Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Oseanië

Oseanië
  • LANDE 29

  • BEVOLKING 39 508 267

  • VERKONDIGERS 96 088

  • BYBELSTUDIES 63 333

“Nou verstaan ek”

Freda, wat doof is, het oorgeloop van vreugde toe sy uitvind dat sy en haar Bybelonderrigter by die eerste gebaretaalgemeente in Papoea-Nieu-Guinee sal aansluit. Die gemeente is op 1 Maart 2013 gestig. Freda het agterkom dat sy die vergaderinge baie beter verstaan wanneer sy die publikasies neersit en aandag skenk aan die gebaretaal en die visuele hulpmiddels op die verhoog. As gevolg hiervan het sy, tot haar verbasing, haar skaamheid oorkom en begin om verskeie kere gedurende die vergaderinge te antwoord. In April 2013 het sy aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te word, en sy help ook ander dowe mense om die vergaderinge by te woon. Toe sy gevra word waarom trane dikwels gedurende die vergaderinge oor haar wange rol, het sy geantwoord: “Want nou verstaan ek.”

Sy het in die verkeerde motor geklim

Terwyl Barbara, wat in Australië woon, na ’n velddiensgroep gery het, het sy langs die pad stilgehou om te kyk of sy haar notaboek saamgebring het. Skielik het die motordeur oopgegaan en ’n vrou het begin inklim.

“Verskoon my”, het Barbara gesê, “maar ek dink jy klim in die verkeerde motor.”

“Ek’s jammer”, het die vrou gesê. “Ek het gedink jy is die vrou wat my kom oplaai.” Toe sy Die Wagtoring en Ontwaak! in die motor sien, het die vrou gesê: “Ek het jare terug hierdie tydskrifte by twee vrouens gekry wat my van die Bybel geleer het.” Barbara was bly om vir die vrou die tydskrifte te gee en het later ’n Bybelstudie met haar begin.

“Briewe van God af”

Nieu-Seeland: Violet vertel baie mense van die waarheid deur middel van haar briewe

Violet is ’n 82-jarige verswakte suster in Christchurch, Nieu-Seeland. Sy stuur gereeld briewe en Bybellektuur na verpleeginrigtings en hospiese in haar omgewing. Die verpleegsters in hierdie inrigtings wat die briewe uitdeel, sê dat die bejaardes gretig wag op wat hulle hulle briewe van God af noem. Party lees hulle briewe en lektuur en gee dit dan vir ander of hulle lees dit hardop vir dié met swak sig. Die verpleegsters sê dat die persone wat die briewe en lektuur lees, kalmer, positiewer en vreedsamer is as dié wat dit nie doen nie. Violet sê oor haar pogings om te getuig: “Ek voel dat Jehovah my nog steeds gebruik om ander te help. Om die waarheid op hierdie wyse aan ander mee te deel, is werklik aanmoedigend.”

Sy het oor rose gelees

“Ek het dit reeds gelees.” Hierdie onverwagte antwoord het Bernie een Saterdagoggend onkant betrap terwyl sy die nuutste nommers van Die Wagtoring op die eiland Saipan aangebied het. Sy het gewonder hoe Bernadette, ’n kollegestudent wat die deur oopgemaak het, reeds die tydskrif kon gelees het. Bernie het toe ’n ander tydskrif uit haar handsak gehaal. “Ek het daardie een ook al gelees”, het Bernadette gesê. Bernie was uit die veld geslaan en het gevra: “Waar het jy hierdie tydskrifte gelees? Is jy een van Jehovah se Getuies wat hier op vakansie is?” Bernadette het verduidelik dat sy nie ’n Getuie is nie, maar dat sy die tydskrifte aanlyn gelees het. Terwyl sy eendag inligting oor blomme op die Internet gesoek het, het Bernadette die woord “rose” ingetik, en een van die soekresultate het haar belangstelling geprikkel: “Betowerende rose uit Afrika”, ’n artikel in die Ontwaak! wat op die webwerf van Jehovah se Getuies verskyn het. Bernadette het vir Bernie gesê dat sy die artikel so baie geniet het dat sy besluit het om die webwerf verder te verken. Sy het eers net inligting gesoek oor plante en diere, maar het gou fassinerende inligting oor die Bybel ontdek. Bernie het besef dat Bernadette in die Bybel belangstel en het haar ’n gratis tuisbybelstudie aangebied en later teruggekeer met die boek Wat leer die Bybel werklik? Teen Bernie se derde besoek het sy en Bernadette hoofstuk een van die boek bespreek. Ongeveer ’n jaar later, in November 2012, is Bernadette gedoop. Sy het so vinnig gevorder dat haar vriende soms sê dat Bernadette in die waarheid “ingehardloop” het. Die webwerf het haar beslis ’n hupstoot gegee.