Spring na inhoud

Die polisie onderbreek ’n godsdiensvergadering wat in ’n Getuie se huis in Tomsk gehou word en deursoek die huis

20 JUNIE 2018
RUSLAND

Nog Getuies opgesluit nadat hulle huise met geweld in Rusland deursoek is

Nog Getuies opgesluit nadat hulle huise met geweld in Rusland deursoek is

Oor die afgelope maand het die Russiese regering hulle kampanje van vrees verder gevat en nog Getuies van Jehovah gearresteer en opgesluit omdat die regering maak asof hulle ekstremisme wil uitroei. Die polisie het die huise van Getuies deursoek in Birobidzjan, Chabarowsk, Magadan, Orenburg, Naberezjnje Tsjelni, Perm, Pskof, Saratof en Tomsk. Hulle het nog 15 Getuie-mans gearresteer, en nou is daar altesaam 20 Getuies in aanhouding voordat hulle verhoor word. Nog twee is onder huisarres. Ten minste 15 Getuies, insluitende party wat in hulle 70’s en 80’s is, moes ’n ooreenkoms teken wat hulle verbied om die gebied te verlaat. Van 14 Junie 2018 af het die owerheid in Rusland kriminele klagtes teen meer as 40 Getuies gebring. As hulle skuldig bevind word, kan hulle tot tien jaar tronkstraf kry.

Plekke waar huise in Rusland deursoek is

Die Russiese regering het sy belofte verbreek wat hulle in die hof gemaak het. Hulle het gesê dat die verbod op die regsentiteite van Jehovah se Getuies geen uitwerking sou hê op die regte van die individuele Getuies wat hulle geloof wil beoefen nie. Rusland het glad nie by sy woord gebly nie en pas Artikel 282 van die Strafwet verkeerd toe sodat hulle die Getuies daarvan kan aankla dat hulle aan die bedrywighede van ’n “ekstremistiese” organisasie deelneem, dit reël of finansieel ondersteun. In werklikheid beveg Rusland nie ekstremisme nie, maar vervolg hulle eerder hulle eie burgers omdat hulle vreedsaam aanbid.

Huise wat onlangs deursoek is, mense wat gearresteer en aangehou word

12 Junie 2018, Saratof. Die polisie het die huise van verskillende Getuies ingestorm en deursoek en ten minste tien Getuies na die polisiestasie gevat om hulle te ondervra. Terwyl hulle een huis deursoek het, het die owerheid godsdienslektuur wat vroeër deur die Russiese howe verban is, saamgebring en weggesteek en toe gemaak asof hulle dit daar gekry het. Vyf Getuie-mans is gearresteer. Twee van hulle is later vrygelaat, maar die polisie het die ander drie in aanhouding gesit. Konstantin Bazjenof en Feliks Machammadijef is daarvan aangekla dat hulle ‘aan die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie deelneem’. Ons weet nog nie wat die kriminele klag teen die derde Getuie, Aleksei Boedentsjoek, is nie. Op 14 Junie 2018 het die Froenzenski-streekhof in Saratof beslis dat mnr. Bazjenof en mnr. Machammadief tot 12 Augustus 2018 in aanhouding moet bly voordat hulle verhoor word. Dieselfde hof het ook beslis dat mnr. Boedentsjoek in aanhouding moet bly voordat hy verhoor word, maar hy weet nog nie wanneer hy vrygelaat sal word nie. In ’n ander geval is nog ’n Getuie deur die polisie beveel om ’n ooreenkoms te teken wat hom verbied om die gebied te verlaat.

3 Junie 2018, Tomsk. Die polisie en lede van Rusland se Spesiale Militêre Mag (Spetsnaz) het om 10:00 twee huise van Jehovah se Getuies in Tomsk, Siberië, deursoek. Hulle het omtrent 30 Getuies, insluitende ’n vrou wat 83 jaar oud is, in aanhouding gesit. Die polisie het persoonlike besittings in huise en voertuie gevat, die Getuies in busse gelaai en hulle na die Sentrum vir die Bestryding van Ekstremisme geneem.

