Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die woord van God is lewend”

“Die woord van God is lewend”

Hoofstuk 13

“Die woord van God is lewend”

In die vorige hoofstuk het ons gesien dat Bybelraad ons kan help om probleme op te los en foute te vermy. Die tydlose wysheid van die Bybel se raad is ’n oortuigende bewys van inspirasie. Die Bybel self sê: “Die hele Skrif is deur God ingegee [“geïnspireer”, “NW”] en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Timotheüs 3:16). Maar die Bybel doen meer as om ons wyse raad te gee. As die Woord van God verander dit mense.

1-3. (a) Hoe beklemtoon die Bybel dat persoonlikheidsveranderinge nodig is? (b) Watter ondervinding toon dat die Bybel kragtig genoeg is om persoonlikhede te verander?

KAN die Bybel mense werklik verander? Ja, dit kan selfs hulle persoonlikheid verander. Beskou hierdie raad wat in die Bybel opgeteken is: “Julle moet die ou persoonlikheid aflê wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en deur sy bedrieglike begeertes verderf word; maar . . . julle moet vernuwe word in die krag wat julle denke aandryf, en julle moet julle met die nuwe persoonlikheid beklee, wat na God se wil geskep is in ware regverdigheid en lojaliteit.”—Efesiërs 4:22-24NW.

2 Is dit werklik moontlik om jou met ’n nuwe persoonlikheid te beklee? Ja, dit is! Trouens, soms is ingrypende persoonlikheidsveranderinge nodig om ’n Christen te word (1 Korinthiërs 6:9-11). ’n Seun in Suid-Amerika het byvoorbeeld op negejarige ouderdom ’n weeskind geword. Aangesien hy sonder ouerlike leiding grootgeword het, het hy ernstige persoonlikheidsprobleme ontwikkel. Hy sê: “Teen die tyd dat ek 18 was, was ek heeltemal aan dwelms verslaaf en het ek reeds in die tronk beland omdat ek gesteel het om vir die gewoonte te betaal.” Maar sy tante was ’n Getuie van Jehovah, en sy kon hom uiteindelik help.

3 Hy verduidelik: “My tante het my begin help om die Bybel te bestudeer, en na sewe maande kon ek met die dwelmgewoonte breek.” Hy het ook met sy voormalige metgeselle gebreek en nuwe vriende onder Jehovah se Getuies gemaak. Hy sê voorts: “Hierdie nuwe metgeselle, tesame met my gereelde Bybelstudie, het my in staat gestel om vordering te maak en my lewe uiteindelik aan God toe te wy om hom te dien.” Ja, hierdie voormalige dwelmslaaf en dief het ’n bedrywige Christen geword, en hierdie ingrypende verandering is deur die krag van die Bybel teweeggebring. Dit is inderdaad soos die apostel Paulus sê: “Die woord van God is lewend en kragtig.”—Hebreërs 4:12.

Verander deur kennis

4, 5. Wat is volgens Kolossense 3:8-10 nodig om die nuwe persoonlikheid aan te kweek?

4 Hoe verander die Bybel mense? Die antwoord blyk uit hierdie Bybelverse: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die [ou persoonlikheid] met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe [persoonlikheid] beklee het wat vernuwe word [deur juiste] kennis na die beeld van sy Skepper.”—Kolossense 3:8-10, vgl. NW.

5 Let op die belangrike rol van juiste Bybelkennis. Die Bybel verduidelik watter karaktertrekke ons moet aflê en watter ons moet aankweek. Sulke kennis kan op sigself ’n kragtige uitwerking hê, soos ’n jong man in suidelike Europa gevind het. Hy het ’n groot probleem gehad: ’n vinnige humeur. Gedurende sy kinderjare het hy aanhoudend baklei, en as ’n uitlaatklep vir sy geweld het hy begin boks; maar hy kon steeds nie sy gewelddadige geaardheid beheers nie. Toe hy in die weermag was, het hy in die moeilikheid beland omdat hy ’n medesoldaat te lyf gegaan het. Nadat hy die weermag verlaat het, het hy getrou, maar toe sy vrou geslaan. In een gesinsrusie het hy selfs sy eie vader platgeslaan. Waarlik ’n opvlieënde, gewelddadige jong man!

