Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel en jy

Die Bybel en jy

Hoofstuk 14

Die Bybel en jy

Hedendaagse kritici sê dat die Bybel onwetenskaplik is en homself weerspreek, dat dit bloot ’n versameling mites is. Jesus het daarenteen gesê: “U [God se] woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Die getuienis staaf Jesus se woorde eerder as dié van die kritici. Die feite toon dat die Bybel geskiedkundig waar is. Bowendien bewys die Bybel se merkwaardige harmonie, ware profesieë en diep wysheid, asook die feit dat dit mense se lewe ten goede beïnvloed dat die Bybel die geskrewe Woord van God is. Soos die apostel Paulus geskryf het: “Die hele Skrif is deur God ingegee [“geïnspireer”, “NW”] en is nuttig.”—2 Timotheüs 3:16.

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Wat bewys die feite aangaande die Bybel? (b) Wat is die implikasies van die feit dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is?

DIE feit dat die Bybel God se woord is, nie die mens s’n nie, het diepgaande implikasies. Dit beteken dat God werklik met mense gekommunikeer het. Hy het baie van ons vrae beantwoord en het getoon wat die oplossing vir baie van ons probleme is. Dit beteken ook dat die toekomsvooruitsigte wat in die Bybel beskryf word waar is. God se Koninkryk heers werklik en sal mettertyd stappe doen om alle ongeregtigheid, onderdrukking en lyding van hierdie aarde weg te neem.

2. Wat moet die wete dat die Bybel God se Woord is jou beweeg om te doen?

2 Nou is die vraag: Wat gaan jy met hierdie inligting doen? Op sy allerminste moet die wete dat die Bybel God se Woord is jou aanspoor om dit te ondersoek. Die psalmis het geluk beloof aan diegene wat dit doen toe hy geskryf het: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose . . . nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.”—Psalm 1:1, 2.

Aanvaar hulp

3, 4. (a) Wat moet ons, soos die Bybel self toon, doen wanneer ons dinge in die Bybel vind wat ons nie verstaan nie? (b) Wie is altyd bereid om mense te help om die Bybel beter te verstaan?

3 Wanneer jy die Bybel lees, sal jy waarskynlik afkom op dinge wat jy nie verstaan nie (2 Petrus 3:16). ’n Gebeurtenis wat in die Bybelboek Handelinge opgeteken is, toon dat dit te verwagte is. Kort na die dood van Jesus het ’n Ethiopiër die profesieë in die Bybelboek Jesaja gelees. Die Christenevangeliedienaar Filippus het die man teëgekom en hom gevra: “Verstaan u wel wat u lees?” Die Ethiopiër het nie, daarom het hy Filippus genooi om hom te help om dit te verstaan.—Handelinge 8:30, 31.

4 ’n Vrou in die Verenigde State het haar in ’n soortgelyke situasie bevind. Sy het die Bybel gereeld gelees, maar daar was talle belangrike leringe van die Bybel wat sy nie deur haar eie Skriflesing onderskei het nie. Dit was eers toe sy besprekings met Jehovah se Getuies gehad het dat sy basiese Bybelwaarhede geleer het, waaronder die belangrikheid van God se Koninkryk en die baie seëninge wat die Koninkryk vir die mensdom gaan bring. As jy hulle nooi, sal Jehovah se Getuies jou ook met graagte help om beter te verstaan wat jy in die Bybel lees.

Pas die Bybel se raad toe

5. Watter handelwyse bring volgens die Bybel geluk mee?

5 Ons word nie net aangespoor om die Bybel te lees nie, maar ook om te handel volgens wat ons lees (Psalm 119:2, NAV). Buitendien maan die Bybel: “Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil” (Psalm 34:9). Dit nooi ons in werklikheid om God op die proef te stel. Probeer om God se beginsels na te leef en toon sodoende jou vertroue dat God weet wat vir jou die beste is. Alleenlik dan sal jy sien dat dit waarlik die regte weg is. Diegene met sulke vertroue in God is werklik gelukkig.

6. Is dit prakties om vandag te probeer om die Bybel se standaarde na te leef? Verduidelik.

6 Sommige sê dat niemand in hierdie oneerlike, onsedelike, gewelddadige wêreld Bybelbeginsels kan naleef nie. Maar om die waarheid te sê, doen baie dit. Wie? ’n Jong man in Afrika het so ’n groep mense gevind. Hy het geskryf: “Ek het die afgelope paar jaar hier in Zimbabwe opgemerk dat dit julle, Jehovasgetuies, is wat werklik probeer om Christus se voorbeeld te volg . . . Julle is tot dusver die enigste groep wat my deur julle lewenswyse, en nie net deur toesprake en geskrifte nie, van God se liefde en die krag van Sy evangelie kon oortuig. Julle leef en verkondig die evangelie terwyl baie, baie mense die evangelie verkondig, maar dit nie uitleef nie.”

