Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Matteus 6:33 – “Soek eers die koninkryk van God”

Matteus 6:33 – “Soek eers die koninkryk van God”

 “Hou dan aan om eers die Koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.” – Matteus 6:33, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” – Matteus 6:33, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Matteus 6:33

 God se Koninkryk is ’n regering in die hemel wat God se wil op die aarde sal laat gebeur (Matteus 6:9, 10). Vir iemand wat die Koninkryk eerste soek, is daardie Koninkryk die belangrikste ding in sy of haar lewe. a Dit beteken dat ’n mens nie net graag van God se Koninkryk wil leer nie, maar ander ook sal vertel van die goeie dinge wat daardie Koninkryk gaan doen (Matteus 24:14). Iemand wat die Koninkryk soek, sal ook bid dat dit moet kom. – Lukas 11:2.

 God se regverdigheid sluit sy standaarde van reg en verkeerd in (Psalm 119:172). So, ’n mens soek God se regverdigheid deur volgens God se sedewette te lewe, wat altyd tot ons voordeel is. – Jesaja 48:17.

 Die frase al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word, is ’n belofte dat God in die behoeftes sal voorsien van dié wat sy Koninkryk en sy standaarde eerste in hulle lewe stel. – Matteus 6:31, 32.

Konteks van Matteus 6:33

 Jesus het hierdie woorde gesê in wat as sy Bergpredikasie bekend staan en wat in Matteus hoofstuk 5-7 opgeteken is. Baie van dié wat na Jesus geluister het, was ongetwyfeld arm. Hulle het dalk gevoel dat hulle die meeste van hulle tyd daaraan moes spandeer om te werk om ’n bestaan te maak, en dat hulle nie veel tyd oorgehad het om die Koninkryk te soek nie. Maar Jesus het hulle aangemoedig om te kyk hoe God vir die plante en diere sorg wat Hy gemaak het. God belowe dat hy dieselfde sal doen vir mense wat sy Koninkryk eerste soek. – Matteus 6:25-30.

Verkeerde idees oor Matteus 6:33

 Verkeerde idee: Iemand wat die Koninkryk soek, sal ryk word.

 Feit: Jesus het gesê dat dié wat God se Koninkryk eerste stel die dinge wat hulle nodig het, soos kos en klere, sou hê (Matteus 6:25, 31, 32). Maar hy het nie belowe dat hulle luukse dinge sou hê nie, en hy het ook nie gesê dat materiële dinge ’n teken van God se seën sou wees nie. Om die waarheid te sê, Jesus het dié wat na hom geluister het, gewaarsku om nie rykdom na te jaag nie, want dit kan dit moeiliker maak om die Koninkryk eerste te soek (Matteus 6:19, 20, 24). Die apostel Paulus het baie hard gewerk vir God se Koninkryk, en tog het hy soms min materiële dinge gehad. Soos Jesus, het hy ander gewaarsku oor die gevaar daarvan om ryk te wil word. – Filippense 4:11, 12; 1 Timoteus 6:6-10.

 Verkeerde idee: Christene hoef nie te werk om ’n bestaan te maak nie.

 Feit: Die Bybel sê dat Christene moet werk om hulleself en hulle gesin te onderhou (1 Tessalonisense 4:11, 12; 2 Tessalonisense 3:10; 1 Timoteus 5:8). Jesus het nie gesê dat sy volgelinge net die Koninkryk moet soek nie; hy het eerder gesê dat hulle eers die Koninkryk moet soek.

Dié wat eers God se Koninkryk soek en wat bereid is om te werk om ’n bestaan te maak, kan daarvan seker wees dat God hulle sal help om die dinge wat hulle in die lewe nodig het, te kry. – 1 Timoteus 6:17-19.

a “Hou ... aan ... soek”, word vertaal uit ’n Griekse werkwoordvorm wat aanhoudende aksie aandui, en die frase kan vertaal word as “soek voortdurend”. Daarom moet die Koninkryk vir ons ’n prioriteit wees, en nie iets wat ons aandag net vir ’n kort rukkie boei nie.