Spring na inhoud

3 SEPTEMBER 2020
WÊRELDNUUS

Streekbyeenkoms vir 2020 – Eerste vooraf opgeneemde streekbyeenkoms wêreldwyd gehou

Streekbyeenkoms vir 2020 – Eerste vooraf opgeneemde streekbyeenkoms wêreldwyd gehou

Gedurende Julie en Augustus 2020 het miljoene van ons broers en susters en belangstellendes die streekbyeenkomsprogram vir 2020 gekyk.

Jehovah se Getuies het almal uitgesien na die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms. Dit was veronderstel om in byeenkomssale en ander gehuurde plekke in 240 lande gehou te word. Om mense se gesondheid te beskerm wat beplan het om na die byeenkoms toe te gaan, het die Bestuursliggaam besluit om hierdie streekbyeenkomste wêreldwyd met ’n vooraf opgeneemde geleentheid te vervang. Dit is die eerste keer vanaf 1897 dat die organisasie nie ’n regstreekse byeenkoms hou nie.

Kenneth Cook Jr., ’n lid van die Bestuursliggaam, sê: “Toe die streekbyeenkomste gekanselleer is, was dit ons doelwit om een internasionale geleentheid te hê waar almal dit op dieselfde tyd kon kyk. Ons het geweet dat die program in minder as vier maande in honderde tale vertaal moes word. Hierdie soort projek neem gewoonlik ’n jaar of langer om te beplan en te voltooi. Ons was baie bly toe die eerste deel van die program op 6 Julie 2020 in omtrent 400 tale beskikbaar was. Ons verwag dat die program in 511 tale beskikbaar sal wees!”

Een van ons susters, ’n enkelma met drie kinders, sê die volgende oor die voordele van die vooraf opgeneemde program: “Hoewel ons ons broers en susters mis, was dit goed vir die kinders. Om die program in kleiner dele op ’n slag te kyk, het hulle regtig gehelp om te fokus. Wanneer hulle ’n breek nodig het, kan ons dit net stop. Niemand mis enigiets nie. Vrydag se sessie het beklemtoon dat kinders soos pyle is wat in die rigting van ’n gelukkige en vervullende lewe in Jehovah se diens gerig moet word. Die vooraf opgeneemde program help my om dit te doen.” – Psalm 127:4.

Hierdie spesiale vooraf opgeneemde byeenkoms het die aandag getrek van joernaliste regoor die wêreld. Byvoorbeeld, Robert Hendriks, wat toesig hou oor die Openbare Inligtingsafdeling in die Verenigde State, sê: “Baie joernaliste het berigte geskryf oor die vooraf opgeneemde streekbyeenkoms. Die berigte het verduidelik dat ons organisasie tegnologie gebruik het om die streekbyeenkomsprogram uit te saai en almal veilig te hou.”

Die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020 het vir ons op ’n nuwe en opwindende manier gewys dat Jehovah ons Groot Onderrigter is. – Jesaja 30:20.