Spring na inhoud

Graduering van die 135ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

Graduering van die 135ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

Op 14 September 2013 het ’n gehoor van ongeveer 10 500 bymekaar gekom vir die graduering van die 135ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by die onderrigsentrum van Jehovah se Getuies in Patterson, New York. Hierdie skool lei ervare bedienaars van Jehovah se Getuies op om selfs doeltreffender in hulle toewysing te wees.

Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en voorsitter van die program, het sy openingskommentare gebaseer op Matteus 28:19, 20: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”

Broer Pierce het daarop gewys dat hierdie woorde van Jesus ’n kettingreaksie aan die gang gesit het wat tot ons dag voortduur. Wanneer ons dissipels maak, leer ons mense om alles te doen wat Jesus beveel het. Dit sluit natuurlik sy opdrag in om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig (Matteus 24:14). Sodoende word elke nuwe dissipel ’n verkondiger en onderrigter van die Koninkryk. Watter uitwerking het hierdie kringloop gehad? “Die bevolking [van die wêreld] het gegroei”, het broer Pierce gesê, “maar God se volk het ook.”

“Hulle het bo hulle ware vermoë gegee.” Thomas Cheiky, ’n lid van die Takkomitee van die Verenigde State, se toespraak was op 2 Korintiërs 8:1-4 gebaseer. Ten spyte daarvan dat die eerste-eeuse gemeentes van Masedonië baie armoedig was, het hulle gesmeek om die voorreg te hê om ’n bydrae ten behoewe van die behoeftige broers in Jerusalem te gee. Die Gileadstudente het dieselfde gees van vrygewigheid en selfopoffering getoon.

Terselfdertyd kan ons die vertroue hê dat die Masedoniërs verstandig was en nie soveel gegee het dat hulle hulle gesin of hulle persoonlike aanbidding van God benadeel het nie. Broer Cheiky het die studente aangespoor om die Masedoniërs na te volg deur gebalanseerd te bly met betrekking tot hulle mededeelsaamheid.

“Die skool het geëindig.” Samuel Herd van die Bestuursliggaam het die aandag gevestig op die rede waarom die studente hulle ondervinding by die Gileadskool moet onthou. Soos ’n mooi liedjie wat jy in die oggend hoor en jou heeldag bybly, kan die kosbare herinneringe aan Gilead die studente lank ná die skool help onderskraag.

Broer Herd het die studente daaraan herinner dat God se geheue onbeperk is. Hy het elkeen van die miljarde der miljarde sterre in die heelal ’n naam gegee, en hy sal nooit enigeen van die sterre vergeet nie (Psalm 147:4). Hoeveel te meer sal hy dan die inspanning van die studente gedurende hulle Gileadopleiding onthou! Hulle het “skatte in die hemel” opgegaar, en niemand kan Jehovah se kosbare herinneringe aan hierdie studente steel nie.—Matteus 6:20.

Aangesien God die studente se werk en hulle liefde vir hom onthou, kan die studente tereg hulle herinneringe aan Gilead koester. “Wanneer aangename herinneringe aan hierdie skool jou dag ophelder”, het broer Herd gesê, “moet jy nie vergeet om die Een te bedank wat vir jou vreugde verantwoordelik is nie—Jehovah. Moenie moeg word om dinge te onthou nie. Die voordele sal heel moontlik onvergeetlik wees.”

“Put vertroosting uit Jehovah se onbeskryflike krag.” Die Gileadinstrukteur Sam Roberson het die studente aangespoor om op Jehovah se krag staat te maak eerder as om nuwe uitdagings in hulle eie krag die hoof te probeer bied. Efesiërs 3:20 sê dat God “oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel”. Sy krag gaan ons verstand in so ’n mate te bowe dat selfs die uitdrukking ‘oneindig meer as wat ons ons kan voorstel’ dit nie ten volle beskryf nie, want die vers sê dat hy “meer” as dit kan doen.

Jehovah stel sy onbeskryflike krag tot die beskikking van elke Christen. Hy is soos “’n verskriklike magtige”, of “’n verskriklike krygsman”, te midde van groot beproewinge (Jeremia 20:11; God’s Word Bible). Broer Roberson het die studente daaraan herinner dat Jehovah hulle sal help om enige probleem of beproewing te bowe te kom.

“Behou jou waardigheid in Koninkryksdiens.” William Samuelson, ook ’n Gileadinstrukteur, het verduidelik dat die Gileadstudente in twee opsigte waardigheid in Koninkryksdiens verkry het. Hulle het bewys dat hulle agting waardig is deur middel van hulle werk voor sowel as gedurende die kursus, en hulle gaan voort om eer en respek te verwerf deur die hoogste regering in die heelal—God se Koninkryk—te verteenwoordig.

Hoe kan die studente hulle waardigheid behou? Broer Samuelson het hulle aangespoor om eer aan Jehovah te gee en respek vir ander te toon, net soos Jesus waardigheid aan diegene om hom verleen het selfs wanneer hy hulle moes reghelp of raad gee. Met watter gevolg? Soos die apostel Paulus, sal die studente nog meer waardigheid verwerf en hulle bediening verheerlik eerder as om selfverheerliking na te streef.—Romeine 11:13.

