Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die deurlopende harmonie van die Bybel

Die deurlopende harmonie van die Bybel

Hoofstuk 11

Die deurlopende harmonie van die Bybel

Stel jou ’n biblioteek van 66 boeke voor wat oor ’n tydperk van 1 600 jaar deur ongeveer 40 verskillende mense geskryf is. Drie tale is gebruik deur skrywers wat in etlike lande gewoon het. Al die skrywers het verskillende persoonlikhede, vermoëns en agtergronde gehad. Maar toe die boeke wat hulle geskryf het uiteindelik in een werk saamgevat is, het dit in werklikheid net een groot boek uitgemaak wat van begin tot end een basiese tema volg. Dit is moeilik om jou dit voor te stel, nie waar nie? En tog is die Bybel so ’n biblioteek.

1. (Sluit die inleiding in.) Watter merkwaardige harmonie getuig van die feit dat die Bybel deur God geïnspireer is?

GEEN eerlike student kan anders as om beïndruk te word deur die feit dat die Bybel, hoewel dit ’n versameling van verskillende boeke is, een harmoniese werk is nie. Dit is harmonies in die sin dat dit, van begin tot end, die aanbidding van net een God bevorder wie se eienskappe nooit verander nie, en dat al die boeke daarin een oorheersende tema uitbou. Hierdie deurlopende harmonie is ’n oortuigende bewys dat die Bybel inderdaad die Woord van God is.

2, 3. Watter profesie wat in Eden uitgespreek is, het ’n grondslag vir hoop gegee, en watter omstandighede het daartoe gelei dat daardie profesie uitgespreek is?

2 Die basiese tema van die Bybel word in die eerste hoofstukke van die heel eerste boek, Genesis, gemeld. Ons lees daar dat ons eerste ouers, Adam en Eva, as volmaakte mense geskep en in ’n paradystuin, Eden, geplaas is. Maar Eva is genader deur ’n slang wat die regverdigheid van God se wette in twyfel getrek en haar met subtiele leuens tot sondige optrede verlok het. Adam het haar gevolg en was ook ongehoorsaam aan God. Die gevolg? Albei is uit Eden uitgedryf en is ter dood veroordeel. Ons ly vandag weens die gevolge van daardie eerste opstand. Ons erf almal sonde en die dood van ons eerste ouers.—Genesis 3:1-7, 19, 24; Romeine 5:12.

3 Maar op daardie tragiese tydstip het God ’n profesie uitgespreek wat ’n grondslag vir hoop gegee het. Die profesie is tot die slang gerig, maar dit is ten aanhore van Adam en Eva uitgespreek sodat hulle hul kinders daarvan kon vertel. God het gesê: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”—Genesis 3:15; Romeine 8:20, 21.

4. Watter entiteite is in Jehovah se profesie in Eden gemeld, en hoe sou daar deur die eeue heen ’n wisselwerking tussen hulle wees?

4 Let op die vier entiteite wat in hierdie temavers gemeld word: die slang en sy saad asook die vrou en haar saad. Hierdie entiteite sou nog duisende jare lank sleutelfigure in gebeure wees. Daar sou voortdurende vyandskap tussen die vrou en haar saad aan die een kant en die slang en sy saad aan die ander kant wees. Hierdie vyandskap sou die voortgesette konflik tussen ware en valse aanbidding, die regte gedrag en goddeloosheid, insluit. Op een stadium sou die slang sy vyand oënskynlik die loef afsteek deur die vrou se saad in die hakskeen te byt. Maar die vrou se saad sou uiteindelik die slang se kop vermorsel, en God self sou geregverdig word wanneer alle spore van daardie oorspronklike opstand uitgewis sou wees.

