Spring na inhoud

1 DESEMBER 2017
MEXIKO

Getuies is gereed om met groot herbouwerk in Guatemala en Mexiko te begin ná verwoestende aardbewings

Getuies is gereed om met groot herbouwerk in Guatemala en Mexiko te begin ná verwoestende aardbewings

Op 1 Desember is daar begin met die groot noodlenigings-projek, wat omtrent R127 miljoen sal kos. Die werk sluit in dat amper 500 huise en 16 Koninkryksale herbou sal word. Baie ander geboue sal ook reggemaak word wat beskadig is in die twee aardbewings wat Guatemala en Mexiko in September getref het.

MEXIKOSTAD — Die Takkomitee van Sentraal-Amerika sal op 1 Desember 2017 met die groot werk begin om huise en sale in Guatemala en Mexiko te herstel en te herbou. Dit is deel van die noodlenigings-werk waarmee daar begin is ná twee aardbewings in September. Die takkantoor het onmiddellik ná die aardbewings gereël dat water, kos, medisyne en klere na ons broers geneem word. In die volgende stadium van die noodlenigings-werk sal byeenkomssale, Koninkryksale en ons broers se huise herbou word.

In die Mexikaanse state Chiapas en Oaxaca moes 655 broers en susters hulle huise verlaat nadat daar op 7 September ’n aardbewing van 8,2 was. As deel van die noodlenigings-werk sal 315 huise en 15 Koninkryksale in die twee state herbou word. Daar sal ook 1 039 huise, 108 Koninkryksale en 3 byeenkomssale reggemaak word.

Op 19 September was daar ’n aardbewing van 7,1 in Mexikostad en die state Mexiko, Morelos en Puebla. As gevolg hiervan moes 463 broers en susters hulle huise verlaat. Altesaam 158 huise sal herbou word, en daar sal ook 600 huise, 39 Koninkryksale en 1 byeenkomssaal reggemaak word.

In Guatemala moes 36 broers en susters hulle huise verlaat ná die aardbewing van 7 September. Konstruksieknegte en vrywilligers in die omgewing sal oor die volgende paar maande nege huise en een Koninkryksaal herbou. Hulle sal ook die herstelwerk aan 20 huise en 4 Koninkryksale doen.

Die Takkomitee het uitgewerk dat die noodlenigings-werk omtrent R127 miljoen sal kos. Daar sal 39 noodlenigings-komitees by die werk betrokke wees en dit sal ongeveer vyf tot ses maande neem. Sowat 30 konstruksieknegte het gereël om na hierdie gebiede te trek en 970 vrywilligers het ook aangebied om met die bouwerk te help. Ons is vol vertroue dat Jehovah die werk sal seën, asook die vrywillige gees van almal wat ons broers in hierdie gebiede help. — 2 Korintiërs 8:4.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Guatemala: Juan Carlos Rodas +502-5967-6015

Mexiko: Gamaliel Camarillo, +52-555-133-3048