Spring na inhoud

 Sleutels tot gesinsgeluk

Praat met jou kinders oor seks

Praat met jou kinders oor seks

Alicia, * ’n tiener, sê: “Soms wil ek net iets oor seks weet, maar ek is bang dat my ouers sal dink dat ek iets slegs wil doen as ek hulle vrae vra.”

Inez, Alicia se ma, sê: “Ek wil baie graag met my dogter oor seks praat, maar sy is so besig met haar eie lewe. Dit is moeilik om ’n tyd te vind wanneer sy beskikbaar is.”

VANDAG is seks oral—op TV, in rolprente en in advertensies. Die enigste plek waar die onderwerp blykbaar nog taboe is, is in gesprekke tussen ouers en kinders. “Ek wens ouers het geweet hoe senuweeagtig en skaam ’n mens voel om met hulle oor seks te praat”, sê ’n tiener in Kanada met die naam Michael. “Dit is makliker om met ’n vriend te praat.”

Ouers is dikwels net so teësinnig soos hulle kinders om oor die onderwerp te praat. In haar boek Beyond the Big Talk sê die gesondheidsvoorligter Debra W. Haffner: “Baie ouers het vir my gesê dat hulle vir hulle kind ’n boek oor seksualiteit of puberteit gekoop het, dit in die kind se kamer gelos het en dit nooit weer bespreek het nie.” Haffner sê dat die boodskap wat aan kinders oorgedra word, duidelik is: “Ons wil hê dat jy ingelig moet wees oor jou liggaam en oor seks; ons wil net nie met jou daaroor praat nie.”

As jy ’n ouer is, moet dít nie jou gesindheid wees nie. Trouens, dit is uiters belangrik dat jy self met jou kinders oor seks praat. Kyk na drie redes:

  1. Die wêreld se definisie van seks het verander. “Daar is nie meer ’n eenvoudige definisie van seks, naamlik ’n man en vrou wat omgang het nie”, sê die 20-jarige James. “Nou is daar orale seks, anale seks, kuberseks—selfs seks-sms’e.”

  2. Jou kinders sal waarskynlik op ’n vroeë ouderdom verkeerde inligting kry. “Sodra hulle skool toe gaan, sal hulle van seks hoor”, sê ’n ma genaamd Sheila, “en hulle sal nie die beskouing hoor wat jy wil hê hulle moet hoor nie.”

  3. Jou kinders het vrae oor seks, maar sal waarskynlik nie ’n gesprek met jou daaroor begin nie. “Ek het eerlikwaar geen idee hoe om ’n gesprek oor seks met my ouers te begin nie”, sê die 15-jarige Ana van Brasilië.

Om met jou kinders oor seks te praat, is in werklikheid deel van jou godgegewe verantwoordelikheid  as ’n ouer (Efesiërs 6:4). Dit laat jou sowel as hulle dalk ongemaklik voel. Maar ’n positiewe sy is dat baie jongmense saamstem met die 14-jarige Danielle, wat sê: “Ons wil by ons ouers van seks leer—nie by ’n onderwyser of op ’n TV-program nie.” Hoe kan jy dan met jou kinders oor hierdie belangrike maar weliswaar ongemaklike onderwerp praat? *

Volgens hulle ouderdom

Tensy hulle in algehele afsondering lewe, begin kinders op ’n vroeë ouderdom van seks hoor. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat goddelose mense in hierdie “laaste dae” voortgaan “van kwaad tot erger” (2 Timoteus 3:1, 13). ’n Betreurenswaardige feit is dat baie kinders deur volwassenes vir perverse seksuele doeleindes uitgebuit word.

Dit is dus belangrik dat jy jou kinders begin inlig terwyl hulle nog baie jonk is. “As jy wag totdat hulle byna tieners is”, sê ’n ma in Duitsland genaamd Renate, “sal hulle dalk nie openlik wil praat nie as gevolg van die inhibisies wat met puberteit gepaardgaan.” Die sleutel is om kinders inligting te gee wat gepas is vir hulle ouderdom.

Vir kleuters:

Konsentreer daarop om die kind die regte name van die geslagsorgane te leer, en beklemtoon dat niemand aan hierdie organe mag raak nie. “Ek het my seun begin leer toe hy drie jaar oud was”, sê ’n ma in Mexiko met die naam Julia. “Die wete dat onderwysers, kinderoppassers en ouer kinders hom kon leed aandoen, het my baie bekommer. Hy moes weet hoe om hom teen vreemdelinge te beskerm.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Leer jou kind om ferm te reageer as enigiemand met sy of haar geslagsorgane probeer speel. Jy kan jou kind byvoorbeeld leer om te sê: “Hou op! Ek gaan sê wat jy doen!” Verseker jou kind dat hy jou altyd daarvan kan vertel—selfs as die persoon hom geskenke belowe of hom dreig. *

Vir laerskoolkinders:

Gebruik hierdie jare om jou kind se kennis geleidelik uit te brei. “Toets as ’t ware die water voordat jy ’n gesprek begin”, beveel ’n pa met die naam Peter aan. “Vind uit wat hulle reeds weet en of hulle meer wil weet. Moet hulle nie dwing om daaroor te praat nie. Dit sal waarskynlik natuurlikerwys gebeur as jy gereeld met jou kinders tyd deurbring.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Voer gereeld kort besprekings in plaas van een lang bespreking (Deuteronomium 6:6-9). Sodoende sal jy jou kinders nie oorweldig nie. Verder sal hulle, namate hulle ouer word, die nodige inligting vir hulle vlak van volwassenheid hê.