5. Hoe weet ons dat Eva nie die vrou van die profesie was nie?

5 Wie is die vrou en die slang? En wie is hulle sade? Toe Eva haar eerste seun, Kain, gebaar het, het sy uitgeroep: “Ek het ’n man verkry met die hulp van die HERE” (Genesis 4:1). Miskien het sy gemeen dat sy die vrou van die profesie was en dat hierdie seun die saad sou wees. Maar Kain het ’n slegte gesindheid soos dié van die slang gehad. Hy het ’n moordenaar geword deur sy jonger broer Abel dood te maak (Genesis 4:8). Die profesie het klaarblyklik ’n dieper, simboliese betekenis gehad wat net God kon verklaar. En hy het dit ook gedoen, maar geleidelik. Al 66 boeke van die Bybel dra op die een of ander manier by tot die openbaring van die betekenis van hierdie profesie, die eerste in die Bybel.

Wie is die slang?

6-8. Watter woorde van Jesus help ons om die mag agter die slang te identifiseer? Verduidelik.

6 In die eerste plek, wie is die slang wat in Genesis 3:15 gemeld word? Die verslag sê dat ’n letterlike slang Eva in Eden genader het, maar letterlike slange kan nie praat nie. Daar moes ’n mag agter daardie slang gewees het wat dit so laat optree het. Wat was daardie mag? Die identiteit van daardie mag is eers in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling, toe Jesus sy bediening hier op aarde verrig het, duidelik geopenbaar.

7 Jesus het eenkeer met selfvoldane Joodse godsdiensleiers gepraat wat gespog het dat hulle seuns van Abraham is. Tog het hulle die waarheid wat Jesus verkondig het onversetlik teengestaan. Jesus het dus vir hulle gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af [“toe hy begin het”, NW] en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.”—Johannes 8:44.

8 Jesus se woorde was sterk en ter sake. Hy het die Duiwel as “’n mensemoordenaar” en ‘die vader van die leuen’ bestempel. Die heel eerste opgetekende leuens was trouens dié wat die slang in Eden vertel het. Wie ook al daardie leuens vertel het, was inderdaad ‘die vader van die leuen’. Bowendien het daardie leuens die dood van Adam en Eva tot gevolg gehad, sodat daardie eertydse leuenaar ’n moordenaar geword het. Dit spreek dus vanself dat Satan die Duiwel die mag agter die slang in Eden was en dat Jehovah daardie ou profesie in werklikheid tot Satan gerig het.

9. Hoe het Satan ontstaan?

9 Party het al gevra: Waarom het God iemand soos die Duiwel geskep as Hy goed is? Jesus se woorde help ons ook om daardie vraag te beantwoord. Jesus het die volgende van Satan gesê: “[Hy] was ’n doodslaner toe hy begin het” (NW). Toe Satan vir Eva ’n leuen vertel het, het hy dus begin om Satan te wees—’n naam wat ontleen is aan ’n Hebreeuse woord wat “teenstander” beteken. God het Satan nie geskep nie. ’n Engel wat voorheen getrou was, het toegelaat dat verkeerde begeertes in sy hart ontwikkel, sodat hy Satan geword het.Deuteronomium 32:4; vergelyk Job 1:6-12; 2:1-10; Jakobus 1:13-15.

Die saad van die Slang

10, 11. Hoe help Jesus en die apostel Johannes ons om die Slang se saad te identifiseer?

10 Maar wat van ‘die saad [of nageslag] van die slang’? Jesus se woorde help ons ook om hierdie deel van die raaisel op te los. Hy het vir die Joodse godsdiensleiers gesê: “Julle het die Duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.” Hierdie Jode was afstammelinge van Abraham, net soos hulle gespog het. Maar hulle goddelose gedrag het hulle geestelike kinders van Satan, die bron van sonde, gemaak.

11 Die apostel Johannes, wat teen die einde van die eerste eeu geskryf het, verduidelik wie tot die saad van die Slang, Satan, behoort. Hy skryf: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. . . . Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie” (1 Johannes 3:8, 10). Die Slang se saad was klaarblyklik deur die hele mensegeskiedenis heen baie bedrywig!

Wie is die saad van die vrou?

12, 13. (a) Hoe het Jehovah aan Abraham geopenbaar dat die vrou se saad een van sy nakomelinge sou wees? (b) Wie het die belofte aangaande die Saad geërf?

