Spring na inhoud

5 NOVEMBER 2013
ARMENIË

Armenië stel alternatiewe burgerlike diens in vir gewetensbeswaardes

Armenië stel alternatiewe burgerlike diens in vir gewetensbeswaardes

Dit lyk of die regering van Armenië uiteindelik die regte erken van dié wat gewetensbesware teen diensplig het. Op 23 Oktober 2013 is die aansoeke om alternatiewe burgerlike diens van 57 uit meer as 90 Getuies van Jehovah wat om hierdie nuwe program aansoek gedoen het, deur Armenië se Republikeinse Kommissie oorweeg en goedgekeur. (Die Kommissie sal ook die res van die aansoeke oorweeg.) Onder dié wat goedkeuring ontvang het om alternatiewe diens te doen, was 6 van die 20 Getuies by die Erebuni-tronk wat aansoek gedoen het om aan die nuwe program deel te neem. Hierdie ses gevangenes is op 24 Oktober 2013 vrygelaat. Die Kommissie sal die aansoeke van die Getuies wat nog in die tronk is en om alternatiewe diens aansoek doen, oorweeg en sal na verwagting die mans vrylaat wat die program kies.

’n Nuwe program

Hierdie verwikkelinge het begin toe Armenië op 8 Junie 2013 wysigings aanvaar het wat Armenië se Wet op Alternatiewe Diens in ooreenstemming met Europese standaarde bring en op 25 Julie 2013 magtigingswette aanvaar het. Die president van Armenië het op 2 Oktober 2013 na hierdie pas gewysigde wet verwys in sy kommentare aan die Parlementêre Vergadering van die Raad van Europa toe hy gesê het: “Mense wat weens hulle gewete nie in die weermag wil dien nie, sal onder ons prosesreg vrygespreek word van strafregtelike aanspreeklikheid.” Op 3 Oktober 2013 het Armenië ’n wet aangeneem wat voorsiening maak vir ’n amnestie wat die vonnisse van gewetensbeswaardes met ses maande verminder. Op grond van hierdie amnestie is agt Getuies wat minder as ses maande van hulle vonnis oorgehad het, op 8 en 9 Oktober 2013 vrygelaat.

Die nuwe program van alternatiewe burgerlike diens bied gewetensbeswaardes die geleentheid om hulle land te ondersteun op ’n wyse wat nie teen hulle Bybelopgeleide gewete indruis nie. Dit is nou buite die beheer van die weermag van Armenië en val onder burgerlike toesig. Die termyn van burgerlike diens is 36 maande en vereis 48 uur werk per week, met 10 dae verlof per jaar. Diegene wat aansoek doen, sal toewysings naby hulle huis ontvang en sal in niemiltêre posisies dien.

Verwikkelinge wat tot die wysigings gelei het

Toe Armenië in 2001 ’n lid van die Raad van Europa geword het, het dit die verpligting aanvaar van alle nuwe lidstate om ’n wet op alternatiewe diens in te stel en alle gewetensbeswaardes uit die tronk vry te laat. Ten spyte van hierdie verbintenis het Armenië voortgegaan om jong Getuiemans te vervolg en op te sluit.

Gedurende die afgelope 20 jaar het meer as 450 van Jehovah se Getuies lang tronkvonnisse uitgedien, waartydens hulle dikwels haglike toestande en slegte behandeling verduur het.

Daar was ’n sweempie van hoop vir gewetensbeswaardes toe die Republiek van Armenië se Wet op Alternatiewe Diens op 1 Julie 2004 van krag geword het. Maar toe die program vir alternatiewe diens geïmplementeer is, het dit onder die toesig en beheer van die weermag geval en was dit strafbaar. Die Raad van Europa het herhaaldelik daarop gewys dat die program vir alternatiewe diens nie met Europese standaarde ooreenkom nie. Byvoorbeeld, in Resolusie 1532 (2007) het die Parlementêre Vergadering van die Raad van Europa gesê dat dit “diep besorg is daaroor dat tientalle gewetensbeswaardes, waarvan die meeste Jehovah se Getuies is, steeds weens ’n gebrek aan ’n ware vorm van burgerlike diens opgesluit word, aangesien hulle die tronk verkies bo alternatiewe diens wat nie werklik van ’n burgerlike aard is nie”.

