Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 2

Is enige lewensvorm werklik eenvoudig?

Is enige lewensvorm werklik eenvoudig?

Kon die meer as 200 verskillende soorte selle waaruit jou liggaam saamgestel is, werklik toevallig ontstaan het?

Jou liggaam is een van die kompleksste strukture in die heelal. Dit bestaan uit sowat 100 biljoen selletjies—beenselle, bloedselle, breinselle, om maar ’n paar te noem.7 Trouens, daar is meer as 200 verskillende soorte selle in jou liggaam.8

Al verskil jou selle grootliks wat vorm en funksie betref, maak hulle ’n komplekse netwerk uit. Die Internet, met sy miljoene rekenaars en hoëspoeddatakabels, is lomp in vergelyking daarmee. Geen menslike uitvindsel kom naby die tegniese briljantheid wat in selfs die eenvoudigste selle gesien kan word nie. Hoe het die selle waaruit die menseliggaam saamgestel is, ontstaan?

Wat beweer baie wetenskaplikes? Alle lewende selle val in een van twee hoofkategorieë—dié met ’n kern en dié sonder ’n kern. Die selle van mense, diere en plante het ’n kern. Bakterieselle het nie. Selle met ’n kern word eukarioties genoem. Dié sonder ’n kern staan bekend as prokarioties. Aangesien prokariotiese selle relatief minder kompleks is as eukariotiese selle, glo baie dat die selle van diere en plante uit bakterieselle moes geëvolueer het.

Baie sê selfs dat party “eenvoudige” prokariotiese selle miljoene jare lank ander selle ingesluk het, maar hulle nie verteer het nie. Volgens die teorie het die onintelligente “natuur” eerder ’n manier gevind om nie net radikale veranderinge in die werking van die ingeslukte selle aan te bring nie, maar ook om die aangepaste selle in die “gasheer”-sel te hou toe dit gerepliseer het.9 a

Wat sê die Bybel? Die Bybel sê dat lewe op aarde die produk van ’n intelligente verstand is. Let op die Bybel se duidelike logika: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). ’n Ander Bybelgedeelte sê: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het. . . . Daarin is bewegende dinge sonder tal, diere, klein sowel as groot.”—Psalm 104:24, 25.

Kon selfs ’n “eenvoudige” sel werklik uit lewelose chemiese stowwe ontstaan het?

Wat toon die bewyse? Vooruitgang in mikrobiologie het dit moontlik gemaak om die ontsagwekkende binnekant van die eenvoudigste lewende prokariotiese selle te bestudeer. Evolusiewetenskaplikes bespiegel dat die eerste lewende selle min of meer soos hierdie selle moes gelyk het.10

As die evolusieteorie waar is, moet dit ’n aanneemlike verklaring bied vir die manier waarop die eerste “eenvoudige” sel toevallig ontstaan het. As lewe daarenteen geskep is, moet daar selfs in die kleinste wesens bewyse van vindingryke ontwerp wees. Neem gerus ’n toer deur ’n prokariotiese sel. Terwyl jy dit doen, vra jou af of so ’n sel toevallig kon ontstaan het.

DIE SEL SE BESKERMENDE WAND

Om deur ’n prokariotiese sel te toer, sal jy honderde kere kleiner as die punt aan die einde van hierdie sin moet word. ’n Sterk, buigsame membraan, wat dieselfde doel dien as ’n baksteenmuur om ’n fabriek, hou jou uit die sel. Ongeveer 10 000 lae van hierdie membraan sal niks dikker wees as ’n vel papier nie. Maar die selmembraan is baie meer gesofistikeerd as die baksteenmuur. In watter opsigte?

Soos die muur om ’n fabriek, beskerm die selmembraan die inhoud teen ’n potensieel gevaarlike omgewing. Maar die membraan is nie solied nie; dit laat die sel toe om “asem te haal” deur klein molekules, soos suurstof, toe te laat om in of uit die sel te beweeg. Die membraan verhoed egter dat komplekser, potensieel skadelike molekules die sel sonder toestemming binnegaan. Die membraan verhinder ook dat nuttige molekules die sel verlaat. Wat stel die membraan in staat om dit te doen?

Dink weer aan ’n fabriek. Dit het moontlik veiligheidswagte wat die produkte monitor wat by die deure in die fabrieksmuur in- en uitgaan. Net so is daar spesiale proteïenmolekules in die selmembraan wat soos die deure en die veiligheidswagte optree.

Die selmembraan het “veiligheidswagte” wat net spesifieke stowwe laat in- of uitgaan

Party van hierdie proteïene (1) het ’n gaatjie deur die middel wat net spesifieke soorte molekules by die sel laat in- of uitgaan. Ander proteïene is oop aan die een kant van die selmembraan (2) en toe aan die ander kant. Hulle het ’n koppelvlak (3) met ’n vorm wat pas by ’n spesifieke stof. Wanneer hierdie stof hom daaraan koppel, gaan die ander kant van die proteïen oop en laat dit die vrag deur die membraan beweeg (4). Al hierdie bedrywighede vind plaas op die oppervlak van selfs die eenvoudigste selle.

IN DIE FABRIEK

Stel jou voor dat die “veiligheidswag” jou ingelaat het en jy nou in die sel is. Die binnekant van ’n prokariotiese sel is gevul met ’n waterige vloeistof wat ryk is aan voedingstowwe, soute en ander stowwe. Die sel gebruik hierdie grondstowwe om die produkte te vervaardig wat dit nodig het. Maar dit is nie ’n wanordelike proses nie. Soos in ’n goed bestuurde fabriek, organiseer die sel duisende chemiese reaksies sodat dit in ’n spesifieke volgorde en volgens ’n vaste rooster plaasvind.