12 Wie is dan ‘die saad [of nageslag] van die vrou’? Dit is een van die belangrikste vrae wat nog ooit gevra is, want dit is die vrou se saad wat uiteindelik Satan se kop sal vermorsel en die slegte gevolge van die oorspronklike opstand ongedaan sal maak. In die 20ste eeu v.G.J. het God ’n belangrike leidraad in verband met hierdie saad se identiteit aan die getroue man Abraham geopenbaar. Vanweë Abraham se groot geloof het God ’n reeks beloftes aan hom gedoen oor die nageslag wat vir hom gebore sou word. Een van hierdie beloftes het duidelik getoon dat ‘die vrou se saad’ wat ‘die slang se kop sou vermorsel’ onder Abraham se kinders sou verskyn. God het vir hom gesê: “Jou nageslag [“saad”, NW] sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”—Genesis 22:17, 18.

13 Met die jare is Jehovah se belofte aan Abraham herhaal aan Abraham se seun Isak en aan sy kleinseun Jakob (Genesis 26:3-5; 28:10-15). Uiteindelik het Jakob se nageslag 12 stamme geword, en ’n spesiale belofte is aan een van daardie stamme, Juda, gedoen: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees” (Genesis 49:10). Die Saad sou klaarblyklik uit die stam van Juda kom.

14. Watter nasie is georganiseer sodat hulle op die koms van die Saad voorberei sou wees?

14 Teen die einde van die 16de eeu v.G.J. is die 12 stamme van Israel tot ’n nasie gemaak—God se spesiale volk. Met dié doel het God ’n plegtige verbond met hulle gesluit en hulle ’n stel wette gegee. Die hoofrede hiervoor was om ’n volk vir die koms van die Saad voor te berei (Exodus 19:5, 6; Galasiërs 3:24). Van toe af het Satan se vyandigheid teenoor die vrou se Saad geblyk uit die vyandigheid van die nasies teenoor God se uitverkore volk.

15. Watter laaste leidraad is gegee aangaande die geslag van Abraham se nakomelinge waaruit die Saad sou kom?

15 Die laaste leidraad aangaande die geslag waaruit die Saad sou voortkom, is in die 11de eeu v.G.J. gegee. Toe het God met die tweede koning van Israel, Dawid, gepraat en beloof dat die Saad uit sy geslag sal kom en dat hierdie Saad se troon sal “vasstaan tot in ewigheid” (2 Samuel 7:11-16). Van toe af kon die Saad tereg die seun van Dawid genoem word.—Mattheüs 22:42-45.

16, 17. Hoe het Jesaja die seëninge beskryf wat die Saad sou bring?

16 In die daaropvolgende jare het God profete verwek om nog geïnspireerde inligting oor die komende Saad te verskaf. In die agtste eeu v.G.J. het Jesaja byvoorbeeld geskryf: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk.”—Jesaja 9:5, 6.

17 Jesaja het verder aangaande hierdie Saad voorspel: “Aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel . . . Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar . . . Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:4-9). Watter ryk seëninge sou hierdie saad tog bring!

18. Watter verdere inligting aangaande die Saad het Daniël opgeteken?

18 In die sesde eeu voor ons Gewone Jaartelling het Daniël nog ’n profesie aangaande die Saad opgeteken. Hy het die tyd voorspel wanneer iemand soos die seun van ’n mens in die hemel sou verskyn en het gesê: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer” (Daniël 7:13, 14). Die komende Saad sou dus ’n hemelse koninkryk beërwe, en sy koninklike gesag sou oor die hele aarde strek.

Die raaisel opgelos

19. Watter rol, wat deur die engel geopenbaar is, sou Maria in die koms van die Saad speel?

19 Die identiteit van die Saad is uiteindelik kort voor die begin van ons Gewone Jaartelling onthul. In die jaar 2 v.G.J. het ’n engel aan ’n jong Joodse meisie genaamd Maria, wat ’n afstammeling van Dawid was, verskyn. Die engel het haar meegedeel dat sy aan ’n baie spesiale baba die lewe sou skenk en het gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:32, 33). Die lang wagtyd op die “saad” was dus uiteindelik besig om ten einde te loop.

