Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Die Amerikas

Die Amerikas
  • LANDE 57

  • BEVOLKING 970 234 987

  • VERKONDIGERS 3 943 337

  • BYBELSTUDIES 4 341 698

Hulle het ’n egpaar genooi om by hulle te bly

In Las Vegas, Nevada, wou ’n egpaar wat nie Getuies is nie, in ’n vreedsame omgewing woon, en daarom het hulle hulle huis verkoop sodat hulle na die Dominikaanse Republiek kon trek. Maar hulle moes tien dae voor hulle vlug uit hulle huis uittrek. Om hulle te help, het hulle bure, wat Jehovah se Getuies is, die egpaar genooi om by hulle in hulle huis te bly. Terwyl die egpaar by die Getuies gebly het, het hulle ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon. Hulle was verbaas om te hoor dat 1914 gemeld is, iets wat hulle belangstelling gewek het. Hulle het geweet dat dit ’n belangrike datum in wêreldgeskiedenis is. Nadat die egpaar in die Dominikaanse Republiek aangekom het, het hulle die eerste Getuies wat aan hulle deur geklop het, gevra om die Bybel met hulle te studeer. Veertien maande later was hulle albei toegewy en gedoop.

Presies wat sy nodig gehad het

Die broers het ’n lektuurstalletjie by die Internasionale Boekskou vir 2012 in Panamastad, Panama, opgestel. Twee skoolmeisies het na die stalletjie gekom. Een van die meisies het vir die suster by die stalletjie gesê dat sy ontsteld is. Die meisie het gesê dat haar pa aan dwelms verslaaf is en dat sy nie weet hoe om die situasie te hanteer nie. Die suster het vir die meisie hoofstuk 23 gewys van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, met die titel: “Sê nou my ouer is verslaaf aan dwelms of alkohol?” Die meisie het opgewonde gesê: “Dis presies wat ek nodig het!” Die meisies het vir die suster ’n drukkie gegee en ’n uur later teruggekom om haar weer te bedank. Gedurende die vyf dae van die skou het die broers 1 046 boeke, 1 116 tydskrifte en 449 brosjures by mense gelaat. Ses-en-vyftig mense het hulle adresse vir die broers gegee sodat die Getuies hulle kan besoek.

Hy het vier jaar lank op sy eie gepreek

Fredy, wie se moedertaal Cabecar is, woon in ’n afgesonderde berggemeenskap in Costa Rica. Terwyl Fredy ongeveer vier jaar gelede in die hoofstad, San José, gewerk het, het hy die boek Wat leer die Bybel werklik? en die brosjure Wat vereis God van ons? gekry. Die verkondiger wat die lektuur by Fredy gelaat het, het vir hom gesê om vir die mense in sy gemeenskap te gaan preek. Hy het toe huis toe gegaan, die Leer Bybel-boek op sy eie bestudeer en veranderinge in sy lewe aangebring, soos om sy huwelik te laat registreer. Toe het hy die waarheid aan ander Cabecarsprekendes na die beste van sy vermoë geleer.

Fredy het klasse vir sy Bybelstudente gereël. Hy het sy klasse in ses vlakke verdeel en studente ingedeel op grond van hoe goed hulle gevaar het in ’n eksamen waarin hy hulle Bybelkennis getoets het. Hy het vergaderinge gereël en selfs die Gedenkmaal gehou, waarvoor hy sy eie uitnodigings geskryf het. Dit het gesê: “Jehovah se Getuies nooi jou om Christus se dood saam met ons te herdenk.” Hy het dit alles vier jaar lank gedoen sonder dat hy enige verdere kontak met die Getuies gehad het! Intussen het hy Jehovah in gebed gevra om Getuies te stuur om hom te help.

Fredy se gebed is onlangs verhoor. ’n Groep Getuies het die moeilike reis na hierdie gemeenskap onderneem en was verbaas om te sien wat hy alles bereik het. Hulle het geskryf: “Hoewel Fredy nie ’n gedoopte Getuie is nie, lewe hy soos een!” Ná net drie maande is hy as ’n ongedoopte verkondiger goedgekeur. Om gedoop te word, het Fredy van die berg afgekom en sy eerste streekbyeenkoms bygewoon. Hy het 19 van sy Bybelstudente saam met hom gebring. Nou het hy nog drie Cabecarsprekende groepe in selfs meer afgeleë nedersettings georganiseer.