6, 7. Hoe het juiste kennis van die Bybel ’n jong man in suidelike Europa gehelp om sy persoonlikheid te verander?

6 Uiteindelik het hy egter die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer en raad soos die volgende gehoor: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie . . . as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn” (Romeine 12:17-19). Dit het hom gehelp om te besef dat sy gewelddadige geaardheid werklik ’n ernstige swakheid is. Hy het opgehou boks, aangesien hy besef het dat boks en die vreedsame Christelike persoonlikheid onversoenbaar is. Maar hy moes steeds hard stry teen sy gewelddadige geaardheid.

7 Sy toenemende kennis van Bybelbeginsels het hom egter gehelp. Dit het sy gewete verfyn, wat sy vinnige humeur teengewerk het. Eenkeer, nadat hy heelwat met sy Bybelstudie gevorder het, het ’n vreemdeling kwaad geword en hom beledigings toegesnou. Die jong man het gevoel hoe die bekende woede in hom opwel. Toe het hy ’n ander krag gevoel: ’n gevoel van skaamte; en dit het voorkom dat hy aan sy woede toegee. Pleks van ‘kwaad vir kwaad te vergeld’, het hy sy gees beheers. Danksy juiste kennis uit die Bybel is hy nou ’n ander mens, met ’n nuwe persoonlikheid.

Leer God ken

8. (a) Na wie se beeld is die nuwe persoonlikheid gemaak? (b) Die juiste kennis waardeur die nuwe persoonlikheid gevorm word, moet kennis van wie insluit?

8 Baie mense weet weliswaar wat reg is, maar hulle swig voor vleeslike swakhede. Dit spreek vanself dat juiste kennis van reg en verkeerd nie al is wat nodig is nie. Iets anders het die voormelde twee persone gehelp om te verander. Wat was dit? Die gedeelte wat vroeër aangehaal is, het gesê: ‘Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat vernuwe word deur juiste kennis na die beeld van sy Skepper’ (Kolossense 3:10, vgl. NW). Let daarop dat, net soos Adam oorspronklik na God se beeld gemaak is, ook die nuwe persoonlikheid na die beeld van God gemaak word (Genesis 1:26). Die juiste kennis wat hierdie twee jong mans gehelp het, moes dus kennis van God ingesluit het. Dit herinner ons aan Jesus se woorde: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.

9. Hoe help kennis van God ons om ons persoonlikheid te verander?

9 Hoe help kennis van God ons om ons persoonlikheid te verander? Dit gee ons ’n beweegrede om dit te doen. Wanneer ons God deur ons Bybelstudie leer ken, leer ons van sy goddelike eienskappe en sien ons die liefde wat hy aan ons betoon het. Dit beweeg ons om hom op ons beurt lief te hê (1 Johannes 4:19). Dan kan ons die gebod onderhou wat volgens Jesus die eerste en grootste gebod is: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Mattheüs 22:37). Weens liefde vir God wil ons ons beklee met die nuwe persoonlikheid wat hom behaag. Ons wil meer soos hy wees, hoe hard ons ook al moet stry om dit te doen.

Diep ingewortelde swakhede

10, 11. Hoe het juiste kennis ’n jong Noord-Amerikaanse vrou gehelp om haar persoonlikheid te begin verander?

10 In sommige gevalle is dit werklik ’n stryd. ’n Jong vrou in Noord-Amerika moes baie hard stry om te verander. Sy is as kind seksueel misbruik, het in ’n gewelddadige gesin grootgeword en uiteindelik dwelms begin gebruik. Maar dwelms is duur, en sy het haar gevolglik aan prostitusie oorgegee om vir die gewoonte te betaal. Sy het toeriste ook lastig geval en beroof en het op die ou end meer tyd in gevangenisse en biljartkamers as by die huis deurgebring.