Vir adolessente:

Dit is nou die tyd om seker te maak dat jou kind genoeg kennis het van die fisiese, emosionele en sedelike aspekte van seks. “Seuns en meisies by my skool het alreeds seks”, sê die 15-jarige Ana, wat vroeër aangehaal is. “Ek dink dat ek as ’n Christen genoeg kennis oor die onderwerp moet hê. Al is dit hoe moeilik om seks te bespreek, dit is iets waarvan ek moet weet.” *

’n Waarskuwing: Tieners huiwer dalk om vrae te vra omdat hulle bang is dat hulle ouers hulle van verkeerde gedrag sal verdink. Dit is wat een pa genaamd Steven gevind het. “Ons seun wou nie meer oor seks praat nie”, sê hy. “Maar later het ons uitgevind dat hy dink dat ons agterdogtig is oor sy gedrag. Ons het dit duidelik gemaak dat ons nie hierdie onderwerpe bespreek omdat ons hom van enigiets verdink nie; ons wou net seker maak dat hy toegerus is om die slegte invloede om hom te weerstaan.”

 PROBEER DIE VOLGENDE: In plaas daarvan om jou adolessent direkte vrae oor iets spesifieks omtrent seks te vra, kan jy vra hoe sy of haar klasmaats die saak beskou. Jy kan byvoorbeeld sê: “Vandag voel baie mense dat orale seks nie werklik seks is nie. Is dit hoe jou skoolmaats voel?” Die kanse is groter dat sulke indirekte vrae jou adolessent sal laat praat en sê wat hy of sy daarvan dink.

Hoe om die ongemak te bowe te kom

Om met jou kinders oor seks te praat, is dalk wel een van die ongemaklikste dinge wat jy as ’n ouer sal moet doen. Maar dit is beslis die moeite werd. “Ná verloop van tyd”, sê ’n ma genaamd Diane, “voel ’n mens minder ongemaklik, en in werklikheid kan gesprekke oor seks met jou kind geleenthede bied om julle verhouding te versterk.” Steven, wat vroeër aangehaal is, stem saam. “Dit word makliker om ongemaklike onderwerpe soos seks te bespreek as almal in die gewoonte kom om openlik te praat oor enige onderwerp wat in die gesin opduik”, sê hy, en hy voeg by: “’n Mens voel nooit heeltemal op jou gemak nie, maar openhartige kommunikasie is die lewensaar van ’n gesonde Christengesin.”

^ par. 3 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 11 Hierdie artikel sal die belangrikheid daarvan bespreek om met jou kinders oor seks te praat. ’n Toekomstige artikel in hierdie reeks sal bespreek hoe om sedelike waardes in sulke besprekings oor te dra.

^ par. 16 Met wysiging van bladsy 171 van Leer by die Groot Onderwyser, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 19 Gebruik hoofstukke 1-5, 28, 29 en 33 van Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, uitgegee deur Jehovah se Getuies, om seks met jou adolessent te bespreek.

VRA JOU AF . . .

Lees die volgende kommentare wat van jongmense regoor die wêreld ontvang is, en vra jou dan die bygaande vrae af.

“My ouers sê vir my om artikels oor seks te lees en dan na hulle toe te kom as ek enige vrae het. Maar ek wens hulle wil meer met my daaroor praat.”—Ana, Brasilië.

Waarom dink jy dat dit belangrik is om meer te doen as om net vir jou kind leesstof te gee?

“Ek weet soveel verdraaide dinge omtrent seks—dinge waarvan ek nie dink my pa die vaagste benul het nie. Hy sal verskriklik geskok wees as ek hom daaroor vra.”—Ken, Kanada.

Watter vrese het jou kind dalk om dinge waaroor hy of sy wonder, met jou te bespreek?

“Toe ek uiteindelik die moed bymekaargeskraap het om my ouers ’n vraag oor seks te vra, het hulle geantwoord asof hulle my beskuldig en gesê: ‘Waarom vra jy so iets? Het iets gebeur?’”—Masami, Japan.

Hoe kan jou reaksie, wanneer jou kind jou ’n vraag oor seks vra, toekomstige besprekings aanmoedig of ontmoedig?

“Dit sal help as my ouers my verseker dat hulle, toe hulle my ouderdom was, dieselfde vrae gevra het en dat dit normaal is vir my om ook vrae te vra.”—Lisette, Frankryk.

Hoe kan jy jou kind gemakliker laat voel om met jou oor seks te praat?

“My ma het vir my vrae oor seks gevra—maar op ’n vriendelike toon. Ek dink dit is belangrik sodat ’n kind nie voel dat hy veroordeel word nie.”—Gerald, Frankryk.

Watter stemtoon gebruik jy wanneer jy met jou kind oor seks praat? Moet jy aanpassings maak?