Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Is jy ooit jaloers? Josef se broers was

Is jy ooit jaloers? Josef se broers was

KOM ons gesels oor wat dit beteken om jaloers te wees. Was dit al ooit vir jou moeilik om van iemand te hou omdat ander mense sê dat hy goed, mooi of slim is? *— Wel, dit is wat kan gebeur wanneer jy jaloers is op iemand.

Jaloesie kan in ’n gesin ontstaan as die ouers een kind voortrek. Die Bybel vertel van ’n gesin waarin jaloesie ’n groot probleem veroorsaak het. Kom ons kyk tot watter moeilikheid dit gelei het en watter les ons daaruit kan leer.

Josef was Jakob se 11de seun, en Josef se halfbroers was jaloers op hom. Weet jy hoekom?— Dit was omdat hulle pa, Jakob, liewer was vir Josef as vir hulle. Jakob het byvoorbeeld vir Josef ’n pragtige gestreepte kleed laat maak. Jakob was so lief vir Josef “omdat hy die seun van sy oudag was” sowel as die eerste kind by sy geliefde vrou Ragel.

Die Bybel sê dat ‘Josef se broers hom gehaat het toe hulle sien dat hulle pa hom die liefste het’. Eendag het Josef vir sy gesin vertel dat hulle almal, insluitende sy pa, in ’n droom voor hom neergebuig het. “Sy broers het jaloers geword op hom”, sê die Bybel, en selfs Josef se pa het met hom geraas omdat hy hulle van hierdie droom vertel het.—Genesis 37:1-11.

’n Ruk later, toe Josef 17 was, het sy broers baie kilometers van die huis af die gesin se skape en bokke opgepas. Toe het Jakob vir Josef gestuur om te sien hoe dit met sy broers gaan. Weet jy wat die meeste van hulle wou doen toe hulle hom  sien aankom?— Hulle wou hom doodmaak! Maar twee van hulle, Ruben en Juda, wou nie.

Toe handelaars op pad na Egipte daar verbykom, het Juda gesê: “Laat ons hom . . . verkoop.” En dit is wat hulle toe gedoen het. Daarna het hulle ’n bok doodgemaak en Josef se kleed in die bloed gedoop. Toe hulle later die kleed vir hulle pa wys, het hy uitgeroep: ‘’n Wrede wilde dier moes Josef opgeëet het!’—Genesis 37:12-36.

Later het Farao, Egipte se heerser, baie van Josef begin hou. Dit was omdat hy met God se hulp kon verduidelik wat twee van Farao se drome beteken het. Die eerste droom was van sewe gesonde koeie gevolg deur sewe siekes. Die tweede droom was van sewe gesonde graanare en toe van sewe uitgedroogtes. Josef het gesê dat al twee drome beteken dat daar sewe jaar van goeie oeste sal wees gevolg deur sewe jaar van hongersnood. Op Farao se bevel is Josef aangestel oor die werk om kos gedurende die jare van oorvloed bymekaar te maak en so vir die hongersnood voor te berei.

Toe die hongersnood kom, het Josef se familie, wat baie kilometers daarvandaan gebly het, kos nodig gehad. Jakob het Josef se tien ouer broers na Egipte gestuur om kos te kry. Hulle het voor Josef verskyn, maar het hom nie herken nie. Sonder om te sê wie hy is, het Josef sy broers getoets, en hy het gesien hoe jammer hulle was dat hulle hom so sleg behandel het. Toe het Josef vir hulle gesê wie hy is. Hoe het hulle mekaar tog omhels en hoe bly was hulle tog!—Genesis, hoofstukke 40 tot 45.

Wat kan jy uit hierdie Bybelverhaal leer omtrent jaloesie?— Jaloesie kan tot groot probleme lei en kan selfs maak dat ’n mens jou eie broer wil seermaak! Kom ons lees Handelinge 5:17, 18 en Handelinge 7:54-59 en kyk wat mense aan Jesus se dissipels gedoen het omdat hulle jaloers was.— Kan jy, noudat jy dit gelees het, sien hoekom ons moet oppas om nie jaloers te word nie?—

Josef het 110 jaar oud geword. Hy het kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gehad. Ons kan daarvan seker wees dat Josef hulle dikwels geleer het om mekaar lief te hê en om nie jaloers te word nie.—Genesis 50:22, 23, 26.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.