Spring na inhoud

Die voormalige tronk in Gaeta, Italië, waar party van ons broers aangehou is vir hulle geloof

9 JULIE 2020
ITALIË

Hoe Jehovah se Getuies in Italië bygedra het tot die reg op gewetensbeswaar

Hoe Jehovah se Getuies in Italië bygedra het tot die reg op gewetensbeswaar

Soos in baie lande vandag, erken Italië die reg van sy burgers om militêre diens te weier op grond van gewetensbeswaar. Maar dit was nie altyd so gewees nie. Dit is grootliks danksy die hoë prys wat Jehovah se Getuies betaal het dat Italië nou hierdie basiese mensereg erken.

Baie jare ná die Tweede Wêreldoorlog het die wet in Italië vereis dat mans militêre diens moet doen. In 1946, onmiddellik ná die oorlog, was daar net 120 Getuies in die hele land. Maar meer en meer mense het Jehovah se Getuies geword. So daar was baie meer jong Getuie-mans wat geweier het om verpligte militêre diens te doen. Hulle het daardie besluit geneem omdat hulle vas geglo het in Bybelwaarhede wat wys dat Christene neutraal moet bly, geweld moet verwerp en ander moet liefhê.

In ’n onlangse opname wat deur die takkantoor in Italië geneem is, het hulle gevind dat ten minste 14 180 broers wat tronk toe gestuur is omdat hulle geweier het om militêre diens te doen, nog steeds lewe. Hierdie broers is veroordeel tot altesaam 9 732 jaar in die tronk, veral tussen die laat 1960’s en die laat 1990’s.

Sergio Albesano, ’n geskiedkundige op die gebied van anti-militarisme in Turyn, Italië, het gesê dat “die oorgrote meerderheid jongmense wat in die tronk was omdat hulle geweier het om militêre diens te doen”, Jehovah se Getuies was. Hy het bygevoeg dat danksy die sterk oortuiging van hierdie jong manne, “is die probleem onder die aandag van baie mense in Italië gebring”.

Voormalige eerste minister Giulio Andreotti, wat in die 1960’s Italië se minister van verdediging was, het besluit om persoonlik party van die Getuies wat in die tronk was, te ontmoet. Hy het dit gedoen omdat hy wou verstaan wat die redes was hoekom hulle weier om militêre diens te doen. Hy het later geskryf: “Ek was beïndruk deur [hulle] vaste godsdiensoortuigings en dat hulle weier om betrokke te raak by die politiek. Dit was nie per ongeluk dat hulle vas geweier het om by die weermag aan te sluit en dat hulle soveel jare in die tronk verduur het nie.”

Die eerste wet wat burgers toegelaat het om militêre diens te weier, was in 1972 goedgekeur. Hoewel die wet alternatiewe burgerlike diens ingestel het, was dit nog steeds onder militêre beheer, wat nie vir ons broers aanvaarbaar was nie.

Uiteindelik, op 8 Julie 1998, het die Italiaanse regering ’n nuwe wet aangeneem wat alternatiewe burgerlike diens ingestel het wat onafhanklik van die weermag was. Daarom was hierdie alternatiewe burgerlike diens vir Jehovah se Getuies aanvaarbaar. In Augustus 2004 het Italië ’n wet aangeneem wat diensplig afgeskaf het. Dit het in Januarie 2005 geldig geword.

Sergio Lariccia, ’n regsgeleerde en regsprofessor aan die Sapienza-universiteit in Rome, is een van baie deskundiges wat hierdie veranderinge op die regsgebied van Italië aan Jehovah se Getuies toeskryf. Hy het gesê: “In die verlede het militêre godsdiensleiers dienspligweiering beskryf as ‘’n belediging teen jou vaderland, iets wat niks te doen het met die Christelike gebod om lief te hê nie en iets wat net lafaards sou doen’. Maar omdat baie Jehovah se Getuies vas gestaan het, het hulle bygedra tot die veranderinge in wette en in die Italiaanse samelewing.”

Ons broers se standpunt het nie net ’n invloed gehad op die Italiaanse regstelsel nie. Baie tronkbewaarders het ook Jehovah se Getuies geword nadat hulle die gedrag van Getuie-gevangenes raakgesien het. Een van hulle, Giuseppe Serra, vertel: “Die voorbeeld van daardie jong Getuies het my beweeg . . . om die Bybel te begin studeer.” Hy het in 1972 ’n Getuie geword. (Sien die venster hieronder.)

Ons is bly oor die moedige voorbeeld wat gestel is deur generasies van ons broers en hulle gesinne in Italië, sowel as baie ander in ons wêreldwye broederskap wat die opdrag ernstig neem om “nie meer [te] leer om oorlog te voer nie”. – Jesaja 2:4.