Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Sem het die slegtheid van twee wêrelde gesien

Sem het die slegtheid van twee wêrelde gesien

NOAG se seun Sem het die einde van een wêreld oorleef en tot in ’n ander een gelewe. Weet jy waarom die eerste wêreld waarin Sem gelewe het, vernietig is en hoe dit vir hom en die res van sy familie moontlik was om tot in ’n tweede wêreld te lewe?— * Kom ons praat ’n bietjie hieroor.

Toe Sem jonk was, was “die slegtheid van die mens oorvloedig”, sê die Bybel. Alles waaraan mense gedink het, was “die hele tyd net sleg”. Weet jy wat God toe gedoen het?— Hy het ’n vloed veroorsaak wat daardie goddelose wêreld heeltemal vernietig het. Die apostel Petrus het geskryf: “Die wêreld van daardie tyd [is] vernietig toe dit met water oorstroom is.”—Genesis 6:5; 2 Petrus 3:6.

Sien jy waarom God daardie wêreld vernietig het?— Die mense was sleg, en hulle het “die hele tyd” net gedink aan wat sleg is. Jesus het hiervan gepraat. Hy het gesê dat die mense “voor die vloed” ’n vrolike tyd gehad het. “Hulle het geëet en gedrink, . . . het getrou en . . . is in die huwelik gegee.” Jesus het bygevoeg: “Hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie.”—Matteus 24:37-39.

Waarop het hierdie mense nie ag geslaan nie?— Sem se pa, Noag, was “’n prediker van regverdigheid”, maar die mense het nie geluister na wat hy gesê het nie. Noag het na God geluister en ’n ark, ’n drywende vaartuig, gebou, wat hom en sy gesin veilig deur die Vloed sou neem. Net Noag, sy vrou, hulle seuns—Sem, Gam en Jafet—en hulle vrouens het ag geslaan op wat God wou hê hulle moes doen. Die res het net gedoen wat hulle wou doen, en daarom is hulle deur die Vloed weggesleur.—2 Petrus 2:5; 1 Petrus 3:20.

Omtrent ’n jaar nadat die Vloed begin het, het Sem en sy gesin op droë grond uit die ark gekom. Al die slegte mense was weg, maar dinge het gou verander. Kanaän, die seun van Sem se broer Gam, het iets gedoen wat so sleg was dat Noag gesê het: “Mag Kanaän vervloek wees.” Nimrod, een van Gam se kleinseuns, was ook sleg. Hy het die ware God, Jehovah, teëgestaan en die mense beveel  om ’n hoë toring met die naam Babel te bou om vir hulle ’n naam te maak. Hoe dink jy het Sem en sy pa hieroor gevoel?—Genesis 9:25; 10:6-10; 11:4, 5.

Hulle was hartseer, en Jehovah was ook. Weet jy wat Jehovah toe gedoen het?— Hy het die mense se taal verwar sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie. Die mense moes toe ophou met die bouwerk en na verskillende plekke gaan saam met ander wat dieselfde taal gepraat het (Genesis 11:6-9). Maar God het nie die taal van Sem en sy gesin verander nie. Hulle kon dus na aan mekaar bly en mekaar help om God te dien. Weet jy hoe lank Sem Jehovah gedien het?—

Sem het 600 jaar oud geword. Hy het 98 jaar voor die Vloed gelewe en 502 jaar daarna. Ons kan seker wees dat hy Noag gehelp het om die ark te bou en mense oor die komende Vloed te waarsku. Maar wat dink jy het Sem gedoen in die meer as 500 jaar dat hy ná die Vloed gelewe het?— Noag het Jehovah “Sem se God” genoem. Sem het beslis aangehou om Jehovah te dien en om die lede van sy familie te help om dit ook te doen. Later het Sem se familie Abraham, Sara en Isak ingesluit.—Genesis 9:26; 11:10-31; 21:1-3.

Dink ’n bietjie aan vandag se wêreld, wat van Sem se dag af al hoe goddeloser geword het. Wat sal daarmee gebeur?— Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby.” Maar let op die belofte: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” As ons dus God se wil doen, sal ons moontlik een van die mense wees wat in God se nuwe wêreld sal lewe. Met God se hulp sal ons dan vir ewig in geluk op aarde kan woon!—1 Johannes 2:17; Psalm 37:29; Jesaja 65:17.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.