Spring na inhoud

 Die Bybelse beskouing

Gebede wat deur God verhoor word

Gebede wat deur God verhoor word

“Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, vind; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”—LUKAS 11:9, 10.

MET volle vertroue in die woorde van Jesus Christus wat hierbo aangehaal word, bid baie Christene tot God oor hulle probleme en sorge omdat hulle verseker is van sy liefde en besorgdheid. Party voel egter gefrustreerd terwyl hulle wag vir hulle gebede om verhoor te word. Voel jy dat jou gebede tevergeefs is? Luister God wanneer jy bid?

Selfs al lyk dit of ons gebede nie verhoor word nie, beteken dit nie dat God dit nie gehoor het nie. Die Bybel verseker ons: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Petrus 3:12). Jehovah God hoor dus die gebede van regverdiges, hetsy hulle hardop of in hulle hart bid (Jeremia 17:10). Jehovah ondersoek ook die gedagtes en gevoelens waaruit elke gebed voortspruit, wat die een wat bid miskien nie eers ten volle verstaan of van bewus is nie.—Romeine 8:26, 27.

Maar gebede moet aan sekere vereistes voldoen om vir God aanneemlik te wees. Eerstens moet dit uitsluitlik gerig word tot God—nie tot Jesus, tot ’n “heilige” of tot ’n afgod nie (Eksodus 20:4, 5). Gebede moet ook in die naam van God se Seun, Jesus Christus, gedoen word (Johannes 14:6). Beteken dit dat ons gebede eers deur Jesus gehoor word en dat hy die boodskap dan aan God oordra? Nee. Wanneer ons in Jesus se naam tot Jehovah bid, identifiseer ons ons as Christus se dissipels en erken  ons dat dit slegs op grond van sy losprys is dat ons God kan nader.—Hebreërs 4:14-16.

Geloof is nodig wanneer ons bid. Die apostel Paulus het gesê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Hoe weet iemand dat hy sulke geloof het? Die Bybelskrywer Jakobus antwoord: “Ek sal jou my geloof deur my werke toon” (Jakobus 2:18). Ja, geloof bring werke voort, wat toon dat ons God liefhet en hom probeer behaag.

Aanbidders van God moet ook volhard wanneer hulle bid. Jesus het dit duidelik gestel in Lukas 11:9, 10, wat in die begin aangehaal is. Kan daar tereg gesê word dat iemand werklik ernstig oor ’n saak is as hy of sy net een keer daaroor bid?

Wat God belowe

Ongeag hoe dikwels en ernstig ons bid, ons lewe nog steeds in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Jesus het weliswaar gesê dat sy volgelinge gelukkig sou wees, maar hy het nie gesê dat hulle lewe sorgeloos sou wees nie (Matteus 5:3-11). Hy het wel gesê dat sy dissipels gelukkig kan wees ongeag of hulle bedroef, honger of dors is of vervolg word.

Die geluk waarvan Jesus gepraat het, hang nie daarvan af of ons ideale omstandighede het nie. Dit is eerder ’n innerlike tevredenheid wat ons het omdat ons God dien. Gevolglik kan ons ’n mate van geluk ervaar, al het ons baie probleme.—2 Korintiërs 12:7-10.

Persoonlike probleme

Is dit dan tevergeefs om tot God te bid oor persoonlike sake soos om ’n geskikte huweliksmaat te vind of om probleme in verband met jou gesin, jou gesondheid of jou werk die hoof te bied? Nee, want hoewel God nie belowe om ons omstandighede wonderdadig te verander nie, sal hy ons die wysheid gee om dit te hanteer. Jakobus het in verband met beproewinge geskryf: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Jehovah sal ons dus deur middel van sy heilige gees lei. Dit sal ons help om Bybelbeginsels te verstaan en toe te pas wanneer ons besluite neem.

God se gees neem natuurlik nie besluite vir ons nie. Inteendeel, persoonlike inspanning is nodig. Het ons, as ons byvoorbeeld ’n probleem het, navorsing daaroor gedoen en die verskillende aspekte en elemente van die situasie ondersoek? Dit sal ’n werk wees wat vir God sal toon dat ons geloof het (Jakobus 2:18). Het ons ’n volgehoue poging aangewend om ons probleem op te los en voortdurend God se leiding gevra? (Matteus 7:7, 8). Het ons Bybelbeginsels wat op die situasie van toepassing is, noukeurig ondersoek? God se Woord kan ons ‘volkome bevoeg maak, ten volle toegerus vir elke goeie werk’.—2 Timoteus 3:16, 17.

Hoewel God in menseaangeleenthede kan ingryp en al ons probleme kan wegneem, het hy ons toegelaat om ons wilsvryheid uit te oefen. Ongelukkig gebruik baie hulle wilsvryheid tot nadeel van ander. Gevolglik sal party probleme waaroor ons bid dalk tot in God se nuwe wêreld voortduur (Handelinge 17:30, 31). Dalk is dit ’n situasie waarmee ons te kampe het in die omgewing waar ons woon, soos misdaad of volskaalse oorlog; of ons moet moontlik beproewinge verduur wat deur teenstanders veroorsaak word (1 Petrus 4:4). Ons moet besef dat party situasies in hierdie goddelose wêreld nie sal verbeter nie.

God is nietemin lief vir sy aanbidders en wil hulle help. Wanneer sy Koninkryk onbetwiste heerskappy oor die aarde uitoefen, sal hy die verskriklike probleme van hierdie wêreld heeltemal verwyder (Openbaring 21:3, 4). Tot dan moet ons aanhou om sy leiding te vra om die probleme van die lewe die hoof te bied. As ons dit doen, kan ons seker wees dat Jehovah sy belofte sal vervul wat in die Bybel in Jesaja 41:10 opgeteken is: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”