Die VN se Menseregtekomitee het ook kommer daaroor uitgespreek dat Armenië voortgaan om Getuie-gewetensbeswaardes op te sluit. In sy finale opmerkings in sy 105ste sessie (2012) het die Komitee gesê:

“Die Regeringsparty moet ’n ware alternatief tot diensplig instel, wat werklik niemilitêr is, toeganklik is vir alle gewetensbeswaardes en nie strafbaar of diskriminerend is wat die aard, koste of duur daarvan betref nie. Die Regeringsparty moet ook alle gewetensbeswaardes vrylaat wat in die tronk gesit is omdat hulle geweier het om diensplig of die bestaande alternatief tot diensplig te doen.”

Die EHMR bied verligting

Omdat Vahan Bayatyan en twee ander jong Getuiemans wat skuldig bevind is, geen hulp in Armeense howe kon vind nie, het hulle aansoeke teen Armenië by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien. Mnr. Bayatyan se saak het die keerpunt geword toe die Groot Kamer van die EHMR op 7 Julie 2011 met ’n groot meerderheid ten gunste van hom beslis het. Vir die eerste keer in sy geskiedenis het die EHMR beslis dat die Europese Konvensie oor Menseregte gewetensbeswaardes beskerm. Hierdie gunstige beslissing van die Groot Kamer is gevolg deur nog vier beslissings van die EHMR wat ook die regte van gewetensbeswaardes gehandhaaf het. *

Aansoekers in onlangse beslissings van die EMHR wat die reg op gewetensbeswaar gehandhaaf het: Hayk Bukharatyan en Ashot Tsaturyan.

Die Armeense regering het die Groot Kamer se beslissing in Bayatyan v. Armenië verontagsaam en 29 jong Getuies wat gewetensbeswaardes is, vervolg en skuldig bevind, en 23 van hulle is opgesluit. Van Julie 2011 tot Oktober 2013 was 86 mans altesaam meer as 168 jaar lank in Armeense tronke. Party van hierdie jong mans het die onregmatige tronkstraf betwis deur bykomende aansoeke by die EHMR in te dien.

Onopgeloste kwessies

Gewetensbeswaardes wat hulle tronkstraf uitgedien het en dié wat in Oktober 2013 vrygelaat is, hoop dat hulle misdaadrekord geskrap sal word, in ooreenstemming met Armenië se onlangse wysigings in sy strafwetboek. Nog ’n kwessie is of vergoeding betaal sal word aan diegene wat ná die Bayatyan-beslissing skuldig bevind en opgesluit is.

Dit is nog nie duidelik presies watter uitwerking Armenië se implementering van sy gewysigde wet op alternatiewe diens sal hê nie. Maar dit lyk of Armenië nou ’n ernstige poging aanwend om die regte te erken van diegene wat gewetensbesware teen diensplig het.

Die lang pad tot ’n aanneemlike program van burgerlike diens

Wanneer

Verwikkeling

2001

Armenië word ’n lid van die Raad van Europa en moet ’n wet op aanneemlike alternatiewe diens instel

2004

Wet op Alternatiewe Diens word ingestel, maar die program van alternatiewe diens val onder militêre beheer en is dus onaanneemlik vir Jehovah se Getuies

2006

Wysigings in die Wet op Alternatiewe Diens voeg strafbare voorsienings by, maar voorsien nie ware burgerlike diens wat vir Jehovah se Getuies aanneemlik is nie

2011

In sy beslissing van 16-1 in Bayatyan v. Armenië bevind die Groot Kamer van die EHMR dat die reg op gewetensvryheid geskend is en beskerm sodoende die regte van gewetensbeswaardes

2012

Twee beslissings deur die Europese Hof teen Armenië oor gewetensbeswaar: Bukharatyan v. Armenië en Tsaturyan v. Armenië

2013

Op 8 Junie word nuwe wysigings van krag, en op 25 Julie word magtigingswette aangeneem, wat moontlik ware burgerlike diens sal voorsien

Op 8 en 9 Oktober laat Armenië agt gewetensbeswaardes uit die tronk vry

Op 23 Oktober keur die Republikeinse Kommissie die aansoek om alternatiewe burgerlike diens van 57 Getuies van Jehovah goed, insluitende 6 van die 20 Getuies wat nog in Armenië in die tronk is

Op 24 Oktober laat Armenië ses Getuies uit die Erebuni-tronk vry

^ par. 12 Sien Erçep v. Turkye, nr. 43965/04, 22 November 2011; Bukharatyan v. Armenië, nr. 37819/03, 10 Januarie 2012; Tsaturyan v. Armenië, nr. 37821/03, 10 Januarie 2012; Feti Demirtaş v. Turkye, nr. 5260/07, 17 Januarie 2012.