Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Paulus se susterskind—Hy het sy oom se lewe gered

Paulus se susterskind—Hy het sy oom se lewe gered

HET jy geweet dat die apostel Paulus familielede gehad het wat volgelinge van Jesus was? *— Sy suster en haar seun was blykbaar. En hierdie seun het Paulus se lewe gered! Ons weet nie wat sy naam of sy ma se naam was nie, maar ons weet wat hy gedoen het. Sal jy graag daarvan wil hoor?—

Paulus het so pas van sy derde sendingreis teruggekom en is in Jerusalem. Dit is blykbaar die jaar 56 G.J. Paulus is in hegtenis geneem en gaan verhoor word. Maar Paulus se vyande wil nie hê dat hy verhoor moet word nie. Hulle wil hom dood hê! Daarom beplan hulle dat sowat 40 manne Paulus op die pad sal voorlê om hom dood te maak.

Paulus se susterskind vind op die een of ander manier van die plan uit. Weet jy wat hy doen?— Hy gaan na Paulus toe en vertel hom daarvan. Paulus sê onmiddellik vir ’n leëroffisier: “Lei hierdie jong man na die militêre bevelvoerder toe, want hy het iets om vir hom te vertel.” Die offisier neem hom na die bevelvoerder, Claudius Lisias, en verduidelik dat die jong man belangrike inligting het. Claudius neem die seun eenkant toe, en hy vertel hom alles.

Claudius waarsku Paulus se susterskind: “Moenie aan enigiemand verklap dat jy hierdie dinge aan my bekend gemaak het nie.” Dan laat hy twee leëroffisiere roep en beveel hulle om 200 soldate, 70 ruiters en 200 spiesvegters gereed te kry om na Sesarea te marsjeer. Nege-uur daardie aand vertrek die 470 manne en oorhandig Paulus veilig aan die Romeinse goewerneur Feliks in Sesarea. Claudius vertel Feliks in ’n brief van die planne om Paulus dood te maak.

Die Jode word dus gedwing om hulle aantygings teen Paulus voor ’n geregshof in Sesarea te maak. Maar natuurlik het hulle geen bewyse dat Paulus enigiets verkeerds gedoen het nie. Nogtans word Paulus verkeerdelik  twee jaar lank in die tronk gehou. Daarom vra hy om in Rome verhoor te word, en word hy daarheen gestuur.—Handelinge 23:16–24:27; 25:8-12.

Wat kan ons uit hierdie verslag oor Paulus se susterskind leer?— Dat dit moed verg om op te kom vir wat reg is en dat dit lewens kan red as ons dit doen. Selfs toe Jesus geweet het dat vyande “hom probeer doodmaak”, het hy aangehou om mense van God se Koninkryk te vertel. Jesus het vir ons gesê om dit ook te doen. Sal ons dit doen? Ons sál as ons moed soos dié van Paulus se susterskind het.—Johannes 7:1; 15:13; Matteus 24:14; 28:18-20.

Paulus het sy jong vriend Timoteus aangespoor: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Paulus se susterskind het sulke aanmoediging van sy oom sekerlik toegepas. Sal jy?

^ par. 3 As jy saam met kinders lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en hulle die vraag te vra.