Spring na inhoud

Dr. Gabriele Hammermann, direkteur van die herdenkingsentrum by die Dachau-konsentrasiekamp, wys tydens haar aanbieding ’n foto van die gedenkteken wat Max Eckert herdenk.

9 JULIE 2018
DUITSLAND

Nie meer onbekend nie: Max Eckert word herdenk by herdenkingsentrum van Dachau-konsentrasiekamp

Nie meer onbekend nie: Max Eckert word herdenk by herdenkingsentrum van Dachau-konsentrasiekamp

Op 7 Mei 2018 is daar tydens ’n seremonie wat by die Dachau-herdenkingsentrum gehou is, ’n gedenkplaat voor omtrent 200 mense onthul om broer Max Eckert te herdenk. Broer Eckert was meer as twee jaar lank ’n gevangene in die voormalige Dachau-konsentrasiekamp voordat hy na die bekende Mauthausen-konsentrasiekamp in Oostenryk gestuur is. Hy het nooit weer terug huis toe gegaan nie. Hoewel ons nie baie omtrent sy dood weet nie, staan hy nou algemeen bekend as ’n man van sterk geloof.

Onlangse foto van die voormalige Dachau-konsentrasiekamp, waar Max Eckert ’n gevangene was voordat hy na Mauthausen gestuur is.

Mauthausen-konsentrasiekamp, waar Max Eckert gesterf het.

RVerslae oor broer Eckert se ondervindinge wys dat hy altyd aan God getrou gebly het. Hy en sy vrou het al in 1935 ’n boete gekry omdat hulle met ander oor hulle geloof gepraat het. Hy het later sy werk verloor omdat hy geweier het om ’n vlag met ’n swastika te dra. In 1937 het hy een van omtrent 600 dapper Getuies van Jehovah geword wat in Dachau gevange gehou is. Ongeveer twee jaar later is hy na Mauthausen oorgeplaas waar ten minste 90 000 gevangenes onder haglike omstandighede dood is. Op 21 Februarie 1940 het broer Eckert se vrou ’n telegram ontvang wat net gesê het: “Man is vandag in die kamp dood. Kontak polisie vir verdere inligting.” Hy was 43 jaar oud.

Dr. Gabriele Hammermann, direkteur van die herdenkingsentrum by die Dachau-konsentrasiekamp, het in haar toespraak verduidelik: “Die Bybelstudente [soos Jehovah se Getuies toe bekendgestaan het] is vervolg omdat hulle oortuigings hulle nie toegelaat het om lede van enige Nazi-organisasies te word, om Hitler te salueer of om aan militêre diens deel te neem nie.” Sy het verder gesê: ‘Ander medegevangenes het die Bybelstudente baie gerespekteer vir hulle goeie gesindheid en het veral beklemtoon hoe standvastig hulle was en dat hulle altyd bereid was om te help.’

Broer Wolfram Slupina, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Duitsland, het erken dat broer Max Eckert onbekend was vir baie van dié wat die seremonie bygewoon het. Hy het gesê: “Ons het nie eens ’n foto van Max Eckert nie.” Maar hy het verder gesê dat die gedenkplaat “’n erkenning is van sy standvastigheid en sy rotsvaste geloof — selfs tot die dood toe”.

Jehovah sal die geloof en getrouheid van Max Eckert sowel as alle ander Getuies van Jehovah wat vir hulle geloof gesterf het, nooit vergeet nie. — Hebreërs 6:10.