Spring na inhoud

 Leer jou kinders

’n Koninkryk wat die hele aarde sal verander

’n Koninkryk wat die hele aarde sal verander

KAN jy raai van watter Koninkryk ons praat?— * Dit is die een waarvoor Jesus ons leer bid het. Hy het ons geleer om vir God te vra: “Laat u koninkryk kom” (Matteus 6:9, 10). Jesus se volgelinge bid al byna 2 000 jaar lank tot God dat Sy Koninkryk moet kom. Het jy al hieroor gebid?—

Om te verstaan wat ’n koninkryk is, moet jy weet wat ’n koning is. ’n Koning is iemand wat regeer, of heers. Die land waaroor hy heers, word sy ryk genoem. Die ryk van God se Koninkryk sluit die hele wêreld in. Wanneer God se Koninkryk kom, sal almal op die aarde ná verloop van tyd die seëninge geniet wat sy heerskappy vir die mense sal meebring.

God se Koninkryk is ’n hemelse regering. In Jesaja 9:6 praat die Bybel van die Heerser van hierdie regering. Kyk wat sê dit oor hom: “’n Kind is vir ons gebore, . . . en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees. En hy sal genoem word: . . . Vredevors.”

Weet jy wat ’n vors, of ’n prins, is?— Ja, dit is die seun van ’n koning. Wie is die hoogste hemelse Koning?— Jy is reg as jy Jehovah gesê het. Die Bybel noem hom “die Allerhoogste oor die hele aarde” (Psalm 83:18). In die Bybel word Jesus dikwels “die Seun van God” genoem. Een rede is dat Jehovah vir Jesus lewe gegee het. Jehovah is Jesus se regte Vader.—Lukas 1:34, 35; Johannes 1:34, 49; 3:17; 11:27; 20:31; Handelinge 9:20.

God se Koninkryk, waarvoor Jesus ons leer bid het, is ’n spesiale soort regering. Dit is ’n “vorstelike heerskappy” omdat Jehovah sy Seun, Jesus, die Heerser, of Koning, van die Koninkryk maak. Maar het jy geweet dat ander gekies sou word om saam met Jesus as konings in sy Vader se Koninkryk te heers?— Kom ons praat oor hulle.

Net voordat Jesus dood is, het hy vir sy getroue apostels gesê dat hy na “die huis” van sy Vader in die hemel gaan. “Ek gaan om vir julle ’n plek te berei”, het hy gesê, “sodat julle ook kan wees waar ek is” (Johannes 14:1-3). Weet jy wat die apostels en die ander wat gekies is, in die hemel saam met Jesus gaan doen? — Hulle gaan “saam met hom as konings heers”. Die Bybel sê selfs hoeveel saam met Jesus as konings sal heers. Daar sal 144 000 wees.—Openbaring 14:1, 3; 20:6.

Hoe dink jy sal dit op die aarde wees wanneer die Vredevors en die 144 000 wat uitgekies is, heers?— Dit sal wonderlik wees! Daar sal geen oorlog wees nie. Die diere sal in vrede met mekaar en met ons lewe. Niemand sal siek word of doodgaan nie. Die oë van die blindes sal sien, die ore van die dowes sal hoor, die kreupeles sal hardloop en spring soos takbokke. Die aarde sal goeie kos vir almal voortbring. En al die mense sal mekaar liefhê soos Jesus sy dissipels geleer het om te doen (Johannes 13:34, 35). Kom ons gaan kyk na die verse in die boek Jesaja wat hieronder aangegee word en lees oor die wonderlike dinge wat sal plaasvind.—Jesaja 2:4; 11:6-11; 25:8; 33:24; 35:5, 6; 65:21-24.

Sedert Jesus mense geleer het om te bid: “Laat u koninkryk kom”, het miljoene mense van daardie Koninkryk geleer. Hierdie kennis het hulle lewe verander. Binnekort, wanneer daardie Koninkryk kom en dit al die regerings op die aarde vervang, sal almal wat Jehovah God en sy gekose Heerser, Jesus Christus, dien, vrede, gesondheid en geluk geniet.—Johannes 17:3.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te spoor om sy gedagtes uit te spreek.