Spring na inhoud

21 JANUARIE 2015
POLE

Die 70ste herdenking van Auschwitz-oorlewendes se bevryding—Jehovah se Getuies word ook onthou

Die 70ste herdenking van Auschwitz-oorlewendes se bevryding—Jehovah se Getuies word ook onthou

WARSKOU, Pole—Op 27 Januarie 2015 sal duisende die 70ste herdenking van die bevryding van gevangenes uit Auschwitz, ’n Duitse Nazi-konsentrasie- en uitwissingskamp, bywoon. Hierdie berugte kamp, wat hoofsaaklik gebruik is vir die uitwissing van rassegroepe wat ’n teiken van die Nazi’s was, is ook gebruik in die vervolging van Jehovah se Getuies van verskeie nasionaliteite, insluitende Duitsers.

Die Staatsmuseum van Auschwitz-Birkenau en die Internasionale Raad van Auschwitz reël die geleentheid. Die president van Pole, Bronisław Komorowski, sal dit na verwagting bywoon, en etlike lande regoor die wêreld sal staatsafgevaardigdes stuur. Die geleentheid sal ook regstreeks oor die Internet uitgesaai word.

Auschwitz is geleë in die voorstede van Oświęcim, ’n Poolse stad wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s geannekseer is. Dit het begin as ’n Duitse konsentrasiekamp met sowat 700 Poolse gevangenes, wat in Junie 1940 daar aangekom het. Auschwitz het gou ’n massiewe kompleks geword, met meer as 40 kampe en subkampe. Die vier gaskamers in Auschwitz-Birkenau het elke dag tot 20 000 lewens geëis. Ten minste 1,1 miljoen mense, insluitende meer as 400 Getuies van Jehovah, is gedurende die byna vyf jaar van Auschwitz se bestaan, na die kamp gestuur.

Die webwerf van die Staatsmuseum van Auschwitz-Birkenau sê: “Buiten kort verwysings na Jehovah se Getuies (in die kampverslae Bybel[studente] genoem) wat weens hulle godsdiensoortuigings opgesluit is, maak die lektuur oor die geskiedenis van die Auschwitz-konsentrasiekamp nie melding van hulle nie. Hierdie gevangenes verdien meer aandag weens die manier waarop hulle daarin geslaag het om ondanks kampomstandighede by hulle sedelike beginsels te bly.” Museumverslae dui aan dat Jehovah se Getuies onder die eerste gevangenes was wat na Auschwitz gestuur is en dat meer as 35 persent van die honderde Getuies wat soontoe gestuur is, daar gesterf het.

Andrzej Szalbot (Gevangene–IBV 108703): In 1943 deur Nazi’s in hegtenis geneem en na Auschwitz gestuur weens sy gewetensbeswaar teen diensplig.

Die Nazi-regering het al in 1933 die bedrywighede van Jehovah se Getuies begin teëstaan en die organisasie regoor Duitsland verbied. Die Getuies se sedelike beginsels en gebruike het nie met die Nazi-ideologie gestrook nie. Die Getuies het byvoorbeeld nie die verpligte “Heil Hitler!” gesê nie, want hulle het dit as dislojaliteit teenoor God beskou om hulde aan Hitler te betoon. Die Getuies het ook geweier om enige militêre pligte te verrig, ’n standpunt wat die regering as vyandigheid teen die staat beskou het. “As iemand diensplig geweier het, is hy na ’n konsentrasiekamp gestuur”, verduidelik Andrzej Szalbot, wat in 1943 in hegtenis geneem is en na Auschwitz gestuur is toe hy maar net 19 was. Jehovah se Getuies is belowe dat hulle onmiddellik vrygelaat sou word as hulle ’n dokument teken waarin hulle hulle lidmaatskap van die organisasie verbreek en verklaar dat die leringe daarvan vals is. Mnr. Szalbot het geweier om dit te teken.

Jehovah se Getuies is belowe dat hulle vrygelaat sou word as hulle van hulle geloof afstand doen deur ’n verklaring soortgelyk aan hierdie een te teken.

Amptelike Nazi-dokumentasie verwys na Jehovah se Getuies met die afkorting “IBV”, wat staan vir Internationale Bibelforscher-Vereinigung (Internasionale Bybelstudente-vereniging), die amptelike Duitse naam van hulle organisasie. Die Nazi’s het vereis dat die Getuies ’n pers driehoek op hulle uniform dra. Hierdie simbool het die Getuies gehelp om hulle medegelowiges in die kamp te identifiseer. Hulle het elke aand voordat hulle name afgelees is, bymekaargekom om mekaar op te bou. Geheime vergaderinge is ook gereël om die Bybel te bespreek met gevangenes wat beïndruk was met die Getuies se liefde en geloof. ’n Hele paar gevangenes het Jehovah se Getuies geword terwyl hulle in Auschwitz-kampe was.

Op Saterdagoggend 27 Januarie 1945 het die Sowjetunie se Rooi Leër in Oświęcim aangekom. Teen drieuur die middag het die magte van die Sowjetunie sowat 7 000 gevangenes uit Auschwitz I, Auschwitz II (Birkenau) en Auschwitz III (Monowitz) bevry.

Stanisław Zając. Het op 16 Februarie 1943 in Auschwitz aangekom.

Stanisław Zając, een van Jehovah se Getuies, was onder die tienduisende wat deur die Nazi’s gedwing is om die Auschwitz-kampe te verlaat voor die koms van die Rooi Leër. Mnr. Zając en omtrent 3 200 ander gevangenes het die Jaworzno-subkamp verlaat en deur diep sneeu voortgesukkel op die berugte doodsmars. Na raming het minder as 2 000 die driedaagse staptog na Blechhammer oorleef, ’n afgeleë Auschwitz-subkamp in die woud. In sy lewensverhaal het mnr. Zając vertel van die geveg wat gewoed het terwyl hy en ander gevangenes in die kamp weggekruip het. Hy het gesê: “Ons kon tenks hoor verbyry, maar niemand kon die moed bymekaarskraap om te gaan kyk aan wie dit behoort nie. In die oggend het ons uitgevind dat dit die Russe was. . . . Die Russiese leër het die oopte in die woud gevul, en daar het my konsentrasiekamp-nagmerrie tot ’n einde gekom.”

Op 27 Januarie vanjaar sal konferensies en uitstallings in verband met die 70ste herdenking van die bevryding van gevangenes uit Auschwitz in verskeie stede regoor die wêreld gehou word.

Mediaverteenwordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Duitsland: Wolfram Slupina, tel. +49 6483 41 3110

Pole: Ryszard Jabłoński, tel. +48 608 555 097

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000