Spring na inhoud

Hoofkwartier van die Nasionale Menseregtekommissie in Seoel, Suid-Korea

25 JANUARIE 2017
SUID-KOREA

Nasionale Menseregtekommissie vra dat gewetensvryheid gerespekteer word

Nasionale Menseregtekommissie vra dat gewetensvryheid gerespekteer word

Op 9 Desember 2016 het Suid-Korea se Nasionale Menseregtekommissie hulle beslissing ingedien in verband met klagtes wat op die oomblik deur die grondwetlike hof ondersoek word. Die kommissie het die reg op gewetensbeswaar teen militêre diensplig ondersoek. In ooreenstemming met die jongste standaarde vir menseregte het die kommissie tot die slotsom gekom dat hierdie reg ’n basiese mensereg is wat nie verhinder mag word nie, en dat die regering dit moet beskerm.

Dit is merkwaardig dat die kommissie beslis het dat hierdie basiese mensereg ’n “geldige rede” is om nie aan militêre diens deel te neem nie. Dit het die regering aangespoor om “alternatiewe diens te gebruik wat vir die samelewing betekenisvol is” sodat militêre diensplig in ooreenstemming met gewetensvryheid volgens die grondwet verrig kan word.

Volgens die kommissie se besluit dien dit geen doel om gewetensbeswaardes in die tronk te gooi nie. Dit sê verder: “Die doel van straf is om kriminele oortredings te onderdruk of te voorkom. Maar die meeste gewetensbeswaardes is nie spyt oor hulle besluit nie en verander nie van plan omdat hulle bang is om gestraf te word nie. . . . Daarom help dit nie om hulle te straf nie.”

Die kommissie bly by sy beslissing van 26 Desember 2005. In hierdie beslissing het hulle besluit dat die Republiek van Korea alternatiewe diens moet instel sodat ’n persoon sy reg op gewetensbeswaar kan uitoefen, maar ook sy nasionale plig kan nakom. * Die kommissie ondersteun menseregte en het hulle beslissing by die grondwetlike hof ingedien vir oorweging.

“Die reg op gewetensbeswaar teen militêre diensplig word beskerm deur gewetensvryheid soos uiteengesit in die grondwet en ook deur internasionale wette in verband met menseregte. Om gewetensbeswaardes te straf omdat hulle die Militêre Dienspligwet oortree wanneer dit moontlik is om hulle toe te laat om hulle diensplig op ’n alternatiewe manier te verrig, skend hulle gewetensvryheid.”—Nasionale Menseregtekommissie, beslissing van 28 November 2016.

Geleentheid vir sukses

Jae-seoeng Lee, ’n professor in die regte, het oor die kommissie se beslissing gesê: “As die regering van Suid-Korea besluit dat dit die ‘universele mensereg’ van gewetensbeswaar sal respekteer, kan dit daartoe lei dat alternatiewe gemeenskapsdiens ingestel word. As dit gebeur, stel ek voor dat hulle by die internasionale standaarde vir alternatiewe gemeenskapsdiens bly sodat die program ’n sukses kan wees.”

Dae-il Hong, ’n nasionale woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Suid-Korea, sê: “Sedert die grondwetlike hof weer die saak in Augustus 2012 begin ondersoek het, is meer as 2 000 jong Getuiemans in die tronk gegooi. Ons sien uit na ’n beslissing deur die grondwetlike hof wat menselewe en vrede sal respekteer in ooreenstemming met internasionale standaarde. Ons hoop dat tronkstraf iets van die verlede sal wees en dat jong Getuiemans hulle gemeenskappe op ’n manier kan dien wat nie teen hulle gewete is nie.”

^ par. 5 Op 11 Julie 2008 het die Nasionale Menseregtekommissie die Minister van Verdediging vir ’n tweede keer aangespoor om alternatiewe diens vir gewetensbeswaardes in te stel. Die kommissie het ook op 26 November 2007 ’n beslissing ingedien teen die gebruik om reserviste herhaaldelik te straf omdat hulle gewetensbeswaar teen militêre opleiding aanteken.