20. Wie is die beloofde Saad, en watter boodskap het hy in Israel verkondig?

20 In die jaar 29 G.J. (’n jaartal wat lank tevore deur Daniël aangedui is) is Jesus gedoop. Heilige gees het toe op hom neergedaal, en God het hom as sy Seun erken (Daniël 9:24-27; Mattheüs 3:16, 17). Jesus het daarna drie en ’n half jaar lank vir die Jode getuig en gesê: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:17). In daardie tyd het hy soveel profesieë in die Hebreeuse Skrifte vervul dat daar nie meer twyfel was dat hy inderdaad die beloofde Saad was nie.

21. Wat het die vroeë Christene aangaande die identiteit van die Saad verstaan?

21 Die vroeë Christene het hierdie punt goed verstaan. Paulus het aan die Christene in Galasië verduidelik: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus” (Galasiërs 3:16). Jesus sou die “Vredevors” wees wat deur Jesaja voorspel is. Nadat hy uiteindelik sy Koninkryk ontvang het, sou geregtigheid en reg wêreldwyd tot stand gebring word.

Wie is die vrou dan?

22. Wie is die vrou wat in Jehovah se profesie in Eden gemeld is?

22 Wie is die vrou wat daar in Eden gemeld is as Jesus die Saad is? Aangesien die mag agter die slang ’n geesskepsel was, behoort ons nie verbaas te wees dat die vrou ook geestelik is en nie menslik nie. Die apostel Paulus het van ’n hemelse “vrou” gepraat toe hy gesê het: “Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” (Galasiërs 4:26). Ander tekste toon dat hierdie “Jerusalem daarbo” reeds millenniums lank bestaan het. Sy is Jehovah se hemelse organisasie geesskepsele, waaruit Jesus neergedaal het om die rol van ‘die saad van die vrou’ te vervul. Slegs so ’n geestelike “vrou” kon die vyandigheid van “die ou slang” millenniums lank verduur het.—Openbaring 12:9; Jesaja 54:1, 13; 62:2-6.

23. Waarom is die progressiewe openbaring van die betekenis van Jehovah se profesie in Eden so merkwaardig?

23 Hierdie kort geheelbeeld van die ontplooiing van daardie ou profesie in Genesis 3:15 is ’n oortuigende bewys van die wonderlike harmonie van die Bybel. Dit is waarlik merkwaardig dat die profesie alleenlik verstaan kan word as ons die gebeure en woorde van die 20ste, die 11de, die 8ste en die 6de eeu v.G.J. met die woorde en gebeure van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling verbind. Dit kon nie per toeval gebeur het nie. Iets moes al hierdie dinge gerig het.—Jesaja 46:9, 10.

Wat dit vir ons beteken

24. Wat beteken die identifikasie van die Saad vir ons?

24 Wat beteken dit vir ons? Wel, Jesus is die vernaamste lid van die ‘saad van die vrou’. Daardie ou profesie in Genesis 3:15 het voorspel dat die Slang hom in die hakskeen sou “byt”, en dit het gebeur toe Jesus aan die folterpaal gesterf het. ’n Bytplek is nie blywend nie. Die Slang se oënskynlike sukses is derhalwe gou in ’n nederlaag verander toe Jesus opgewek is. (Soos ons in Hoofstuk 6 gesien het, is daar oortuigende bewyse dat dit werklik gebeur het.) Jesus se dood het die grondslag vir die redding van mense met die regte hartstoestand geword, en die Saad het sodoende ’n seën geword, net soos God aan Abraham beloof het. Maar wat van die profesieë dat Jesus vanuit ’n hemelse koninkryk oor sy hele aardse ryk sou regeer?

25, 26. Watter geskil was betrokke by die vyandigheid tussen ‘die saad van die vrou’ en die Slang, soos Openbaring beskryf?