11 Toe Jehovah se Getuies haar ontmoet het, het sy reeds—na etlike aborsies—’n buite-egtelike kind gehad. Sy het nietemin gehou van wat sy uit die Bybel geleer het en het dit begin bestudeer. Sy het gou begin om ’n verhouding met God op te bou en veranderinge in haar lewe aan te bring.

12, 13. Verduidelik hoe juiste kennis, as dit eers ingeplant is, veranderinge meebring.

12 Maar ’n moeilike stryd het voorgelê, want die ou persoonlikheid was diep ingewortel. Sy het eenkeer aanstoot geneem aan goed bedoelde raad, opgehou om die Bybel te bestudeer en haar onrein gewoontes hervat. Maar sy kon nie die Bybelwaarheid vergeet wat in haar ingeprent is nie, en sy erken: “Ek het af en toe skuldig gevoel, en die woorde in 2 Petrus 2:22 het by my opgekom: ‘Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.’”

13 Hierdie kennis het haar uiteindelik beweeg om weer ’n doelbewuste poging aan te wend. Sy sê: “Ek het begin om toe te laat dat Jehovah my verander en dikwels om hulp te bid.” Hierdie keer was die nuwe persoonlikheid stewiger ingeplant, hoewel sy steeds hard moes stry. Eenkeer, in ’n oomblik van swakheid, het sy weer in dronkenskap en onsedelikheid verval. Maar hierdie keer het haar reaksie getoon dat sy waarlik besig was om te verander. Haar optrede het haar gewalg, en sy sê: “Ek het baie gebid en gestudeer.” Uiteindelik het God se Woord so ’n kragtige invloed op haar lewe uitgeoefen dat sy ’n bedrywige Christen geword het wat ’n rein, eerbare lewe lei. Sy is nou al etlike jare lank ’n heeltemal ander persoon as die misbruikte, bandelose dwelmslaaf wat sy voorheen was.

’n Volk wat deur God se Woord verander is

14, 15. (a) Watter krag van God werk deur die Bybel? (b) Wat is ’n paar kenmerke van hedendaagse ware Christene?

14 Die kragtige invloed wat die Bybel op die lewe van nederige mense uitgeoefen het, toon dat dit meer as bloot ’n menslike werk is. As die geïnspireerde Woord van God is dit ’n kanaal vir die werking van God se gees. Dieselfde gees wat Jesus se wonderwerke moontlik gemaak het, help ons vandag om slegte eienskappe te oorwin en ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. Trouens, die basiese eienskappe wat Christene moet aankweek—liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—word in die Bybel “die vrug van die gees” genoem.—Galasiërs 5:22.

15 Hierdie gees is vandag nie net op ’n paar mense werksaam nie, maar op miljoene wat ‘deur Jehovah geleer is’ en ‘groot vrede’ van Hom geniet (Jesaja 54:13, vgl. NW). Wie is hulle? Jesus het een manier gemeld waarop ’n mens hulle kan identifiseer toe hy gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Christelike liefde is ’n vrug van die gees en ’n belangrike deel van die Christelike nuwe persoonlikheid. Is daar ’n groep mense wat liefde betoon soos Jesus gesê het?

16, 17. Haal ’n paar kommentare uit koerante aan wat help om diegene wat ‘deur Jehovah geleer is’ en ‘groot vrede’ geniet te identifiseer.

16 Wel, luister na hierdie aanhaling uit ’n brief wat aan die New Haven Register, ’n Noord-Amerikaanse koerant, geskryf is: “Al het hulle proselitisme jou vererg of kwaad gemaak, soos vir my, moet jy hulle toewyding, hulle integriteit, hulle voortreflike voorbeeld ten opsigte van mensegedrag en hulle heilsame lewenswyse bewonder.” Die Duitse koerant Münchner Merkur, het van dieselfde groep gepraat toe dit gesê het: “Hulle is die eerlikste en die stipste belastingbetalers in die [Duitse] Bondsrepubliek. Hulle gehoorsaamheid aan die wette blyk uit die manier waarop hulle bestuur, sowel as uit misdaadsyfers.”

