Spring na inhoud

7 MAART 2017
SUID-KOREA

Suid Korea behandel Dong-hjoek Sjin onregverdig

Suid Korea behandel Dong-hjoek Sjin onregverdig

Honderde mans wat gewetensbeswaar teen militêre diens aanteken, word deur die regering van Suid-Korea in die tronk gesit. Mans wat in die reserwemag is en later gewetensbeswaar aanteken, word ook gestraf.

As ’n jong seun in Suid-Korea het Dong-hjoek Sjin geweet dat hy eendag militêre diens sou moes doen. Nadat hy opgeroep is, het hy vir diens aangemeld. In 2005 het hy sy diensplig voltooi en is hy eervol ontslaan. Daarna moes hy sonder keuse by die reserwemag aansluit en sou hy vir die volgende agt jaar gereeld opgeroep word vir militêre opleiding.

Mnr. Sjin het die Bybel begin studeer kort nadat hy sy diensplig voltooi het. Die Bybel se boodskap van vrede het hom diep geraak, en daarom het dit sy gewete gepla om militêre diens te doen. Hy is in Maart 2006 opgeroep vir opleiding in die reserwemag, maar hy het die militêre beamptes in kennis gestel dat sy gewete hom nie toelaat om aan die opleiding deel te neem nie.

Geen gewetensvryheid nie

Suid-Korea erken nie die reg op gewetensbeswaar teen militêre diens nie. Op die oomblik word meer as 40 van Jehovah se Getuies wat gewetensbeswaar aanteken, nog steeds opgeroep vir opleiding in die reserwemag.

Die weermag het mnr. Sjin se beswaar teen militêre opleiding geïgnoreer, en vir die jaar 2006 het hulle altesaam 30 dagvaardings aan hom uitgereik. Die volgende sewe jaar het mnr. Sjin aanhoudend dagvaardings ontvang. Van Maart 2006 tot Desember 2013 is hy altesaam 118 keer vir militêre opleiding opgeroep. * Mnr. Sjin het elke keer respekvol geweier om vir diens aan te meld. As gevolg hiervan is hy 49 keer aangekla, het hy 69 keer in die hof verskyn en het hy altesaam 35 hofbeslissings ontvang.

“Geen ander keuse nie”

Dit was vir die howe duidelik dat mnr. Sjin se gewetensbeswaar opreg is. In die beslissing wat die streekhof van Oelsan op 7 Oktober 2014 uitgereik het, het die hof gesê: “Dit is duidelik dat [Dong-hjoek Sjin], nadat hy een van Jehovah se Getuies geword het, geen ander keuse gehad het as om in hierdie saak die wet te oortree nie. Dit was nie vir hom moontlik om militêre diens te doen sonder om sy gewete en geloofsoortuigings te skend nie.”

Hoewel die streekhof mnr. Sjin se probleem verstaan het, word howe in Suid-Korea beperk deur die vereistes van die militêre dienspligwet. Mnr. Sjin is boetes van meer as 16 miljoen won (R 168 675) deur die howe opgelê. Hy is ook ses keer gevonnis tot tronkstraf van ten minste ses maande elk. Dit is later vervang met voorwaardelike vonnisse. In een geval het die hof hom beveel om 200 uur gemeenskapsdiens te doen.

Mnr. Sjin het gesê: “Ek was verskriklik angstig en baie bekommerd oor my situasie. Dit het gelyk asof hierdie toets nooit tot ’n einde sou kom nie. Dit het my familie ook ontstel dat ek die heeltyd in die hof moes verskyn. Ek dink daardie nege jaar was vir my ma net so erg soos vir my, en haar gesondheid het daaronder gelei. Dit het my hart gebreek om te weet dat sy so bekommerd oor my is. Ek het ook finansieel swaargekry. Ek is herhaaldelik opgeroep, aangekla en skuldig bevind en moes kort-kort in die hof wees. Daarom moes ek gereeld by die werk afvat, en dit het veroorsaak dat ek sewe keer van werk moes verander.”

