Spring na inhoud

’n Foto van die riglyn wat deur die Ministerie van Onderwys in Kenia uitgereik is

7 JUNIE 2022
KENIA

Riglyn deur die regering van Kenia beskerm die regte van skoolkinders

Riglyn deur die regering van Kenia beskerm die regte van skoolkinders

Die Ministerie van Onderwys in Kenia het onlangs ’n riglyn uitgereik waarin skoolamptenare gevra word om die godsdiensregte van studente te beskerm. Die riglyn is op 4 Maart 2022 uitgereik. Ons hoop dat dit sal help om die regte van die kinders van Jehovah se Getuies te beskerm wat al baie jare lank slagoffers van diskriminasie is.

Sedert 2015 is 36 kinders van Jehovah se Getuies uit skole geskors omdat hulle geweier het om deel te neem aan godsdiensbedrywighede wat deur die skool vereis word. In 2018 het verteenwoordigers van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Nairobi, onderwysamptenare van Kenia ontmoet om hulle te vra om te help om die diskriminasie te stop. Byvoorbeeld, op 23 Oktober 2018 het die verteenwoordigers dr. Amina Mohamed ontmoet, wat op daardie stadium die Kabinet Sekretaris van Onderwys was.

Die regering se riglyn erken openlik dat party “skooladministrateurs en -bestuurders” in Kenia “flou verskonings gebruik om studente uit die skool te hou”. Die riglyn wys spesifiek uit dat “party skole veral die godsdiensregte van studente skend en godsdiens as ’n rede gebruik om studente nie by die skool te aanvaar nie of uit die skool te skors”.

In Kenia word daar baie gepraat oor hierdie riglyn. Nuusagentskappe het gesê dat hierdie riglyn uitwys dat “die skending van godsdiensregte teen verskeie nasionale wetgewing, streek en internasionale ooreenkomste en . . . veral die Grondwet van Kenia is”. Daarom kan Getuie-kinders en ander nie gevra word “om iets te doen of op te tree op ’n manier wat in stryd is met sy of haar godsdiens nie”. Dit sluit af met die versoek dat alle skoolamptenare hierdie riglyn moet toepas.

Kimberly Nyang’ate, ’n 17-jarige suster in Nairobi, het gesê: “My ouers was al meer as vyf keer gevra om skool toe kom omdat ek geweier het om aan godsdiensbedrywighede deel te neem. Ek is bly dat ons hierdie riglyn het wat ons keuse om aan die Bybel gehoorsaam te wees sal beskerm.”

Ons is dankbaar dat redelike amptenare hierdie riglyn ingestel het wat ons skoolkinders in Kenia sal help om standvastig by hulle godsdiensoortuigings te bly. – 1 Korintiërs 15:58.