GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR
Hulle waardeer die Wagtoring —AANLYN BIBLIOTEEK
Op 28 Junie 2013 is daar op jw.org aangekondig dat die Wagtoring—AANLYN BIBLIOTEEK (WAB) kort tevore ’n mylpaal bereik het toe dit in 100 tale beskikbaar gestel is. WAB kan op soortgelyke wyse as Watchtower Library, wat op CD-ROM beskikbaar is, vir navorsing gebruik word. WAB kan gebruik word op die meeste toestelle wat toegang tot die Internet het, soos ’n tafelrekenaar, ’n skootrekenaar, ’n tablet of ’n slimfoon. Die meeste van die materiaal daarop dateer vanaf die jaar 2000. In baie tale word die Nuwe Wêreld-vertaling en Insight on the Scriptures ook ingesluit. Die soekfunksie kan gebruik word om ’n woord, ’n frase of ’n kombinasie van woorde op te soek, soos op Watchtower Library gedoen kan word. Wanneer jy hierdie aanlyn biblioteek gebruik, kan jy tekste of inligting in een taal opsoek en dan die materiaal met ’n ander taal sinchroniseer. Hier volg ’n paar briewe van waardering vir hierdie waardevolle navorsingshulp:
“Baie dankie vir WAB. Toe ek hierdie nuwe studiehulp gesien het, het my hart oorgeloop van waardering. Ek is glad nie ’n kenner wanneer dit kom by rekenaarprogrammering of webontwerp nie, maar ek kan sien dat hierdie navorsingshulp van ’n baie hoë gehalte is. Julle liefde vir julle medemens, vir julle broers en vir Jehovah kan duidelik gesien word. Die ontwerp van WAB is ’n duidelike bewys dat julle omgee. Ek kon nie vir ’n beter gawe en blyk van liefde en vrygewigheid van my hemelse Vader, Jehovah, gevra het nie. Baie dankie.”
—A., Argentinië.
“Ek kan dit nie glo nie! Ek het WAB vanmiddag besoek, en Haïtiaanse Kreools was een van die nuwe tale wat daarop beskikbaar is. Ek het nooit gedink dat dit sou gebeur nie. In hierdie brief kan julle natuurlik sien dat woorde my ontbreek. Mag Jehovah al julle pogings seën, en mag sy heilige gees aanhou om julle te lei.”
—D.C., Verenigde State.