GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR
Die wêreldwye predikingswerk kry voorkeur
OP Woensdag 23 September 2015 het die Bestuursliggaam die wêreldwye Bethelgesin in kennis gestel van ’n aantal veranderinge wat in die organisasie gemaak word sodat bydraes beter gebruik kan word. Toe, op Saterdag 3 Oktober 2015, het ’n aankondiging van die Bestuursliggaam verduidelik: “In Filippense 1:10 word ons aangemoedig om ‘seker [te] maak van die belangriker dinge’. In ooreenstemming met hierdie wyse raad wil ons [die Bestuursliggaam] graag voorkeur gee aan dié aktiwiteite wat die grootste bydrae lewer tot die geestelike welstand van God se volk en die bevordering van die wêreldwye predikingswerk.”
Stephen Lett van die Bestuursliggaam het verder op JW Broadcasting verduidelik: “Die Bestuursliggaam is so ernstig oor die bevordering van Koninkryksbelange in die veld dat ons weer gekyk het na maniere waarop ons uitgawes by al die takkantore kan verminder sodat daar meer geld vir bedrywighede in die veld beskikbaar is. Byvoorbeeld, baie Bethelgebruike en -dienste wat al lank bestaan, word afgeskaal of beëindig. Dit sal beteken dat ons nie meer so ’n groot Bethelgesin nodig het nie.”
Sowat 5 500 lede van die wêreldwye Bethelgesin het dus sedert September 2015 na die veld teruggekeer. Hoewel hierdie veranderinge groot aanpassings geverg het, kan Jehovah se seën duidelik gesien word en die veranderinge het die predikings- en onderrigtingswerk ’n hupstoot gegee.
’n Paartjie in Sri Lanka wat uit Bethel na die veld gestuur is, het dit as ’n geleentheid beskou om hulle geloof in Jehovah en hulle vertroue in sy organisasie te toon. Hulle het geskryf: “Ons was nie seker wat die toekoms sou inhou nie. Maar ons het beslis geweet dat Jehovah ons nie sou verlaat nie. Ons het toe gebid: ‘Jehovah, voor watter situasie ons ook al te staan kom, help ons asseblief om aanpassings te maak sodat ons albei as gewone pioniers kan dien.’ Daardie eerste maand moes ons met baie min klaarkom. Tog het ons Jehovah se liefde en sorg ervaar, en nou kan ons ons uitgawes dek. Ons het ’n besige rooster wat huiswerk, sekulêre werk en pionierdiens insluit. Maar ons weet hoe om ons tyd goed te gebruik as gevolg van die opleiding wat ons by
Bethel ontvang het. Daar is niks wat ’n mens groter tevredenheid verskaf as om mense te help om die waarheid te leer nie, en ons is bly dat ons dit as pioniers kan doen.”Party van die Betheliete in Colombia wat toewysings na die veld ontvang het, het ’n nuwe taal geleer en na vergeleë gebiede getrek om die Koninkryksboodskap daar aan afgesonderde groepe mense te verkondig. Hierdie broers en susters is ook ’n seën vir hulle nuwe gemeentes. ’n Kringopsiener het die volgende oor ’n paartjie geskryf wat na ’n gemeente in sy kring toegewys is: “Die broers en susters in die gemeente waardeer regtig hulle hulp. Die gemeente se deelname aan die veldbediening het verbeter, en plaaslike broers word opgelei om na verskillende verantwoordelikhede in die gemeente om te sien.” Baie voormalige Betheliete het ook aangebied om een of meer dae per week as deeltydse pendelaars by Bethel te dien.
’n Broer wat 31 jaar lank by Bethel in Japan gedien het, is na ’n gemeente gestuur waar daar net twee ouer manne was. Aangesien die Koninkryksaal opgeknap sou word, het hy besluit om vir twee weke geen sekulêre werk te doen nie. Maar net voor die opknapping het ’n aardbewing wat 7.0 op die Richterskaal gemeet het die Kumamoto-gebied getref waar sy gemeente was. Maar omdat hy tyd afgeneem het van sy sekulêre werk kon hy ná die aardbewing die leiding in die noodlenigingswerk en die herderswerk neem. Hy sê: “As ek daaraan terugdink, het Jehovah my na een van die plekke gestuur waar die meeste hulp nodig sou wees.”
Phil en Sugar, wat by die takkantoor in Australasië gedien het, verduidelik: “Toe ons na die veld gestuur is, was ons vasbeslote om ’n eenvoudige lewe te lei. Ons het vir Jehovah gebid om ons te help om goeie besluite te neem en om daardie besluite dan te seën. Ons wou net baie graag as pioniers in ’n gemeente in ’n ander land gaan dien. Jehovah het beslis ons besluite geseën en ons pad gelyk gemaak sodat ons hom heelhartig kan dien!” Hulle dien nou in ’n Engelse groep op die eiland Samal, Davao, Filippyne, waar daar 34 verkondigers en 9 gewone pioniers is. Tans het hulle omtrent 120 adresse van belangstellendes wat hulle moet besoek. “Daar is baie aangename werk wat nog gedoen moet word. Ons is bly dat ons ten volle op Jehovah vertrou het. Dit het beslis ons geloof in en ons liefde vir hom versterk!”
’n Ongetroude suster in Rusland wat gestuur is om as ’n spesiale pionier te dien, sê: “Die pionierdiens gee my die geleentheid om ’n groter deelname te hê aan hierdie allerbelangrikste verkondiging van God se Koninkryk wat nooit weer gedoen sal word nie. Dit is vir my ’n groot vreugde om so deur Jehovah gebruik te word.” Sy hou tans ses Bybelstudies met mense van Irak, Nigerië, Sirië, Sri Lanka en Zambië.
Baie Bethelgesinslede in Zambië wat nou as gewone pioniers dien, geniet dit om ’n groter aandeel aan die veldbediening te hê. “Binne ’n kort tydjie nadat ons Bethel verlaat het, het ons twee ongeletterde mense leer lees en skryf”, sê Andrew, wat saam met sy vrou pionier. “Een van ons studente, ’n 10-jarige seun, het binnekort sy eerste toewysing in die Lewe en Bediening-vergadering.
Een getroude paartjie vir wie ons getuig het en wat na die Gedenkmaal gekom het, was sedertdien by al die gemeentelike vergaderinge. Hulle vorder uitstekend met hulle Bybelstudie. Ons voel dat al hierdie dinge nie moontlik sou wees as ons nie Jehovah se leiding gevolg, sy ondersteuning aanvaar en op sy seën gewag het nie.”Edson en Artness, wat ook in Zambië woon, was maar net ’n paar maande lank getroud toe hulle teruggestuur is na die veld. Artness vertel: “Ons Bethelopleiding het ons gehelp om spaarsaam met ons geldjies te werk, nie skuld te maak nie en steeds gelukkig te wees. Ons is nie spyt dat ons in Bethel was nie. Ons het geleer hoe om ons geestelike doelwitte aan te pas en dit met Jehovah se hulp te bereik. Ons geloof in Jehovah is verder versterk en ons is vasbeslote om lojaal aan Jehovah te bly.”