Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

SIERRA LEONE EN GUINEE

Die rebellesoldate het ons nie leed aangedoen nie

Andrew Baun

Die rebellesoldate het ons nie leed aangedoen nie
  • GEBORE 1961

  • GEDOOP 1988

  • PROFIEL ’n Gewone pionier in Pendembu, Oostelike Provinsie, Sierra Leone, toe die oorlog in 1991 uitgebreek het.

OP ’N middag het rebelle na ons dorp gekom en omtrent twee uur lank met hulle gewere in die lug geskiet. Party was jong tieners wat gesukkel het om hulle wapens te dra. Hulle was baie vuil, met wilde, ongekamde hare, en was blykbaar onder die invloed van dwelms.

Die volgende dag het die slagting begin. Mense is wreed vermink of tereggestel. Vroue is verkrag. Dit was chaoties. Broer Amara Babawo en sy gesin en vier belangstellendes het in my huis kom skuiling soek. Ons was vreesbevange.

Kort daarna het ’n rebellebevelvoerder daar opgedaag en ons beveel om die volgende oggend vir militêre opleiding aan te meld. Ons was vasbeslote om neutraal te bly, hoewel weiering die dood sou beteken. Ons het amper die hele nag gebid. Ons het vroeg opgestaan, die dagteks bespreek en gewag vir die rebelle om te kom. Hulle het nooit gekom nie.

Later het ’n rebelle-offisier en vier van sy manskappe my huis oorgeneem. Hulle het egter vir ons gesê om daar te bly; ons het dus aangehou om gereelde vergaderinge by my huis te hou en die dagteks te bespreek. Van die soldate het gesê: “Julle lees die dagteks. Julle is sekerlik Jehovah se Getuies.” Hulle het nie in die Bybel belanggestel nie, maar hulle het ons gerespekteer.

Eendag het ’n senior bevelvoerder die soldate wat by my huis ingekwartier was, kom inspekteer. Hy het broer Babawo gesalueer en hom met die hand gegroet. Die bevelvoerder het die soldate in ’n harde stem gewaarsku: “Hierdie man is my en julle baas. As een haar op sy kop of op die kop van diegene by hom aangeraak word, is julle in die moeilikheid. Verstaan julle?” “Ja, meneer!” het hulle geantwoord. Die bevelvoerder het ons toe ’n brief gegee wat die Revolusionêre Verenigde Front beveel het om ons geen leed aan te doen nie omdat ons vreedsame burgers is.

Etlike maande later het rebellefaksies teen mekaar begin veg, en daarom het ons na die naburige Liberië gevlug. Daar is ons deur nog ’n rebellegroep gedreig. “Ons is Jehovah se Getuies”, het ons vir hulle gesê. “Wat sê Johannes 3:16 dan?” het ’n soldaat gevra. Toe ons die vers aanhaal, het hy ons laat gaan.

Later het ons nog ’n rebellebevelvoerder ontmoet wat my en broer Babawo beveel het om saam met hom te kom. Ons was bang dat ons doodgemaak sou word. Toe het die rebel vir ons gesê dat hy voor die oorlog saam met die Getuies gestudeer het. Hy het vir ons geld gegee en het ’n brief van ons na die broers in ’n nabygeleë gemeente geneem. Kort daarna het twee broers met noodlenigingsvoorraad gekom en ons na veiligheid geneem.

“Julle lees die dagteks. Julle is sekerlik Jehovah se Getuies”