Spring na inhoud

20 NOVEMBER 2013
ARMENIË

Armenië laat al Jehovah se Getuies uit die tronk vry

Armenië laat al Jehovah se Getuies uit die tronk vry

JEREWAN, Armenië—Op 12 November 2013 het Armenië die laaste 14 Getuies van Jehovah wat in die tronk was omdat hulle geweier het om by die weermag aan te sluit, vrygelaat. Altesaam 28 gewetensbeswaardes wat Jehovah se Getuies is, is sedert 8 Oktober 2013 uit die tronk vrygelaat. Dit dui op ’n verandering in Armenië se patroon om die reg op gewetensbeswaar te ignoreer, ’n beleid wat oor die afgelope 20 jaar daartoe gelei het dat meer as 450 jong Getuiemans tronk toe gestuur is. Daar is nou vir die eerste keer sedert 1993 geen Getuies van Jehovah in Armenië in die tronk weens hulle gewetensbesware teen diensplig nie.

Voor die vrylating op 12 November het Armenië op 8 en 9 Oktober agt Getuies vrygelaat, op grond van ’n amnestie wat hulle tronkvonnisse met ses maande verminder het. Nog ses is op 24 Oktober vrygelaat. Hierdie ses was die eerstes wat baat gevind het by wysigings in Armenië se bestaande wet op alternatiewe burgerlike diens, wat op 8 Junie 2013 aangeneem is. Hierdie wysigings laat gewetensbeswaardes toe om aansoek te doen om alternatiewe diens te verrig wat nie onder militêre beheer en toesig val nie, in plaas daarvan om tronk toe gestuur te word.

Meer as 90 Getuies het om hierdie nuwe program aansoek gedoen. Op 23 Oktober en 12 November 2013 het die Republikeinse Kommissie die aansoeke van 71 van hierdie jong mans oorweeg en goedgekeur. Die Kommissie het bekend gemaak dat dit van voorneme is om die res van die sake binnekort te verhoor.

David A. Semonian, ’n woordvoerder van Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in New York, sê: “Ons is bly dat die regering van Armenië hierdie jong mans vrygelaat het en dat hierdie langdurige kwessie blykbaar opgelos is.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Armenië: Tigran Harutyunyan, tel. +374 93 900 482

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000