GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR
’n Organisasie wat aan die beweeg is
Op Vrydag 5 Julie 2013 was die Bethelgesin in die Verenigde State baie opgewonde toe Anthony Morris van die Bestuursliggaam aangekondig het: “Op Donderdag 4 Julie 2013 is ’n ooreenkoms bereik om die ses geboue van die kompleks op Adamsstraat 117 en Sandsstraat 90 in Brooklyn te verkoop. Volgens die verkoopooreenkoms moet Gebou 1 tot 5 teen die middel van Augustus vanjaar ontruim word.”
Broer Morris het verduidelik dat die Wassery en Droogskoonmakery, wat op die sesde en sewende vloere van Gebou 3 geleë is, tot die middel van 2014 daar sal
bly. “Die Sandsstraat 90-gebou”, het hy gesê, “sal waarskynlik in 2017 ontruim word.”Die verkoop van die ses groot geboue is deel van die poging om die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies van die stad New York na ’n eiendom van 102 hektaar in Warwick, New York, te verskuif. Maar die voorbereidingswerk en graafwerk by die bouterrein kon eers begin toe die nodige permitte verkry is.
Die Bethelgesin in die Verenigde State het dus aandagtig geluister toe Mark Sanderson van die Bestuursliggaam die volgende aankondiging op Donderdag 18 Julie gelees het: “Ons is bly om aan te kondig dat die Beplanningsraad van die stad Warwick die terreinplan vir die nuwe wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies eenparig op Woensdagaand 17 Julie goedgekeur het. Dit was die laaste goedkeuring wat nodig was om boupermitte te verkry om met die bouwerk te begin. Dit is interessant dat gisteraand se goedkeuring ontvang is presies vier jaar nadat ons die eiendom in Warwick gekoop het. Wat meer is, die gebeure van die afgelope paar dae wat hierdie goedkeuring voorafgegaan het, voorsien dramatiese bewyse van Jehovah se seën.” Broer Sanderson het almal vir hulle onvermoeide werk en opregte gebede in verband met hierdie belangrike projek bedank. “Bowenal”, het hy gesê, “loof en dank ons Jehovah dat ons hierdie belangrike mylpaal in die verskuiwing van die wêreldhoofkwartier na Warwick, New York, bereik het.”
Op Vrydag 26 Julie het broer Morris vergader met ongeveer 1 000 vrywilligers van Bethel en
Streekboukomitees (SBK) wat bymekaargekom het in die nuwe eetsaal by Tuxedo, New York, die voorbereidingsterrein vir die Warwick-projek. Nadat hy ’n aanmoedigende geestelike onderwerp bespreek het, het hy gesê dat hy ’n aankondiging moet maak. “In my hand”, het broer Morris gesê, “het ek iets wat ek so pas ontvang het waarvan ek julle graag wil vertel. Bo-aan hierdie vorm staan daar: ‘Boupermit.’” Voordat hy verder kon lees, het dawerende applous losgebars. Tot almal se vreugde het broer Morris gedeeltes van die eerste belangrike boupermit gelees, wat net drie uur tevore deur die dorp Warwick uitgereik is.Wat gebeur by Wallkill, Warwick en Tuxedo?
Sedert die begin van die uitbreidingsprojek by Wallkill in Augustus 2009 het ongeveer 2 800 broers en susters as tydelike vrywilligers daar gedien. Die projek sluit ’n nuwe woongebou, ’n parkeergarage en ’n kantoorgebou in. Een van die bestaande woongeboue word opgeknap, en veranderinge word aan die drukkery, wassery, ouditorium, diensgebou en hoofportaal aangebring. Daar word verwag dat die uitbreidingsprojek by Wallkill teen die einde van 2015 voltooi sal word.
Intussen het die bouwerk op die terrein van die toekomstige wêreldhoofkwartier by Warwick begin. Binne die eerste paar maande het werkers begin om die grond gelyk te maak, die graafwerk te doen en die ondergrondse kabels en pype te lê. Die bouwerk aan die eerste drie geboue—die Motorwerkswinkel, die Besoekersparkeergarage en die Instandhoudingsgebou—het laat in 2013 begin. Hierdie geboue is noodsaaklik sodat daar, gedurende die bouwerk en daarna, na die toerusting en werkers op die terrein omgesien kan word. Dan word daar
beplan om aan die begin van 2014 met die bouwerk aan die woongeboue en die Kantoor/Diensgebou te begin.Die fasiliteit by Tuxedo, ’n eiendom van 20 hektaar wat sowat tien kilometer noord van Warwick geleë is, “is ’n voorbereidingsterrein vir die toekomstige wêreldhoofkwartier by Warwick”, verduidelik Kenneth Chernish, ’n lid van die Bouprojekkomitee. “Van die vrywillige werkers sal daar bly, en dit sal ook gebruik word om maaltye, materiaal en toerusting aan hulle te voorsien.” Om die bouprojek van die fasiliteit by Tuxedo te bespoedig, help gekose SBK’s in die oostelike deel van die Verenigde State met sekere aspekte van die werk.
Baie vrywilligers wat saam met die SBK’s in die land werk, sien daarna uit om te help met die bou van die toekomstige wêreldhoofkwartier. Broers en susters met bouvaardighede stel hulle nou al beskikbaar om as tydelike vrywilligers op hierdie bouterreine te werk. Leslie Blondeau, wat saam met haar man, Peter, loodgieterswerk doen, sê: “Om saam te werk, bring ons nader aan mekaar en skep herinneringe wat ons nog lank sal koester.”
“Ek werk tans met die span wat die elektriese werk hier by Tuxedo doen”, sê Mallory Rushmore. “Dit is elke dag opwindend om te sien hoe almal hier—al die vrywilligers—saamwerk.”
“Dit is ’n onbeskryflike voorreg”, sê Quincy Dotson. “Ek het gedink dat ek baie van myself sou gee, maar in werklikheid het ek soveel meer gekry.”
“Dit is opwindend om deel te wees van hierdie projek”, sê broer Chernish. “Die broers en susters werk vinnig en doeltreffend, en terselfdertyd geniet hulle dit baie.”