Waarborge van Internasionale Verdrag geskend

Mnr. Sjin het elke beslissing teen hom by die howe in Suid-Korea geappelleer, maar sonder enige sukses. Die Hooggeregshof het sy aansoeke vier keer verwerp. Omdat mnr. Sjin geen ander wetlike opsies in Suid-Korea gehad het nie, het hy in Junie 2016 ’n klag by die VN se Menseregtekomitee (Komitee) ingedien. Mnr. Sjin het beweer dat Suid-Korea nie hulle verpligting om die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte te respekteer, nagekom het nie omdat hulle hom herhaaldelik opgeroep, aangekla en skuldig bevind het. Die aanklag het op drie probleme gefokus:

  • Die situasie waarin gewetensbeswaardes herhaaldelik vir militêre diens opgeroep en dan gestraf word, word uitdruklik deur internasionale wetgewing erken as ’n skending van die reg op ’n regverdige verhoor.

  • Die feit dat persone herhaaldelik vir militêre opleiding opgeroep en daarna krimineel aangekla word, bevestig die regering se doel om militêre diensplig af te dwing. Mnr. Sjin se lewe is oorheers deur al die hofsake. Die feit dat hy soos ’n krimineel behandel is omdat hy sy gewete gevolg en sy godsdiensoortuigings uitgeleef het, was ’n vernederende straf.

  • Omdat mnr. Sjin se besware teen militêre diens stewig op sy godsdiensoortuigings gegrond is, het hy gesê dat sy reg op gewetens- en godsdiensvryheid geskend is.

Hoop op verligting

Mnr. Sjin verwag ’n positiewe uitslag omdat die Komitee al herhaaldelik beslis het dat Suid-Korea die reg op gewetensbeswaar teen militêre diens moet respekteer. * Hy sien uit na ’n beslissing wat die spesiale situasie van militêre reserviste sal erken. Mnr. Sjin het gesê: “Ek is nie spyt daaroor dat ek volgens my godsdiensoortuigings en my gewete opgetree het nie. Maar ek stem nie saam met die manier waarop ek behandel is nie. Ek hoop dat die regering van Suid-Korea sal erken dat ’n mens die reg het om te weier om nasionale diens te doen wanneer dit teen jou gewete is.” Jehovah se Getuies in Suid-Korea en regoor die wêreld stem hiermee saam.

^ par. 7 Dong-hjoek Sjin was 30 keer opgeroep in 2006, 35 keer in 2007, 15 keer in 2008, 9 keer in 2009, 17 keer in 2010 en 12 keer in 2011. Mnr. Sjin is nie in 2012 en 2013 opgeroep nie omdat militêre opleiding nie vereis word gedurende die laaste twee jaar wat ’n persoon in die reserwemag is nie.

^ par. 18 Die VN se Menseregtekomitee het vyf beslissings uitgereik wat bevind het dat Suid-Korea Artikel 18, “die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens”, oortree het: Yeo-bum Yoon and Myung-jin Choi v. Republic of Korea, Communication No. 1321-1322/2004, U.N. Doc. CCPR/C/88/D/1321-1322/2004 (3 November 2006); Eu-min Jung et al. v. Republic of Korea, Communication No. 1593-1603/2007, U.N. Doc. CCPR/C/98/D/1593-1603/2007 (23 Maart 2010); Min-kyu Jeong et al. v. Republic of Korea, Communication No. 1642-1741/2007, U.N. Doc. CCPR/C/101/D/1642-1741/2007 (24 Maart 2011); Jong-nam Kim et al. v. Republic of Korea, Communication No. 1786/2008, U.N. Doc. CCPR/C/106/D/1786/2008 (25 Oktober 2012); and Young-kwan Kim et al. v. Republic of Korea, Communication No.  2179/2012, U.N. Doc. CCPR/C/112/D/2179/2012 (15 Oktober 2014).