Spring na inhoud

30 OKTOBER 2020
INDIË

Nuwe Wêreld-vertaling in drie Indiese tale vrygestel

Nuwe Wêreld-vertaling in drie Indiese tale vrygestel

Op Sondag 25 Oktober 2020 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in drie Indiese tale vrygestel: Goedjarati, Kanarees en Pandjabi. Die Bybels is in elektroniese formaat vrygestel gedurende ’n vooraf opgeneemde toespraak. Verkondigers het na die program by hulle huise gekyk. Onmiddellik ná die program kon hulle ’n kopie van die Bybel in hulle taal aflaai.

Goedjarati

Omtrent 61 miljoen mense praat Goedjarati regoor die wêreld.

Twee spanne van ses vertalers het sewe jaar lank gewerk om die Bybel te vertaal. ’n Lid van die vertaalspan het gesê: “Hierdie vrystelling maak ons harte baie bly. Dit gebruik eenvoudige taal wat selfs jong kinders kan verstaan.”

Nog ’n vertaler het gesê: “Jehovah se naam is in hierdie Bybel teruggesit waar dit ook al in die oorspronklike teks verskyn het. Ons weet dat die broers en susters se geloof sterker sal word wanneer hulle hierdie Bybel in hulle persoonlike studie gebruik.”

Hierdie vertaling is maklik om te verstaan, so ons weet die lesers sal dit geniet om dit te gebruik. Dit sal ook “die nederiges” help om Jehovah te leer ken. – Psalm 25:9.

Kanarees

Daar is ’n groot verskil tussen hoe Kanarees gepraat word en hoe dit geskryf word. Hoe die taal gepraat word, verskil van streek tot streek. ’n Groot uitdaging vir die vertalers was om die Bybel se vertaling natuurlik en eenvoudig te hou. Maar terselfdertyd moes hulle ook die Bybel se boodskap akkuraat oordra aan die lesers in al die streke.

Die vertaling het meer as sewe jaar gevat om te voltooi. Tien vertalers het aan die projek gewerk. Een vertaler het gesê: “As gevolg van die COVID-19-pandemie het ek gedink dat hierdie Bybel eers in 2021 vrygestel sou word. Maar hierdie vrystelling wys dat niks Jehovah se werk kan keer nie.”

Nog ’n lid van die vertaalspan voeg by: “Die feit dat mense wat Kanarees praat, nou Jehovah se woorde in hulle moedertaal kan lees en sy naam kan sien op al die regte plekke waar dit in die Bybel herstel is, is baie opwindend!”

Daar is meer as 2 800 verkondigers wat Kanarees praat in die gebied van Indië se takkantoor. Ons weet dat hierdie Bybelvertaling hulle sal help. Dit sal ook die amper 46 miljoen mense in die wêreld wat Kanarees praat, help om te verstaan “hoe diep . . . God se rykdom en wysheid en kennis” is. – Romeine 11:33.

Pandjabi

Die vertaalspan wat die Nuwe Wêreld-vertaling in Pandjabi vertaal het, het uit ses vertalers bestaan. Hulle het 12 jaar lank aan hierdie projek gewerk. Hierdie vertaling sal die meer as 100 miljoen mense help wat Pandjabi in Indië en regoor die wêreld praat.

Een van die vertalers verduidelik: “Ons het gedoen wat ons kon met wat ons gehad het. Jehovah het ons baie gehelp sodat ons die werk kon klaarkry. Hierdie Bybel sal ons broers se geloof versterk, hulle ’n kalm hart gee en hulle help om probleme in die toekoms beter te hanteer.”

Nog ’n vertaler sê: “Die opregte mense sal dit geniet om hierdie Bybel te lees, veral die poëtiese boeke. Hulle sal gehelp word deur al die navorsingshulpmiddele in hierdie vertaling.”

Ons is saam met ons broers dankbaar teenoor Jehovah vir al sy “wonderlike werke” wat “te veel [is] om op te noem”. – Psalm 40:5.