By die Sentrum het speurder Iwan Wedrentsef, Aleksandr Iwanof en Wiatsjeslaf Lebedef party van die Getuies tot 2:00 die volgende oggend aggressief ondervra. Die speurders het gedreig dat hulle sou sorg dat een van die Getuies sy werk sou verloor. Gedurende hierdie tyd is ambulanse ’n hele paar keer na die Sentrum gestuur, en ten minste een Getuie is hospitaal toe geneem.

Een van dié wat gearresteer is, Sergei Klimof, is in aanhouding gesit. Op 5 Junie 2018 het die Oktjabrski-streekhof in Tomsk hom daarvan aangekla dat hy ‘die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie reël’ en beveel dat hy tot 4 Augustus 2018 in aanhouding moet bly voordat hy verhoor word. Die regter het alle versoeke dat hy onder huisarres kan bly of dat hy op borgtog vrygelaat kan word, verwerp.

3 Junie 2018, Pskof. Die polisie het meer as een huis van Jehovah se Getuies in Pskof deursoek. By een huis is almal wat daar was, gearresteer en ondervra, insluitende twee besoekers wat nie Getuies is nie. ’n Hele paar Getuies van Jehovah, insluitende Gennadi Sjpakowski, is na die Pskof-Streekhoofkantoor van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) geneem om ondervra te word. Party wat na die polisiestasie gevat is, is onder druk gesit om bewyse teen mnr. Sjpakowski te gee. Die owerheid het ’n kriminele saak teen hom begin onder die aanklag dat hy ‘die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie reël’. Hoewel hy later vrygelaat is, kan amptenare op enige tyd verdere aanklagte teen hom inbring.

30 Mei 2018, Chabarowsk. Die polisie het Iwan Poeida gearresteer nadat hulle sy huis ingestorm en dit deursoek het. Hulle het hom na Magadan geneem, waar hulle hom in aanhouding gesit het. Op 1 Junie 2018 het die Zjeleznodorozjni-streekhof beveel dat hy tot 30 Julie 2018 in aanhouding moet bly totdat hy verhoor word, onder die aanklag dat hy ‘die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie reël’.

30 Mei 2018, Magadan. Gewapende en gemaskerde polisiemanne het die huise van Getuies in Magadan ingestorm en deursoek. Konstantin Petrof, Jefgeni Zjablof en Sergei Jerkin is gearresteer en in aanhouding gesit. Op 1 Junie 2018 het die Magadanski-stadshof beveel dat hulle tot 29 Julie 2018 in aanhouding moet bly totdat hulle verhoor word, onder die aanklag dat hulle ‘die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie reël’.

Dmitri Michailof

29 Mei 2018, Sjoeja, Iwanowo-streek. Die owerheid het Dmitri Michailof vir ’n tweede keer gearresteer. Nadat sy huis op 20 April deursoek is, het die polisie hom daarvan aangekla dat hy ‘deelneem aan die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie’. Op 29 Mei het die owerheid hom ook daarvan aangekla dat hy ‘ekstremistiese bedrywighede finansieel ondersteun’. Op 3 Junie 2018 het die stadshof in Sjoeja beveel dat hy tot 19 Julie 2018 in aanhouding moet bly voordat hy verhoor word.

27 Mei 2018, Naberezjnje Tsjelni, Republiek van Tatarstan. FSB-agente het tien huise van Getuies deursoek en elektroniese toestelle, selfone en paspoorte afgevat. Ilcham Karimof, Konstantin Matrasjof en Wladimir Mjakoesjin is gearresteer en in aanhouding gesit. Op 29 Mei 2018 het die Naberezjnotsjelninski-streekhof die drie mans daarvan aangekla dat hulle die bedrywighede van ’n “ekstremistiese” organisasie reël, daaraan deelneem en mense oorreed om lede daarvan te word. Die hof het beveel dat hulle tot 25 Julie 2018 in aanhouding moet bly totdat hulle verhoor word. Later is Aidar Joelmetjef ook gearresteer, en op 31 Mei 2018 het die hof beveel dat hy ook in aanhouding moet bly totdat hy verhoor word.

22 Mei 2018, Perm. Toe Aleksandr en Anna Solowjef teruggekom het na Perm nadat hulle in Moldowa was, het die polisie hulle by die treinstasie ontmoet, mnr. Solowjef se hande geboei, sy persoonlike besittings gevat en die paartjie na die polisiestasie toe geneem in aparte voertuie. Terwyl mnr. Solowjef in aanhouding was, het die polisie sy huis deursoek en sy vrou ondervra. Op 24 Mei 2018 het die Swerdlowski-streekhof hom onder huisarres geplaas, onder die aanklag dat hy ‘deelneem aan die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie’.