“Die gesag van die perde is in hulle bekke.” Michael Burnett, nog ’n Gileadinstrukteur, het getoon hoe ons in ooreenstemming met die vervulling van Openbaring 9:19 werk wanneer ons die dinge wat ons by Christelike vergaderinge geleer het, gebruik om met gesag in ons getuieniswerk te praat. Hy het toe by die studente aangesluit, waarop hulle ondervindinge wat hulle gedurende hulle Gileadopleiding in die bediening gehad het, vertel of gedemonstreer het. Byvoorbeeld, ’n student het die belangstelling van ’n petroljoggie geprikkel deur die vraag te vra: “Wanneer het die vasgestelde tye van die nasies begin en geëindig?” (Lukas 21:24). Tydens ’n latere besoek het hy die man gehelp om die vraag te beantwoord deur Daniël hoofstuk 4 tesame met die aanhangsel in die boek Wat leer die Bybel werklik? te gebruik.

“Hulle hart is vastheid gegee.” Adrian Fernandez, ’n lid van die Takkomitee van die Verenigde State, het ’n onderhoud met twee van die graduerende egpare gevoer. Broer Helge Schumi het vertel dat die Gileadkursus dikwels raad bevat het om nederig te bly, aangesien die Bybelverslag toon dat party van God se knegte hoogmoedig geword het nadat hulle ’n spesiale voorreg ontvang het (2 Kronieke 26:16). Broer Peter Canning het ook die wyse raad gemeld wat in ’n Gileadlesing gegee is oor wanneer hulle die plaaslike taal leer: “Moenie trots wees nie. Wees bereid om dom te klink.” Al vier gegradueerdes het waardering uitgespreek vir die manier waarop die kursus hulle versterk het vir die werk wat voorlê en hulle harte vastheid gegee het.—Hebreërs 13:9.

“Wees bly omdat julle name in die hemele opgeskryf is” (Lukas 10:20). Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam het die hooftoespraak gelewer. In teenstelling met diegene wat Gilead in die verlede bygewoon het, sal die meeste van die huidige gegradueerdes nie na onaangeraakte gebiede gestuur word of opwindende ondervindinge hê wat uit die predikingswerk in sulke gebiede voortspruit nie. Hoe moet hulle reageer?

Toe die 70 dissipels wat Jesus uitgestuur het, van hulle predikingsveldtog teruggekeer het, het hulle die opwindende nuus vertel dat hulle demone in Jesus se naam uitgedryf het (Lukas 10:1, 17). Jesus het erken dat hierdie resultate inderdaad opwindend is, maar hy het gesê: “Julle moet nietemin nie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderwerp word nie, maar wees bly omdat julle name in die hemele opgeskryf is” (Lukas 10:20). So het hy getoon dat hulle nie elke dag sulke opwindende ondervindinge sou hê nie. Hulle moenie op hulle resultate konsentreer nie, maar op hulle getrouheid aan Jehovah en om hulle name “in die hemele opgeskryf” te hê.

“Wat Jesus die 70 dissipels geleer het, is ook op ons van toepassing”, het broer Jackson gesê. Ons moenie toelaat dat die resultate van ons bediening as die enigste grondslag vir ons vreugde of as die vernaamste maatstaf van ons getrouheid dien nie. Dit is eerder ’n sterk verhouding met Jehovah en ywer in sy diens wat ons vreugde verskaf en van ons getrouheid getuig.

Selfs Jesus het hom in situasies bevind wat hom kon ontmoedig het. Byvoorbeeld, nadat hy duisende mense wonderdadig gevoed het, het hulle hom begin volg (Johannes 6:10-14, 22-24). Maar baie van hulle het kort daarna weens Jesus se leer gestruikel, sodat die opwindende instroming van dissipels gou in ’n groot uittog verander het (Johannes 6:48-56, 60, 61, 66). Die lojale dissipels daarenteen was vasbeslote om by Jesus te bly. Hulle het ’n goeie voorbeeld daarin gestel om nie bloot op resultate te konsentreer nie, maar op hulle getrouheid en hulle verhouding met Jehovah.—Johannes 6:67-69.

Slot. Die studente het hulle diplomas ontvang, waarna een van hulle ’n brief van waardering deur die klas voorgelees het. Broer Pierce het afgesluit deur daarop te wys dat God se volk, insluitende die Gileadgegradueerdes, nie deur die wêreld as spesiaal beskou word nie (Handelinge 4:13; 1 Korintiërs 1:27-31). Maar Jehovah aanvaar ons toewyding en gee ons sy heilige gees. En hoewel Jehovah miskien nie beïndruk is met ons kennis nie, het broer Pierce gesê: “Hy is beïndruk met ons lojaliteit, ons getrouheid en ons toegewydheid aan hom.”