Spring na inhoud

12 SEPTEMBER 2014
DUITSLAND

Sachsenhausen-gedenkteken ter ere van een van Jehovah se Getuies wat deur Nazi’s tereggestel is

Sachsenhausen-gedenkteken ter ere van een van Jehovah se Getuies wat deur Nazi’s tereggestel is

SELTERS, Duitsland—Op 16 September 2014 sal die Brandenburg-gedenkstigting die gasheerorganisasie wees vir ’n spesiale geleentheid wat gereël is vir die 75ste herdenking van die teregstelling van August Dickmann in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp. Hy was die eerste gewetensbeswaarde wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die openbaar deur die Nazi’s tereggestel is.

August Dickmann, omstreeks 1936.

Mnr. Dickmann is in Oktober 1937 in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp opgesluit weens sy oortuigings as een van Jehovah se Getuies. Drie dae nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het die Gestapo mnr. Dickmann laat roep en hom gevra om ’n militêre identifikasiekaart te teken en sodoende by die Duitse weermag aan te sluit. Toe mnr. Dickmann geweier het, is hy in alleenopsluiting geplaas, en die bevelvoerder van die kamp het die hoof van die SS om toestemming gevra om mnr. Dickmann voor al die ander gevangenes in die kamp tereg te stel. Op 15 September 1939 moes honderde Getuies van Jehovah, insluitende mnr. Dickmann se vleeslike broer Heinrich, toekyk terwyl mnr. Dickmann tereggestel is. Twee dae later het The New York Times uit Duitsland berig: “August Dickmann, 29 jaar oud, . . . is hier deur ’n vuurpeloton doodgeskiet.” Die koerant het verder gesê dat hy tereggestel is omdat hy “weens godsdiensredes” diensplig geweier het.

Op 18 September 1999 is ’n gedenkplaat ter ere van die meer as 890 Getuies van Jehovah wat in Sachsenhausen opgesluit was, op die buitemuur van die voormalige konsentrasiekamp aangebring. ’n Gedenksteen is ook ter ere van mnr. Dickmann onthul.

Die 75ste herdenking sal by mnr. Dickmann se gedenksteen begin, waarna toesprake gehou sal word in die kombuis wat die gevangenes gebruik het. Dr. Detlef Garbe, ’n skrywer en die direkteur van die gedenkterrein van die Neuengamme-konsentrasiekamp, sal die gasspreker wees.

Mediakontak(te):

Internasionaal: J. R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Duitsland: Wolfram Slupina, tel. +49 6483 41 3110

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000