17 Mei 2018, Birobidzjan. In ’n geheime operasie met die naam Oordeelsdag het 150 polisiemanne en FSB-lede 22 huise van Jehovah se Getuies deursoek. Die polisie het tablette, selfone en geld gevat. Die polisie het Alam Alief, een van die 34 Getuies wat deursoek is, gearresteer en opgesluit. Op 18 Mei het die Birobidzjanski-streekhof hom daarvan aangekla dat hy ‘die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie reël’ en beveel dat hy tot 13 Julie 2018 in aanhouding moet bly totdat hy verhoor word. Op 25 Mei 2018 het regter A.V. Sizowa van die Appèlhof van die Joodse selfregerende streek mnr. Alief se appèl toegestaan en die bevel dat hy in aanhouding moet bly, ongeldig verklaar.

16 Mei 2018, Orenburg. Die polisie het huise van Getuies ingestorm en deursoek. Hulle het drie Getuies gearresteer: Aleksandr Soeworof, Wladimir Kotsjnef en Wladislaf Kolbanof. Op 18 Mei het die Promisjlenni-streekhof beslis dat mnr. Kolbanof onder huisarres moet bly onder die aanklag dat hy ‘ekstremistiese bedrywighede finansieel ondersteun’. Die volgende dag het dieselfde hof beveel dat Aleksandr Soeworof en Wladimir Kotsjnef tot 14 Julie 2018 in aanhouding moet bly totdat hulle verhoor word, onder die aanklag dat hulle ‘die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie reël’. Die speurder het ook beveel dat sewe ander Getuies ’n ooreenkoms moet teken wat hulle verbied om die stad gedurende die ondersoek te verlaat.

Links: Aleksandr Soeworof; Regs: Wladimir Kotsjnef

Sal internasionale veroordeling enige uitwerking hê?

Die Europese Unie (EU) sowel as die Verenigde State het amptelike verklarings uitgereik waarin hulle Rusland veroordeel omdat hulle basiese vryhede ignoreer. Die EU het Rusland gevra “om sy internasionale verpligtinge aan vryheid van godsdiens of oortuigings, vrye meningsuiting en vryheid om te vergader na te kom”. Die Verenigde State het Rusland ook gevra “om dadelik almal vry te laat wat in die tronk is omdat hulle eenvoudig net hulle vryheid van godsdiens of geloof beoefen”.

Philip Brumley, ’n regsverteenwoordiger vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Jehovah se Getuies regoor die wêreld is baie ontsteld omdat hulle medegelowiges in Rusland so wreed vervolg word. Jehovah se Getuies gaan deur dieselfde soort onderdrukking vandag as wat hulle onder die Kommunistiese regering deurgegaan het. Die feit dat Rusland aanhou om Getuies te onderdruk, wys dat hulle niks dink van hulle eie waarborg om basiese menseregte te respekteer nie.”

Getuies wat vroeër in aanhouding gesit is voor hulle verhoor *

  • Dennis Christensen

    Ouderdom: 45, Oriol, in aanhouding vanaf 25 Mei 2017, en moet in die tronk bly tot 1 Augustus 2018.

  • Walentin Osadtsjoek

    Ouderdom: 42, Wladiwostok, in aanhouding vanaf 19 April 2018, en moet in die tronk bly tot 20 Junie 2018.

  • Wiktor Trofimof

    Ouderdom: 61, Poljarni, in aanhouding vanaf 18 April 2018, en moet in die tronk bly tot 11 Oktober 2018.

  • Roman Markin

    Ouderdom: 44, Poljarni, in aanhouding vanaf 18 April 2018, en moet in die tronk bly tot 11 Oktober 2018.

  • Anatoli Wilitkewitsj

    Ouderdom: 31, Oefa, in aanhouding vanaf 10 April 2018, en moet in die tronk bly tot 2 Julie 2018.

^ par. 21 Vir meer inligting sien die Nuus-artikel “Kampanje van vrees begin vir Jehovah se Getuies in Rusland” op jw.org.