het met die Fariseërs gepraat, ’n groep godsdiensleiers wat hom teëgestaan het en ’n aandeel aan sy teregstelling gehad het (Matteus 12:14; Lukas 17:20). Maak dit sin om te dink dat die Koninkryk ’n toestand in hulle onversetlike harte was? Jesus het vir hulle gesê: “Binne-in is julle vol huigelary en wetteloosheid.”—Matteus 23:27, 28.

 Ander vertalings toon duidelik wat Jesus bedoel het deur sy woorde in Lukas 17:21 akkuraat soos volg weer te gee: “Die koninkryk van God is hier by julle” (Ons kursiveer; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). “Die koninkryk van God is onder julle” (voetnoot in NW). Die Koninkryk van die hemel was “by” of “onder” die Fariseërs omdat Jesus, die een wat deur God aangestel is om as Koning te regeer, voor hulle gestaan het.—Lukas 1:32, 33.

a Baie Christelike kerke leer dat die Koninkryk van God binne-in ’n persoon, of in ’n persoon se hart is. Byvoorbeeld, in die Verenigde State het die Suidelike Baptistekonvensie verklaar dat die Koninkryk van God deels “die heerskappy van God in die hart en lewe van die individu” is. Pous Benediktus XVI het eweneens in sy boek Jesus of Nazareth gesê dat “die Koninkryk van God by wyse van ’n luisterende hart kom”.