’n Sel bestee baie tyd daaraan om proteïene te maak. Hoe doen hy dit? Eers sal jy die sel ongeveer 20 verskillende basiese boustene sien maak, wat aminosure genoem word. Hierdie boustene word afgelewer by die ribosome (5), wat vergelyk kan word met geoutomatiseerde masjiene wat die aminosure in ’n presiese volgorde met mekaar verbind om ’n spesifieke proteïen te vorm. Net soos die werk in ’n fabriek moontlik beheer word deur ’n sentrale rekenaarprogram, word baie van die funksies van ’n sel beheer deur ’n “rekenaarprogram”, of kode, wat ons ken as DNS (6). Die ribosoom ontvang van die DNS ’n kopie uitvoerige instruksies oor watter proteïen om te bou en hoe om dit te bou (7).

Terwyl die proteïen gemaak word, gebeur iets ongeloofliks! Elke proteïen vou hom in ’n unieke driedimensionele vorm (8). Hierdie vorm bepaal watter gespesialiseerde werk die proteïen sal doen. b Stel jou ’n produksielyn voor waar masjienonderdele gemonteer word. Elke onderdeel moet met presisie gemaak word, anders sal die masjien nie werk nie. As ’n proteïen nie noukeurig gebou en in die regte vorm gevou word nie, sal dit ook nie sy werk behoorlik kan doen nie en dalk selfs die sel beskadig.

Die sel-“fabriek”—Hoe proteïene gemaak word:Soos ’n geoutomatiseerde fabriek, is die sel vol masjiene wat komplekse produkte monteer en aflewer

Hoe kom die proteïen van waar dit gemaak is tot waar dit nodig is? Elke proteïen wat deur die sel gemaak word, het ’n ingeboude “adreskaartjie” wat verseker dat die proteïen afgelewer sal word waar dit nodig is. Hoewel duisende proteïene elke minuut gebou en afgelewer word, bereik elkeen die regte bestemming.

Waarom is hierdie feite belangrik? Die komplekse molekules in die eenvoudigste lewensvorm kan nie selfstandig reproduseer nie. Buite die sel ontbind dit. In die sel kan dit nie sonder die hulp van ander komplekse molekules reproduseer nie. Byvoorbeeld, ensieme is nodig om ’n spesiale energiemolekule te vervaardig wat adenosientrifosfaat (ATP) genoem word, maar die energie van ATP is nodig om ensieme te vervaardig. So ook is DNS (deel 3 bespreek hierdie molekule) nodig om ensieme te maak, maar ensieme is nodig om DNS te maak. En ander proteïene kan net deur ’n sel gemaak word, maar ’n sel kan net met proteïene gemaak word. c

Die mikrobioloog Radu Popa stem nie met die Bybel se skeppingsverslag saam nie. Maar in 2004 het hy gevra: “Hoe kan die natuur lewe maak as ons dit nie in ten volle gekontroleerde eksperimente kon doen nie?”13 Hy het ook gesê: “Die meganismes wat nodig is vir die werking van ’n lewende sel, is so kompleks dat ’n gelyktydige verskyning per toeval onmoontlik lyk.”14

As hierdie wolkekrabber moet inmekaarstort omdat dit ’n swak fondasie het, moet die evolusieteorie dan nie inmekaarstort omdat dit geen verklaring vir die oorsprong van lewe het nie?

Wat dink jy? Die evolusieteorie probeer verklaar hoe lewe op aarde sonder goddelike ingryping ontstaan het. Maar hoe meer wetenskaplikes oor lewe uitvind, hoe onwaarskynliker lyk dit dat dit toevallig kon ontstaan het. Om hierdie dilemma te omseil, wil party evolusiewetenskaplikes ’n onderskeid tref tussen die evolusieteorie en die vraag oor hoe lewe ontstaan het. Maar klink dit vir jou redelik?

Die evolusieteorie berus op die idee dat lewe aanvanklik deur ’n lang reeks gelukkige toevallighede voortgebring is. Dan stel dit voor dat nog ’n reeks onbeheerde toevallighede die verbasende diversiteit en kompleksiteit van alle lewende dinge voortgebring het. Maar as die grondslag van die teorie ontbreek, wat word dan van die ander teorieë wat op hierdie veronderstelling gebou is? Net soos ’n wolkekrabber sonder ’n fondasie inmekaar sal stort, sal ’n evolusieteorie wat nie die oorsprong van lewe kan verklaar nie, verkrummel.

Wat sien jy ná ’n kort bespreking van die struktuur en werking van ’n “eenvoudige” sel—bewyse van talle toevallighede of van briljante ontwerp? As jy nog onseker is, kyk na die “hoofprogram” wat die werking van al die selle beheer.

a Daar is geen proefondervindelike bewyse dat so ’n gebeurtenis moontlik is nie.

b Ensieme is een voorbeeld van proteïene wat deur selle gemaak word. Elke ensiem word op ’n besondere manier gevou om ’n spesifieke chemiese reaksie te versnel. Honderde ensieme werk saam om die bedrywighede van die sel te reguleer.

c Party van die selle in die menseliggaam bestaan uit ongeveer 10 000 000 000 proteïenmolekules11 van honderdduisende verskillende soorte.12