Spring na inhoud

Getuieleerders wat aanvanklik nie hulle rapporte aan die einde van die kwartaal gekry het nie omdat hulle geweier het om kerkbelasting te betaal

9 JUNIE 2016
RWANDA

Rwanda tree op om godsdiensdiskriminasie in skole teë te werk

Rwanda tree op om godsdiensdiskriminasie in skole teë te werk

Die regering van Rwanda het begin om godsdiensdiskriminasie in skole uit die weg te ruim deur ’n bevel uit te vaardig wat vereis dat die godsdiensoortuigings van leerders gerespekteer moet word. Dit is goeie nuus vir leerders wat weens hulle gewetensbesware nie aan sekere skoolaktiwiteite kan deelneem nie.

Die meeste skole in Rwanda word deur die regering gesubsidieer, maar word deur godsdiensorganisasies bestuur. Omdat inskrywing by hierdie skole oop is vir die publiek, behoort leerders moontlik aan verskeie godsdienste. Maar party skoolowerhede dring daarop aan dat leerders deelneem aan patriotiese of godsdiensaktiwiteite of vereis dat hulle kerkbelasting moet betaal. Hulle het leerders gestraf wat weens hulle godsdiensoortuigings nie hieraan voldoen het nie. ’n Regeringsminister wat in beheer is van primêre en sekondêre opvoeding, het die algemene gesindheid van party skooladministrateurs beskryf en gesê: “Ons leerders word nie toegelaat om deel te neem aan aanbidding wat in stryd is met ons geloof nie.”

Regeringsbevel bevestig gewetensvryheid

Regeringsamptenare het ingetree om die probleem reg te stel. Hulle het ’n presidensiële bevel uitgevaardig met nuwe regulasies wat daarop gemik is om godsdiensdiskriminasie in skole uit te skakel. Artikel 12 van die regering se Bevel Nr. 290/03, wat in die Official Gazette op 14 Desember 2015 gepubliseer is, sê dat elke skool die godsdiensvryheid van die leerders moet respekteer en hulle moet toelaat om volgens hulle geloof te bid as hulle godsdiens of kerk wetlik aanvaar word en indien dit nie inbreuk maak op onderwys by die skool nie.

Elke skool moet die godsdiensvryheid van die leerders respekteer.—Bevel Nr. 290/03, Artikel 12

Die regering se optrede bevestig die hof in Karongi se beslissing in verband met Getuieleerders wat in Mei 2014 uit ’n plaaslike skool geskors is. Die leerders het geweier om deel te neem aan ’n kerkdiens wat deur die skool aangebied is, en die skoolowerheid het nie hierdie besluit gerespekteer nie. Die hof het die leerders van enige oortreding vrygespreek, en hulle kon teruggaan skool toe.

In ’n ander saak het ’n skoolhoof in die Ngororero-streek geweier om rapporte te gee aan 30 leerders wat geweier het om kerkbelasting (nie deel van skoolgeld nie) te betaal. Toe die ouers van die leerders klagtes ingedien het by die streek se direkteur van onderwys, het die skoolhoof uiteindelik toegegee. Hy het aan die einde van die skooljaar rapporte aan al die leerders uitgereik.

Verligting vir Getuieleerders

Chantal Uwimbabazi, ’n Getuieleerder, is uit haar skool in die Ngororero-streek gesit omdat sy nie die skool se Katolieke mis wou bywoon nie. Sy is deur haar klasmaats en ander gespot en kon ’n jaar lank nie skool toe gaan nie. Sy het haar uiteindelik by ’n ander skool ingeskryf. Hierdie skool was duurder en verder van haar huis af en dit het dinge moeiliker gemaak vir haar weduwee-ma wat dit nie breed gehad het nie. Chantal was verlig toe sy van die nuwe regulasies hoor. Sy het gesê: “Ek dink dat ander leerders in soortgelyke omstandighede in godsdiensskole ook hulle skoolopleiding sal geniet sonder dat hulle regte geskend word.”

Die nuwe regulasie stem ooreen met die Rwandese Grondwet, wat godsdiensvryheid en die reg op opvoeding waarborg. Getuieleerders en hulle ouers sien uit na ’n tyd wanneer godsdiensdiskriminasie iets van die verlede sal wees. Hulle waardeer die regering se optrede om die godsdiensvryheid van skoolkinders te beskerm.