Aanvaar die Bybel se gesag

7. Watter algemene, hedendaagse gebruike is in stryd met wat die Bybel sê?

7 Die apostel Paulus het gesê dat die Bybel “nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing” (2 Timotheüs 3:16). Maar soms is wat die Bybel sê nie gewild nie. Die Bybel veroordeel byvoorbeeld homoseksuele dade, maar homoseksualiteit word alom as ’n aanvaarbare lewenstyl beskou (Romeine 1:24-27; 1 Korinthiërs 6:9-11; 1 Timotheüs 1:9-11). Die Bybel sê ook dat die lewe van ’n ongebore baba belangrik is en nie opsetlik geneem moet word nie, maar elke jaar word daar oor die hele wêreld sowat 50 miljoen aborsies uitgevoer (Exodus 21:22, 23; Psalm 36:10; 139:14-16; Jeremia 1:5). Sê nou ons vind dit moeilik om te aanvaar wat die Bybel oor sulke aangeleenthede sê?

8, 9. Wat moet ons onthou as ons dit aanvanklik moeilik vind om ’n punt in die Bybel te aanvaar, en wie se standaarde moet ons altyd aanvaar?

8 Wel, Christene het geleer dat dit altyd verstandig is om God se Woord te volg. Waarom? Omdat die toepassing van wat die Bybel sê op die lange duur tot almal se beswil is (Spreuke 2:1-11). Mense se wysheid is in werklikheid uiters beperk. Hulle kan selde die uiteinde van hulle optrede voorsien. Die profeet Jeremia het erken: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

9 Ons hoef maar net om ons rond te kyk om te sien dat hierdie beoordeling juis is. Die meeste van die probleme waardeur die wêreld geteister word, is die regstreekse gevolg van die feit dat mense nie die raad van God se Woord gevolg het nie. Die lang, veelbewoë geskiedenis van die mensdom het getoon dat mense nie self met welslae oor morele aangeleenthede kan besluit nie. God is oneindig wyser as wat ons is. Waarom dan nie aanvaar wat hy sê nie, pleks van op ons eie wysheid te vertrou?—Spreuke 28:26; Jeremia 17:9.

Niemand is volmaak nie

10, 11. (a) Watter feite aangaande ons samestelling en die wêreld waarin ons lewe, veroorsaak probleme wanneer ons probeer om die Bybel se standaarde na te leef? (b) Watter soort omgang spoor die Bybel ons aan om te soek, en waar kan ons sulke omgang vind?

10 Die Bybel waarsku ons oor nog ’n gebied waarop ons hulp nodig het. Ons het almal ’n oorgeërfde geneigdheid tot sonde. “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21; Romeine 7:21). Hierdie probleem word vererger deur die feit dat ons in ’n wêreld lewe wat nie Bybelbeginsels volg nie. Ons het gevolglik hulp nodig nie net om die Bybel te verstaan nie, maar ook om die dinge wat ons leer toe te pas. Dit is waarom die Bybel ons aanspoor om met ander wat volgens goddelike standaarde wil lewe om te gaan. Die psalmis het geskryf: “Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie. . . . Ek sal die HERE loof in die vergaderings.” En ’n ander psalm sê: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”—Psalm 26:5, 12; 133:1, NAV.

11 Assosiasie is vir Jehovah se Getuies ’n noodsaaklike deel van aanbidding. Hulle het etlike vergaderinge elke week, sowel as periodieke byeenkomste, waar hulle die Bybel saam bestudeer en bespreek hoe die beginsels daarvan op hulle lewe van toepassing is. Hulle maak ’n wêreldwye “broederskap” uit waarin elkeen aangespoor en gehelp word om hierdie hoë Bybelstandaarde te handhaaf (1 Petrus 2:17). Woon gerus een van hulle vergaderinge by en sien hoe so ’n gemeenskap ook jou kan help.—Hebreërs 10:24, 25.

Lewe volgens God se Woord

12. Watter seëninge bring dit mee as ons weet dat die Bybel God se Woord is?

12 Die wete dat die Bybel God se Woord is, bring derhalwe seëninge en verantwoordelikhede mee. Ons word geseën omdat ons riglyne vir ons daaglikse gedrag ontvang wat nie elders beskikbaar is nie. Ons leer bowendien van God se liefde deurdat hy sy eie Seun voorsien het om ons vry te koop sodat ons die hoop op die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). Ons besef dat Jesus nou as Koning heers en binnekort stappe gaan doen om goddeloosheid van die aarde af uit te delg. En ons wag vol vertroue op die regverdige “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” wat God self beloof het.—2 Petrus 3:13.

13. Watter verantwoordelikhede rus op ons as ons die Bybel as God se Woord aanvaar?

13 Maar hou in gedagte dat ons die verantwoordelikheid het om die Bybel te bestudeer en die woorde daarin ter harte te neem. God self vermaan ons: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar” (Spreuke 3:1). Al beskou die meeste mense die Bybel as bloot die mens se woord, moet ons dit moedig ‘vas laat staan dat God betroubaar is en elke mens ’n leuenaar’ (Romeine 3:4, NAV). Laat God se wysheid jou lewe rig. “Vertrou op die HERE met jou hele hart . . . Ken Hom in al jou weë” (Spreuke 3:5, 6). As jy wyslik op hierdie manier op God se Woord ag slaan, sal dit nou én tot in alle ewigheid jou lewe ten goede beïnvloed.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 187]

Ons moet nie net die Bybel lees nie, maar ook handel volgens wat ons lees

[Lokteks op bladsy 188]

Toepassing van wat die Bybel sê, is altyd tot ons beswil