25 In ’n aanskoulike profetiese visioen wat in Openbaring hoofstuk 12 opgeteken is, word die begin van hierdie Koninkryk afgebeeld as die geboorte van ’n manlike kind in die hemel. In hierdie Koninkryk kom die beloofde Saad aan die bewind onder die titel Migael, wat beteken: “Wie is soos God?” Hy toon dat niemand Jehovah se soewereiniteit met reg in twyfel kan trek nie wanneer hy “die ou slang” vir ewig uit die hemel gooi. Ons lees: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde.”—Openbaring 12:7-9.

26 Die resultaat is verligting vir die hemel maar benoudheid op aarde. “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus”, weerklink die triomfantlike uitroep. Ons lees ook: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:10, 12.

27. Wanneer is die profesie dat Satan uit die hemel gewerp sou word, vervul? Hoe weet ons dit?

27 Kan ons sê wanneer hierdie profesie vervul moes word? Dit was in werklikheid die vraag wat die dissipels geopper het toe hulle Jesus oor ‘die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge’ gevra het—soos ons in Hoofstuk 10 bespreek het (Mattheüs 24:3, vgl. NW). Soos ons gesien het, is daar talle onomstootlike bewyse dat Jesus se teenwoordigheid in hemelse Koninkryksmag in 1914 begin het. Sedertdien het ons inderdaad “wee” op die aarde ondervind!

28, 29. Watter groot veranderinge op die aardse toneel lê nog voor, en hoe weet ons dat dit binnekort gaan plaasvind?

28 Maar let wel: Daardie uitroep in die hemel het aangekondig dat Satan “min tyd” het. Daardie oorspronklike profesie in Genesis 3:15 stuur dus op sy gewisse klimaks af. Die slang, sy saad, die vrou en haar saad is almal geïdentifiseer. Die Saad is ‘in die hakskeen gebyt’, maar hy het herstel. Binnekort sal God se heersende Koning, Christus Jesus, begin om Satan (en sy saad) te vermorsel.

29 Dit sal groot veranderinge op die aardse toneel meebring. Diegene wat bewys dat hulle Satan se saad is, sal saam met hom uitgedelg word. Soos die psalmis voorspel het: “En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie” (Psalm 37:10). Wat ’n ingrypende verandering sal dit tog wees! Dan sal die psalmis se verdere woorde vervul word: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11.

30. Waarom is skeptici wat die inspirasie van die Bybel en selfs God se bestaan in twyfel trek onrealisties?

30 Dit is hoe die “Vredevors” uiteindelik vrede vir die mensdom sal bewerkstellig. Dit is die belofte van die Bybel, soos ons in Jesaja 9:5, 6 gesien het. In hierdie skeptiese eeu meen baie dat so ’n belofte onrealisties is. Maar watter alternatief bied die mens? Absoluut niks nie! Daarenteen word hierdie belofte duidelik in die Bybel uiteengesit, en die Bybel is die onfeilbare Woord van God. Dit is in werklikheid die skeptici wat onrealisties is (Jesaja 55:8, 11). Hulle ignoreer God, wat die Bybel geïnspireer het en wat die allergrootste werklikheid is.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 151]

Die Bybel se eerste profesie het die gevalle mensdom ’n grondslag vir hoop gegee

[Prent op bladsy 154]

In die 20ste eeu v.G.J. het Jehovah vir Abraham gesê dat die beloofde Saad een van sy nakomelinge sou wees

[Prent op bladsy 155]

In die 11de eeu v.G.J. het koning Dawid gehoor dat die Saad uit sy koninklike geslag sou kom

[Prent op bladsy 156]

In die agtste eeu v.G.J. het Jesaja die seëninge voorspel wat die Saad sou bring

[Prent op bladsy 157]

In die sesde eeu v.G.J. het Daniël voorspel dat die Saad in ’n hemelse koninkryk sou regeer

[Prent op bladsy 159]

Net voor die begin van die eerste eeu G.J. het Maria gehoor dat Jesus, die baba wat sy sou baar, die Saad sou word