AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK
Die Amerikas
-
LANDE 57
-
BEVOLKING 998 254 087
-
VERKONDIGERS 4 154 608
-
BYBELSTUDIES 4 353 152
“Ek sal saam met jou leer”
Ismael, wat in Mexiko woon, het besluit om die hele Bybel te lees. Binne ’n jaar het hy dit twee keer deurgelees, maar hy het later blind geword. Ná ’n paar jaar het Ángel, een van Jehovah se Getuies, Ismael ontmoet en met hom oor God se beloftes gepraat. Ismael was gretig om meer te leer, maar hy het gesê: “Ek is blind. Ek kan nie meer die Bybel lees nie.”
Ángel het hom verseker: “Dis nie ’n probleem nie. Ek sal jou braille leer.”
“Kan jy braille lees?”, het Ismael gevra.
“Nee, maar ek sal dit saam met jou leer”, het Ángel geantwoord. Ismael kon nie glo dat Ángel bereid was om dit vir hom te doen nie. Maar Ángel het huis toe gegaan, navorsing gedoen oor hoe om braille te lees en braille-letters, verhewe kolletjies wat gevoel kan word, uit karton gemaak. Daarna het hy Ismael begin leer hoe om braille te lees. Kort voor lank het Ismael die braille-alfabet geken, vergaderinge bygewoon en kon hy ons braillepublikasies lees. Ángel hou nou Bybelstudie met vier mense wat blind is. Hulle geniet dit om te praat oor die toekomstige Paradys wanneer hulle weer sal kan sien.
Sy het hom nie herken nie
Viannei, ’n 14-jarige suster uit die Verenigde State, skryf: “In die sosiale studie-klas het die onderwyser oor godsdiens begin praat. Hy het ons gevra watter godsdienste ons ken, toe sê ek Jehovah se Getuies. My klasmaats het gelag en gesê dat ons hulle tyd mors, dat ons niks beters het om te doen nie en dat hulle ons boekies weggooi. Selfs die onderwyser het slegte dinge oor ons gesê.
“Ek het toe tot Jehovah gebid om my te help om vir hulle te getuig. Ek het vir hulle gesê dat ons nie na hulle huise toe gaan om hulle tyd te mors nie, maar eerder
omdat Jehovah ons stuur om vir hulle goeie raad uit die Bybel te gee. Ek het hulle mooi gevra om nie ons lektuur weg te gooi nie, want dit kan hulle lewe verander en selfs red. Die onderwyser het om verskoning gevra en belowe dat hy sal luister wanneer die Getuies weer aan sy deur klop en dat hy die lektuur sal lees. Maar ek het hom nie geglo nie.“Toe ek hom vier maande later sien, was ek verbaas
om uit te vind dat hy die Bybel studeer. Ses maande later het hy my by die skool kom soek om vir my dankie te sê dat ek vir hom getuig het. Ek het hom glad nie herken nie omdat hy sy hare gesny het en sy baard afgeskeer het. Hy is nou ’n ongedoopte verkondiger.”Predikingswerk in die Amasone
Laas jaar het Jehovah se Getuies in Brasilië op die uitgestrekte Amasonestreek gefokus. Baie in daardie streek
het nog nooit die goeie nuus gehoor nie. Daarom het die Bestuursliggaam ’n spesiale predikingskampanje goedgekeur wat ’n jaar lank sou duur. Die doel was om die duisende mense te bereik wat in die mees afgeleë dele van die Amasone woon.Die takkantoor het 53 dorpe gekies wat oral langs die Amasone se groot netwerk van waterweë geleë is, en Koninkrykspredikers gedurende dié tyd soontoe gestuur. Binne net vier maande het meer as 6 500 verkondigers aan die kampanje deelgeneem.
In die verafgeleë dorp Anamã was daar geen Koninkryksverkondigers nie. Tien broers en susters het 11 dae lank daar gebly en meer as 12 500 publikasies geplaas en sowat 200 Bybelstudies begin, wat nou oor die foon gehou word. Terwyl die broers daar was, het hulle ook vergaderinge gehou. By hulle laaste vergadering was hulle baie bly omdat 90 mense dit bygewoon het. Ons sal nog uitvind hoe suksesvol die kampanje was.
Sy het oor jw.org gepraat
By ’n skool in Venezuela is Jehizel en Mariana vir die afgelope ses jaar in dieselfde klas. Omdat Jehizel een van Jehovah se Getuies is, het Mariana haar gedurig gespot. Mariana was oortuig dat Jehizel nie geweet het hoe om die lewe te geniet nie. Eendag, nadat Mariana haar weer gespot het, het Jehizel gesê: “Mariana, gaan kyk bietjie na ons webwerf, jw.org. Gaan dan na ‘Vind video’s’ en klik op ‘Tieners’.”
Daardie middag het Mariana vir Jehizel gebel. Sy het gesê: “Nou weet ek hoekom julle al hierdie dinge doen.”
Jehizel was nie seker wat sy bedoel het nie en het gevra: “Spot jy my al weer?”
Mariana het gesê: “Nee, ek sal jou nooit weer spot nie. Ek moet vir jou dankie sê, want ek het gedink dat ek my lewe geniet. Maar jy het my help besef dat hoe ek my ‘lewe geniet’, eintlik die oorsaak van baie van my probleme is.” ’n Bybelstudie is met Mariana begin, en nou woon sy al die vergaderinge by.
Vrae aan die pastoor
Gérole, wat as ’n sekretaresse vir haar kerk in Haïti gewerk het, was beïndruk omdat die Getuies al haar vrae uit die Bybel kon beantwoord. Sy en haar dogter het ’n
Bybelstudie aanvaar. Hulle was diep geraak deur wat hulle geleer het, en daarom het hulle gevra dat hulle studie twee keer per week gehou moet word.Nadat sy drie maande lank studeer het, het Gérole die pastoor van haar kerk vier vrae gevra: “In watter jaar het Jesus Koning geword? Waarheen gaan goeie mense wanneer hulle doodgaan? Waarheen gaan slegte mense wanneer hulle doodgaan? Het Jesus aan ’n kruis of aan ’n folterpaal gesterf?” Die pastoor het gesê dat hy net vraag twee en drie kon beantwoord. Hy het gesê: “Volgens Jehovah se Getuies gaan 144 000 mense hemel toe. Ek sê dat almal wat God se wil doen, hemel toe gaan. Maar die slegte mense sal vir ewig in die hel brand.” Toe sy hom vra om dit vir haar in die Bybel te wys, kon hy dit nie doen nie. Gérole was teleurgesteld, maar sy was nou meer vasbeslote as ooit tevore om met haar Bybelstudie voort te gaan. Sy het uit haar kerk bedank en gesê dat sy meer oor die Bybel geleer het in die drie maande wat sy saam met Jehovah se Getuies gestudeer het as in die 30 jaar wat sy kerk toe gegaan het. Gérole en haar dogter is onlangs gedoop, en hulle het 23 Bybelstudies in hulle dorpie begin.