Spring na inhoud

Die natuurlewe en omgewing by Warwick word beskerm

Die natuurlewe en omgewing by Warwick word beskerm

Jehovah se Getuies het begin bou aan hulle nuwe wêreldhoofkwartier naby die Sterling Forest-meer (Blue Lake) in die landelike gebied van die staat New York. Hoe beskerm hulle die natuurlewe en die habitat?

Die Getuies het ’n tydelike heining rondom die bouterrein opgerig om te verhoed dat ratelslange, luikskilpaaie en bosskilpaaie die terrein binnekom en dalk beseer word. Die heining word gereeld nagegaan om te verseker dat diere nie kan deurkom en in die werksomgewing vasgevang word nie. Nadat die konstruksie voltooi is en die heining verwyder is, sal enige ratelslang wat te naby aan die fasiliteit gevind word, hervestig word deur iemand wat opgelei is om dit op ’n veilige manier te doen.

Rooikeelsialia

Bome is gedurende die wintermaande afgekap sodat die rooikeelsialia nie gedurende hulle broeiseisoen versteur sou word nie. Nadat die konstruksie in die betrokke gebiede voltooi is, sal die Getuies broeihokke oprig om die voëls aan te spoor om terug te keer.

Sekere gebiede word ook net tussen Oktober en Maart geskraap en ontbos sodat die sade van ’n bedreigde hisop doeltreffend kan versprei en ontkiem. Hierdie prosedure word gevolg, al is nie een van hierdie plante sedert 2007 op die Warwick-bouterrein gevind nie.

Die Sterling Forest-meer, wat langs die bouterrein is, onderhou ’n verskeidenheid watervoëls asook visse soos forel, baars en jong snoek. Om die meer te beskerm, het die argitekte ’n verskeidenheid omgewingsvriendelike boumetodes gekies. Dit sluit in dat plante op die dakke van geboue geplant kan word, wat reënwater van besoedelende stowwe sal suiwer en afloopwater sal verminder. Daarbenewens word die natuurlike plantegroei om die meer bewaar en beskerm.

’n Getuie wat ten nouste betrokke is by hierdie aspekte van die projek, sê: “Al vereis dit bykomende beplanning en tyd, is ons vasbeslote om die ekosisteem by die Warwick-bouterrein te beskerm.”