Spring na inhoud

30 MEI 2019
OESBEKISTAN

Die Herdenking van Christus se dood word openlik regoor Oesbekistan gehou

Die Herdenking van Christus se dood word openlik regoor Oesbekistan gehou

Op 19 April 2019 het ons broers die Herdenking van Christus se dood regoor die hele Oesbekistan openlik gehou vir die eerste keer in onlangse jare.

Jehovah se Getuies in Oesbekistan is net in Tjirtjik, ’n stad naby Tasjkent, amptelik geregistreer. In vorige jare moes ons broers wat buite Tjirtjik bly, die Gedenkmaal in die geheim hou sodat die polisie nie inmeng en hulle onderbreek nie. Hierdie jaar het die broers die polisie laat weet dat hulle die Gedenkmaal sal hou en hulle genooi om dit by te woon. Die polisie het goed gereageer en was selfs bereid om te help dat almal wat dit bywoon, veilig sou wees. In party gebiede het polisiemanne die Gedenkmaal bygewoon.

Broer Mark Sanderson van die Bestuursliggaam het die Gedenkmaaltoespraak gehou in ’n Koninkryksaal-kompleks in Tjirtjik, soos gewys word in die hooffoto. Die program is in Russies vertaal. Daar was altesaam 781 mense. Later die aand is nog twee Gedenkmaalvierings by dieselfde Koninkryksaal-kompleks gehou.

Gedurende die besoek het broer Sanderson saam met Paul Gillies van die wêreldhoofkwartier en twee broers van Sentraal-Asië besprekings gehad met senior-amptenare van die Departement van Justisie en die Nasionale Sentrum vir Menseregte. Gedurende hierdie besprekings is ons broers toegelaat om akkurate inligting oor ons geloof en organisasie aan te bied. Ons hoop dat die amptenare registrasie in gemeenskappe buite Tjirtjik sal ondersteun as hulle meer oor ons organisasie en geloof weet. Dit sal die broers help om gepaste plekke van aanbidding te kry.

Broer Mark Sanderson saam met die drie ander broers buite die Departement van Justisie van die Republiek van Oesbekistan

Die Gedenkmaalviering wat openlik gehou is en die respekvolle besprekings met die amptenare is ’n stap in die regte rigting in Oesbekistan. In die laaste ses maande is geen huise van Jehovah se Getuies deursoek nie. Hulle het ook nie boetes gekry en is ook nie gearresteer nie. En omtrent ’n jaar gelede, op 14 Mei 2018, het mnr. Javlon Vakhabov, die ambassadeur van Oesbekistan in die Verenigde State, openlik gesê dat die regering daaraan sal werk om wetgewing te verander. Dit sal dit vir Jehovah se Getuies makliker maak om geregistreer te word.

Ons weet dat Jehovah die werk van ons broers in Oesbekistan sal seën terwyl hulle aanhou om “’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”. – 1 Timoteus 2:2.