27 MEI 2024
WÊRELDNUUS
Toewyding van takkantoor in Brittanje – Besoekers uit meer as 60 lande verwelkom
Op 18 Mei 2024 is die takkantoor in Chelmsford, Engeland, toegewy. Broer Kenneth Cook jr., ’n lid van die Bestuursliggaam, het die toewydingstoespraak gegee. Altesaam 1 518 broers en susters het die toewydingsprogram in vier ouditoriums by die takkantoor bygewoon. ’n Hele paar lede van die Bestuursliggaam en helpers van hulle komitees was daar. Nog 10 085 mense het na die program deur middel van videoverbinding by Byeenkomssale en Bybelonderrigtingsentrums regoor Ierland en die Verenigde Koninkryk gekyk. Van die amper 11 000 broers en susters wat met die konstruksie van die takkantoor gehelp het, het meer as 3 000 die program bygewoon.
Die volgende dag het altesaam 172 834 broers en susters ’n spesiale geestelike program geniet wat na 1 821 gemeentes regoor die takkantoor se gebied gestroom is.
Die week voor die toewyding het die gaste wat genooi is, die geleentheid gehad om die fasiliteite van die takkantoor te besoek. Interaktiewe uitstallings is gereël sodat besoekers kon leer oor die werk wat by Bethel gedoen word om die predikingswerk te ondersteun en om die gemeentes in die takkantoor se gebied te versterk. Byvoorbeeld, die Streekvideospan het gewys hoe hulle ’n video wat op die Bybel gebaseer is, maak. Hulle het gaste ook genooi om te kyk terwyl hulle ’n video opneem.
Behalwe vir hierdie aktiwiteite het baie broers en susters ook ander opvoedkundige toere buite Bethel geniet. Dit het uitstappies na geskiedkundige plekke in die stad Londen en die gebied van Kent ingesluit waar hulle meer oor die geskiedenis van die Bybel in Engeland geleer het.
Terwyl broer Richard Cook, ’n lid van die Takkomitee in Brittanje, aan die opwindende week se bedrywighede teruggedink het, het hy gesê: “Dit was wonderlik om te sien hoe broers en susters van regoor die wêreld vir hierdie baie spesiale geleentheid bymekaargekom het. Ons was verbaas om te sien hoe Jehovah ons gehelp het om uitdagings te oorkom sodat ons ’n vreugdevolle toewydingsprogram kon hê wat sy naam waardig is.”
Ons is baie bly saam met ons broers en susters in die takkantoor in Brittanje se gebied wat “baie vreugdevol” is noudat hierdie pragtige takkantoorfasiliteite aan ons God, Jehovah, toegewy is. – Nehemia 12:43.