Spring na inhoud

29 OKTOBER 2019
AZERBEIDJAN

Europese Hof van Menseregte beslis ten gunste van vyf Getuies wat gewetensbeswaar het in Azerbeidjan

Europese Hof van Menseregte beslis ten gunste van vyf Getuies wat gewetensbeswaar het in Azerbeidjan

Op 17 Oktober 2019 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) beslis dat ons broers in Azerbeidjan wat gewetensbeswaar het teen militêre diens, nie as kriminele gestraf moet word nie. Die uitspraak bevestig dat dit ’n persoon se reg op vryheid van gewete, gedagte en godsdiens skend as hulle gestraf word vir gewetensbeswaar. Dit is die eerste keer dat die EHMR ten gunste van Jehovah se Getuies in Azerbeidjan beslis.

Die uitspraak is van toepassing op vier aparte aansoeke wat tussen 2008 en 2015 by die Hof ingedien is. Die aansoeke het vyf broers ingesluit: Moesjfig Mammadof, Samir Hoeseinof, Farid Mammadof, Fachraddin Mirzajef en Kamran Mirzajef. Hulle elkeen is skuldig bevind en het tronkstraf in Azerbeidjan uitgedien omdat hulle geweier het om militêre diens te doen. Die Hof het gevind dat Azerbeidjan se optrede teen ons broers die Europese Konvensie oor Menseregte geskend het omdat die broers se gewetensbeswaar teen militêre diens op “opregte godsdiensoortuigings” gebaseer is. Die Hof het ook verder gesê dat geestelikes en studente van spesiale godsdiens-opleidingskole nie die enigste mense moet wees wat alternatiewe diens kan doen nie. Die Hof het vir Azerbeidjan gesê om skadevergoeding te betaal vir die broers wat betrokke is by die sake.

Soos in die hofuitspraak verduidelik is, het Azerbeidjan ingestem om wetgewing oor alternatiewe burgerlike diens te maak toe die land in 2001 deel geword het van die Europese Raad. Azerbeidjan se eie Grondwet maak ook voorsiening vir alternatiewe burgerlike diens vir mense wie se persoonlike oortuigings nie ooreenstem met verpligte militêre diens nie. Maar die regering het nog nie die wetgewing oor alternatiewe diens toegepas nie, en ons broers word nog steeds krimineel vervolg vir gewetensbeswaar.

Ons hoop dat die Hof se uitspraak die regering in Azerbeidjan sal motiveer om alternatiewe burgerlike diens beskikbaar te maak. Intussen bid ons dat ons broers in Azerbeidjan sal aanhou om Jehovah moedig te dien. – Psalm 27:14.