17 Van wie het hierdie twee koerante gepraat? Dieselfde groep wat in die Herald van Buenos Aires, Argentinië, bespreek is. Hierdie koerant het gesê: “Jehovah se Getuies het deur die jare heen bewys dat hulle vlytige, gematigde, spaarsame en godvresende burgers is, die soort burgers wat die nasie beslis nodig het.” ’n Sosiologiese studie in Zambië wat in die American Ethnologist gepubliseer is, meld dieselfde groep. Dit sê: “Jehovah se Getuies is suksesvoller as lidmate van ander kerke wat die handhawing van bestendige huwelike betref.”

18, 19. Hoe is Jehovah se Getuies in Italië en in Suid-Afrika beskryf?

18 In Italië het die koerant La Stampa ook van Jehovah se Getuies gepraat toe dit gesê het: “Hulle is die lojaalste burgers wat enigiemand kan begeer: hulle ontwyk nie belasting of probeer nie om ongerieflike wette vir eie gewin te ontduik nie. Die morele ideale: naasteliefde, weiering van mag, geweldloosheid en persoonlike eerlikheid (wat vir die meeste Christene ‘Sondagreëls’ is wat maar net van die preekstoel af verkondig moet word) is ’n deel van hulle ‘daaglikse’ lewenswyse.”

19 ’n Suid-Afrikaanse universiteitsprofessor teen wie daar onder dié land se rassewette gediskrimineer is, noem Jehovah se Getuies ’n “volk wat deur die verhewe standaarde van die Bybel opgevoed is om waarlik ‘kleurblind’ te wees”. Ter verduideliking hiervan het hy bygevoeg: “Hier is mense wat na ander se innerlike kyk, nie net na die kleur van hulle vel nie. Jehovah se Getuies vorm vandag die enigste ware broederskap van die mensdom.”

20. Waarom is Jehovah se Getuies so anders?

20 Hierdie kommentare toon dat daar ’n groep mense is wat hulle hart vir die Bybel geopen het en op wie God se gees werksaam is. Dit is opmerklik dat hulle dieselfde mense is wat ons vroeër geïdentifiseer het as dié wat gehoorsaam is aan Jesus se bevel om die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele wêreld te verkondig (Mattheüs 24:14). Waarom is Jehovah se Getuies so anders in hierdie opsigte? Op talle gebiede is hulle glad nie anders as ander mense nie. Hulle het dieselfde vleeslike swakhede, dieselfde geldelike probleme en dieselfde basiese behoeftes. Maar as ’n groep het hulle God lief, neem hulle die Bybel ernstig op en laat hulle dit ’n kragtige invloed op hulle lewe uitoefen.

21. Wat word bewys deur die feit dat ’n volk soos Jehovah se Getuies in vandag se haatgevulde wêreld kan bestaan?

21 Miljoene Getuies van Jehovah woon in meer as 200 lande. Daar is mense van elke denkbare ras, taal en maatskaplike stand in hulle geledere. Tog is hulle ’n verenigde, vreedsame, internasionale broederskap. Hulle is goeie burgers van die land waarin hulle woon, maar is allereers onderdane van God se Koninkryk, en hulle het almal ’n daadwerklike aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus van daardie Koninkryk. Dit is waarlik merkwaardig dat ’n groep soos Jehovah se Getuies in hierdie verdeelde, haatgevulde wêreld kan bestaan. Die feit dat hulle wel bestaan, is ’n oortuigende bewys dat God se gees steeds onder die mensdom werksaam is. En dit bewys dat die Bybel inderdaad “lewend en kragtig” is.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 177]

Die Bybel verander mense werklik

[Lokteks op bladsy 181]

Kennis van God beweeg ’n mens om soos hy te wil wees