Spring na inhoud

Broer Mark Sanderson van die Bestuursliggaam kondig die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling in Russiese Gebaretaal aan. Verkondigers in verskillende lande kyk na die program: (Kloksgewys van links bo) Oekraïne, Letland, Astana, Kazakstan en Almaty, Kazakstan

31 MEI 2023
WÊRELDNUUS

Volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Russiese Gebaretaal vrygestel

Volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Russiese Gebaretaal vrygestel

Op 27 Mei 2023 het broer Mark Sanderson, ’n lid van die Bestuursliggaam, die heel eerste volledige vertaling van die Nuwe Wêreld-vertaling in Russiese Gebaretaal (RSL) vrygestel. Honderd-agt-en-veertig mense in totaal het die program in persoon bygewoon. En ongeveer 5 000 mense in 15 lande het na die program deur middel van videoverbinding of na ’n opname daarvan gekyk. Die pas vrygestelde Bybel is nou beskikbaar op jw.org en in die JW Library Sign Language-app.

Een van die dowe broers het gesê: “Wanneer ek na die Bybel in gebaretaal kyk, is dit asof ek kan sien hoe Jesus gevoel het toe hy gesien het hoe mense swaarkry. Dit raak werklik my hart!”

Voor die vrystelling van die Bybel in RSL, het baie Getuies wat doof is, staatgemaak op die gedrukte Bybel in Russies. Maar omdat RSL ’n baie beskrywende taal is, het party verkondigers gesukkel om van die uitdrukkings te verstaan.

Byvoorbeeld, in die verslag in 1 Konings 17 het die weduwee van Sarfat vir die profeet Elia gesê dat sy en haar seun sou sterf nadat hulle geëet het. Party van die dowe verkondigers het gedink dat die weduwee dit gesê het omdat haar kos bederf of vergiftig was. Die RSL vertaling het dit duidelik gemaak dat dit hulle laaste bietjie kos was.

RSL word deur baie mense van verskillende nasionaliteite en kulture gebruik. Daarom het die vertalers dit in gedagte gehou dat mense party gebare verskillend verstaan in verskillende gebiede. Een van die vertalers het verduidelik: “’n Gebaar in een streek kan ‘sonde’ beteken, maar in ’n ander streek kan dit ‘God’ beteken. En die gebaar vir ‘dissipel’ in een gebied beteken ‘laaste’ of ‘arm’ in ’n ander gebied. As ’n vertaalspan het ons probeer om die bekendste gebare en uitdrukkings te gebruik.”

Ons is bly saam met ons broers en susters wat RSL gebruik en dank Jehovah dat hy vir hulle so ’n pragtige geskenk gegee het. – Spreuke 10:22.