Spring na inhoud

11 JUNIE 2015
AZERBEIDJAN

Jehovah se Getuies doen ’n beroep op Azerbeidjan se regering om onregverdige aanhouding te beëindig

Jehovah se Getuies doen ’n beroep op Azerbeidjan se regering om onregverdige aanhouding te beëindig

Jehovah se Getuies doen ’n beroep op internasionale owerhede om ’n standpunt in te neem teen die onregverdige aanhouding van Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa. Die twee vroue is in die tronk sedert 17 Februarie 2015, toe die Sabail-distrikshof beslis het dat hulle die drie maande voor hulle verhoor in die tronk moet deurbring omdat daar beweer is dat hulle onwettig godsdienslektuur versprei het. Die hof het onlangs beslis dat hulle nog twee maande in die tronk moet bly.

Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa

Vreedsame vroue word soos gevaarlike misdadigers behandel

Op 5 Desember 2014 het me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa met inwoners van ’n woonstelgebou in Bakoe oor hulle Bybelse oortuigings gepraat toe die polisie hulle voorgekeer het. Die polisie het die vroue ná ’n paar uur vrygelaat, maar ondersoekbeamptes het hulle herhaaldelik vir ondervraging laat kom. Op 17 Februarie 2015 het agente van die Departement van Nasionale Sekuriteit (MNS) die vroue onverwags na ’n geslote verhoor geneem om strafregtelik aangekla te word. Die regter het hulle as ’n “gevaar vir die publiek” bestempel om hulle aanhouding te regverdig. Die MNS het die verhoorafwagtende vroue onmiddellik by hulle hoofkwartier opgesluit, wat in die foto hierbo gesien kan word.

Sedertdien het agente van die MNS hulle huise deeglik deursoek en beslag gelê op godsdienslektuur, persoonlike notaboeke, ’n skootrekenaar en ’n selfoon. Die hof het elke aansoek om appèl wat ten behoewe van die vroue ingedien is, afgekeur en weier om die aanhouding met huisarres te vervang.

Groot besorgdheid oor gesondheid en welsyn

Regsverteenwoordigers, familie en vriende is besorg oor die twee vroue se gesondheid en welsyn, wat volgens hulle versleg. Me. Zachartjenko is 55 jaar oud. Volgens dokters is sy 80 persent gestremd weens ernstige artritis en ’n vorige besering aan haar regterbeen.

Daar bestaan veral groot besorgdheid oor die vroue se emosionele gesondheid. Die MNS laat slegs hulle regsverteenwoordigers toe om hulle te besoek. Familielede kan net een keer per maand noodsaaklike items stuur, soos klere, medisyne en seep. In ’n poging om vertroosting te voorsien, het familielede ’n Bybel vir hulle probeer stuur, maar die MNS het toestemming geweier.

Sal Azerbeidjan godsdiensverdraagsaamheid toon?

Die MNS het as deel van hulle ondersoek van me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa ten minste 20 ander Getuies laat kom vir ondervraging en ten minste tien huise deursoek. Daarbenewens het verteenwoordigende amptenare van die MNS, agente van die Staatskomitee vir Godsdiensverenigings en die polisie die Koninkryksaal deursoek waar die vroue aanbid.

Aangesien Azerbeidjan se owerhede hulle geen alternatief gelaat het nie, het Jehovah se Getuies ’n aansoek ingedien by die Kantoor van die Hoë Kommissaris vir Menseregte en in verbinding getree met ’n aantal internasionale organisasies om die aandag te vestig op Azerbeidjan se onregverdige aanhouding en behandeling van me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa. Azerbeidjan het toegetree tot internasionale ooreenkomste om menseregte en basiese vryhede te bevorder en beweer dat dit ’n land van godsdiensverdraagsaamheid is.

Jehovah se Getuies versoek die regering van Azerbeidjan eerbiedig om sy verpligtinge ten opsigte van menseregte na te kom en om die Getuies toe te laat om in vrede te aanbid. Hulle doen ’n beroep op die regering van Azerbeidjan om hierdie onskuldige vroue onmiddellik vry te laat.