Costa Rica: Fredy, wat nou as ’n gewone pionier dien, reis ver om Bybelstudies te hou

Sy het haar geloof by die skool verdedig

Eendag moes Anna, ’n hoërskoolleerling in die Verenigde State, haar geloof verdedig teenoor etlike van haar portuurs wat hoogs ontsteld was omdat sy nie in die Drie-eenheid glo nie. “Die hele groep het teen my gedraai”, sê Anna, “maar ek het kalm gebly, want ek wou nie hê dat ander ’n slegte indruk van Jehovah se Getuies kry nie.” Daardie aand het sy Jehovah vir moed gevra en navorsing oor die Drie-eenheid gedoen. Die volgende dag het Anna haar Bybel skool toe geneem. Haar klasmaats het om haar saamgedrom terwyl baie van hulle gegiggel het. Nogtans het sy moedig vir hulle verskillende tekste gewys en daaroor geredeneer. Uiteindelik het dié wat met haar geargumenteer het, stilgebly. Die voorbok, wat ook die klaskaptein was, het later erken dat sy nou Jehovah se Getuies respekteer. Gedurende die skooljaar het sy Anna verskeie vrae oor haar oortuigings gevra.

’n Stukkende skoen op die regte tyd

’n Jong vrou in Barbados het een Sondagoggend kerk toe geloop toe ’n bandjie van een van haar skoene gebreek het. Sy het na ’n nabygeleë huis gegaan om te vra of hulle ’n haakspeld vir haar het waarmee sy haar skoen kon regmaak. Dit was toevallig die huis van ’n Getuiesuster en haar dogter. Terwyl die jong vrou haar skoen reggemaak het, het die suster vir haar verduidelik hoe Bybelprofesieë nou vervul word. Die suster se dogter het die jong vrou toe genooi om die vergadering by die Koninkryksaal later daardie oggend saam met hulle by te woon. Aangesien die vrou laat was vir haar kerkdiens, het sy besluit om die uitnodiging te aanvaar. Tydens die vergadering het sy al die tekste in haar King James-Bybel nageslaan. Die program het haar diep beïndruk. Sy het gesê dat sy moeg was vir die geraas van tromme en geskreeu in haar kerk en dat sy nog altyd die Bybel in ’n rustige atmosfeer wou bestudeer. Sy het die Leer Bybel-boek sowel as ’n Bybelstudie aanvaar. Sy woon al die vergaderinge by en neem entoesiasties daaraan deel.

Net een persoon kan hom keer om te preek

’n Jong broer in Guyana vertel: “Ek hou daarvan om vir klasmaats by die skool te getuig, maar daar is ’n seun wat nie daarvan hou wanneer ek preek nie. Eendag het hy my teen ’n muur gestoot en vir my gesê: ‘Hou op preek!’ Ek het vir hom gesê dat Jehovah die enigste persoon is wat my kan keer. Terwyl ek aanhou preek het, het hy my rugsak gesny. Toe het hy my in die gesig geslaan, en my lip het begin bloei. Ons is al twee na die hoof se kantoor ontbied. Die hoof het my gevra wat ek aan die seun gedoen het dat hy my in die gesig geslaan het. Ek het vir haar gesê dat ek oor die goeie nuus gepreek het, en dit is hoekom hy met my baklei het. Die hoof het gevra waarom ek nie terugbaklei het nie, en sy het selfs te kenne gegee dat ek dit moes gedoen het. Ek het gesê dat ek in die Bybel in Romeine 12:17 geleer het dat Christene ‘niemand kwaad vir kwaad moet vergeld nie’. Toe die hoof dit hoor, het sy my verskoon en gesê dat sy die situasie met die seun wat my geslaan het, verder sou hanteer.”

Catamarca, Argentinië